[Amé Breytenbach]
296 dae van die jaar is amptelik verby en tog voel dit asof die mossels net nou die dag by DF se deure ingstap het, DTBS se Flashes-beker net gister by ons kom bly het en 2026 nog soos ’n oop boek voor die opgewonde Dee-Effers lê.
Met ’n jaar wat oorloop van opwinding agter die rug, het die kwartaal se drie weke maar verbygevlieg. As dit voel asof die kwartaal jou voete ook van die grond af lig, is die Herout hier om jou weer terug te bring.
Die Dee-Effers se vakansie was alles behalwe rustig, met baie aktiwiteite wat hulle aan die gang gehou het – onder andere die seuns se hokkietoer na Nederland. Vreesloos 2026 se finaal het bewys dat DF werklik hét wat dit vat en die graad 11-groep op die Oranjerivier moes hulself ook dikwels daaraan herinner, alhoewel die ervaring beslis nie een is wat hulle gou sal vergeet nie. Gaan lees gerus Hanler van Eck se artikels oor Vreesloos en die Oranjerivier-avontuur om meer van hierdie gebeure te hoor.
Hardloop, spring en aanhoudende gesing. DF se interhuis was ’n laaste kans vir voornemende dirigente om hulself te bewys – en hulle het beslis nie teleurgestel nie. Na baie weke se oefen en medleys skryf, het Solaris on Fire, Rock ’n Roll Proteus en Artius at the Disco hul harte en longe uitgesing op daardie warm somersdag. Die atlete het net so goed gedoen en kan met ’n klomp nuwe medaljes spog, voor volgende jaar se DTBS-seisoen hulle hard aan die werk sit. Op die einde van die prettige dag het Artius sommer met die atletiek- én die geesbeker weggedans van die disco af. Gaan lees gerus Ella Smit se artikel as jy wonder wat hierdie ervaring vir elke huis se dirigente beteken het. Ons sê baie geluk aan ons nuutverkose DTBS-span en wens hulle alle sterkte toe met die voorbereiding van 2027 se Flashes-kreet.
DF se matrieks het hul oomblik op die rooi tapyt geniet en pragtig gelyk vir hul baie belangrike aand: die matriekafskeid. Na maande se wonder of jou rok reg gaan pas, en vir die seuns: “Moet ek nou regtig ’n das dra?”, het DF se matriekgroep van 2026 ons asems weggeslaan met hul elegante volwassenheid en persoonlikhede wat gegroei het tot ware dames en here. Met weer wat (vir eens min of meer) saamgewerk het, het hierdie groep gedans, gesing en gelag, en hul laaste afsluiting saam met hul vriende gevier.
Uitstapdag het offisieel die einde van ’n hoofstuk vir die matrieks aangekondig en hierdie dag vol trane en herinneringe het beklemtoon dat hulle altyd ’n stukkie van DF se hart saam met hulle sal dra. Hulle is egter reg om hul nuwe drome te gaan nastreef en ons wens die matrieks alle sterkte toe op die pad vorentoe.
Met die matrieks se laaste DF-hoofstuk wat tot ’n einde gekom het, is dit nou ook die graad 11’s se beurt om vorentoe te tree. Na ’n graad 11-dag wat eintlik heel ontspanne was in vergelyking met die onderhoude wat ’n paar van ons laat bewe het, is die nuwe leerderraad vir 2027 ook bekendgestel. Die verantwoordelikhede wat die seniorraad van 2026 so mooi hanteer het, daal nou vinnig op ons nuwe leiers neer, maar hierdie span skrik vir niks nie en is reg om dit met ’n groot glimlag aan te pak. Die Herout sê ook baie geluk aan die hoofleiers van 2027: Floris Kotze, Marina de Villiers, Michael Steffen en Zané Kotze. Ons wens julle en die leerderraad alle sterkte toe en glo dat julle DF net verder vooruit sal neem.
