[Nienke de Vaal]
Die Herout het die voorreg gehad om hierdie kwartaal ’n kort en kragtige onderhoud met meneer Conradie te voer. Lees gerus om DF se skoolhoof ’n klein bietjie beter te leer ken.
Wat is Meneer se gunstelingdis en -nagereg?
My gunstelingdis is ’n lekker stukkie rump steak gebraai op die rooster. Wat nagereg aanbetref, is ek baie eenvoudig, ’n lekker roomys met sjokoladesous en so bietjie neute bygevoeg. Dit doen die ding.
Gunstelingdag van die week?
Saterdag. Ek hoef dan nie so vroeg op te staan nie (behalwe as my dogter my al vroeg laat hardloop). Dis net ’n rustiger begin van die dag. Jy kan jou oefeninge doen, terugkom, ’n draai maak by die dag se skoolaktiwiteite en dan so ‘n bietjie ontspan. Jy kan krieket of rugby kyk of ’n fliek of reeks geniet. Dan weet jy nog môre is daar nie skool of werk nie. So, Saterdag is my dag.
Gunstelingtydverdryf?
Om te draf is my tydverdryf. Ek probeer om gedurende my naweke die week se draf in te kry. Dit maak net jou kop oop, jy is rustig en dit is ’n goeie begin van die dag en die week.
Aan die anderkant, nie meer so gereeld nie, hou ek ook daarvan om die aandele dop te hou. Ek hou ‘n ogie om te sien wat aangaan met my aandeleportefeulje, maar ‘n mens het ongelukkig meer tyd nodig om van dag tot dag oppit te wees. Ek dink ek sal volgende jaar so bietjie meer tyd daaraan spandeer.
Gunstelingfliek?
Dances with Wolves met Kevin Costner. Dit is die eerste fliek wat ek saam met my vrou gaan kyk het op ons eerste afspraak. Dit bly ’n gunsteling. Ek hou nogal van reekse kyk en die flieks waarin Kevin Costner gespeel het of selfs die regie behartig het.
Gunstelingliedjie?
My gunstelingmusiekgroep is Smokie. So, “Living Next door to Alice” is een van my gunstelingliedjies.
Gunstelingvakansie-aktiwiteit of vakansie al beleef?
Om Europa te besoek. Ons was, met aandele se hulp in die verlede, bevoorreg genoeg om voor Covid elke twee jaar ’n bietjie oorsee te gaan. Dit is lekker om te gaan kyk wat daar in die verlede gebeur het, hoe ander mense leef en hoe ander sisteme werk. Ek het ook ’n groot liefde vir die ou argitektuur.
’n Gunsteling was ’n bootvaart in die Baltiese see. Ons was van Stockholm af na St. Petersburg, Helsinki, Tallinn en Riga. Dit was besonders. Dit was ook lekker om nie oor kos of verblyf hoef te bekommer nie. Jy stap net af, loop rond, en als wat jy nodig het, is daar op die skip.
Gunsteling-koue drankie vir warm somersdae?
Afgekoelde rooiwyntjie (so tipiese Gautenger)
Gunstelingaanhaling wat Meneer gereeld gebruik?
Wat klaar is, is klaar. As jy ’n taak of opdrag het, doen dit dadelik, moenie dat dit ophoop nie, want as dit klaar is, is dit klaar.
Gunsteling-Bybelvers?
“As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31)
Gunstelingaspek van skoolhoofwees wat Meneer die meeste gaan mis?
In skoolhou het jy met soveel mense te doen. Daar is baie energie in ’n skool en ek dink tog mense gee my energie, partykeer ook frustrasies, maar ek dink ek tap energie uit mense uit. Om so naby saam met ’n groep personeel en leerders te werk, is vir my lekker. As ek eendag nie meer skoolhou nie, gaan ek dit mis.
Baie dankie, Meneer Conradie en baie sterkte met hierdie laaste jaar.
Nienke de Vaal
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie flieks. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.