Damsel:  ҆n fliek met vonk en vasbyt

[Annika van Zyl]

Met ‘n nuwe baadjie vir ‘n ou bekende, draai die 2024 Netflix-fliek, Damsel, die sprokieswêreld op sy kop. Dit is ‘n tradisionele verhaal vermeng met donker fantasie en Juan Carlos Fresnadillo se Damsel beloof om jou tot die einde te boei. 

Millie Bobby Brown, van Enola Holmes-faam, gee gestalte aan die hoofkarakter, Elodie, ‘n jong adellike wat die voortbestaan van haar gemeenskap kan verseker. Redding kom in die vorm van ҆n huweliksaanbod van ‘n welgestelde prins. Geleidelik word Elodie egter in ‘n hewige stryd gewikkel waar sy haar eie vaardighede en moed moet aanwend om te oorleef. Dit is die verkenning van veerkragtigheid, selfstandigheid en onbaatsugtige liefde wat aan die fliek ‘n unieke dimensie gee.

Die regisseur, Juan Carlos Fresnadillo bring ‘n vars blik op die genre met ‘n subtiele feministiese aanslag. Hoofrolle word vertolk deur vroue in die vorm van Elodie, die koningin en die draak, met laasgenoemde wat sentraal tot die tema staan.

Die aktrise, Millie Bobby Brown vertolk haar rol met oorgawe en oortuiging, alhoewel soms effe onnatuurlik en oordewe. 

Veteraanaktrises soos Angela Basset en Robin Wright verteenwoordig twee pole van ma-wees, liefdevol en empaties teenoor koud en selfsugtig. 

Die waaghalsige Elodie voer indrukwekkende oorlewingstoertjies uit alhoewel die visuele effekte soms oorverfraai mag voorkom. Damsel handhaaf egter ‘n mate van geloofwaardigheid wat dit onderskei van die tipiese Hollywood-blockbuster. Die oortuigende bewegings van die draak en die gebruik van lig dra by tot die algehele meesleurende ervaring van die fliek. 

Met ‘n vars aanslag, bied Damsel ‘n verfrissende benadering tot die tradisionele vertelling. Dit is ‘n boeiende avontuur met ‘n bemoedigende boodskap. Dit fliek daag nie net grense van die sprokiesgenre uit nie, maar ook die verbeelding van sy kykers.

Damsel laat jou met ‘n gevoel van bemoediging en veerkragtigheid. Dit gee hoop wanneer jy ondenkbare uitdagings in die gesig staar.

Rotten Tomatoes gee Damsel 56% met die volgende kommentaar: “Damsel is a decently made fantasy film and Millie Bobby Brown does well in the title role, although it’s easy to tell where the story’s going, and the CGI (computer-generated imagery) isn’t great.”

Damsel is beslis boeiend en verskaf ‘n uur en 50 minute se kykgenot. Of dit aan almal se fliek-fantasieë sal voldoen, bly ‘n ope vraag, maar die fliek bied beslis meer as slegs ligte vermaak. Geniet Damsel op die kleinskerm op die Netflix-toepassing, hierdie Mei.


Annika van Zyl

Annika  is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies  en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.