Dit is dan ook met ’n swaar hart wat die Herout van twee van die bestes moes afskeid neem. Mieke en Milandi is nou reg om die volgende hoofstuk in die groot wêreld daar buite te gaan aanpak en los baie groot skoene vir die volgende Herout-hoofredaksie om vol te staan. Mieke, ek weet dat ons almal jou vriendelikheid baie gaan mis. Die Herout – en ek – was bevoorreg om jou as ’n mentor te hê. Milandi, dankie vir al die ure wat jy aan die Herout se kuns en fotografie spandeer het. Jy het ons werklik laat skitter.
Dit is egter ook met groot trots wat ons die nuwe hoofredaksie bekendstel: Hanler van Eck sal steeds die Herout se webtuiste laat blink en Kristie Basson is die nuwe hoof van fotografie. Ek is bevoorreg om die posisie van hoofredaktrise te beklee en Emma Schneeberger en Izabelle Visser staan saam gereed as die Herout se subredaktrises. Hierdie spannetjie is reg vir die volgende jaar by die Herout en sien uit om dit net verder te verbeter.
Nou is dit ook weer die eksamens se beurt om aan DF se deur te kom klop. Met die tyd wat ewe skielik baie min begin voel, is elke Dee-Effer besig om te leer en te hersien (of so hoop elke onderwyser innig). DF, onthou om julle kant te bring en dan net jul beste te gee. Ons wens alle Dee-Effers ’n voorspoedige eksamen toe voor die langverwagte Desembervakansie uiteindeik kan aanbreek.
Ontmoet vir Emma:
Ek is die meisie wat dadelik ‘n boek uithaal sodra ons ’n afperiode kry en so verdiep raak in die storie dat die geraas van my klasmaats — en die onderwyser se stem — heeltemal verdwyn. Ek sê daagliks vir myself: “Nog net een hoofstuk”, terwyl my huiswerk geduldig lê en wag.
Vir my is dans al van kleins af ’n groot deel van my lewe. Daar is min plekke waar ek so tuis voel soos in my balletskoene. Ek is ook mal oor skryf, want soms kan ’n paar woorde die begin van ’n hele nuwe wêreld wees.
My geloof speel ’n belangrike rol in my lewe en ek is baie lief vir die tyd wat ek saam met my familie en vriende deurbring. Ek spandeer ook baie tyd buite, veral by die see, met die wind in my hare, sand onder my voete en die geluid van die branders in my ore.
Om op te som: Ek hou van boeke, ballet, die see en goeie geselskap. Ek is altyd reg vir ‘n spontane uitstappie, tensy my boek anders besluit.
Ontmoet vir Izabelle:
Ek is die tipe persoon wat eerder by die huis wil bly en na flieks kyk, in plaas daarvan om na ’n kuier toe te gaan – heeltemal ’n introvert en ‘n fliekliefhebber. Ek het altyd ’n leesboek by my en sal met enige kans wat ek kry, probeer lees. Skryf is vir my ’n lekker stokperdjie wat ek soveel as moontlik uitoefen. Alles wat met literatuur te doen het, vang my oog.
Ek bring die meerderheid van my tyd agter ’n skaakbord deur. Die sport is my passie vandat ek baie klein is. Ek is mal oor debat praat! Dit is werklik die beste manier om jou kennis oor verskillende onderwerpe uit te brei. My debatmaats beteken baie vir my.
Ek is enige tyd reg vir ’n stappie saam met my suster en ons honde of selfs net ’n stappie deur die berge. Wat is beter as om na die reeks wilde plante en landerye, wat onder jou strek, te kyk?
Ten slotte is ek iemand wat gaan waar die wind my vat, tensy daar ’n nuwe Marvel-fliek om die draai is. Skaak en debat is baie na aan my hart, maar die maats wat ek daardeur maak, is nader. Die Here, my familie en my vriende is al wat hierdie masjien nodig het om aan te hou draai.
Na ’n vierde kwartaal propvol avonture, het die Herout beslis ’n klomp stories om te deel. So, wanneer dit voel asof die laaste 69 dae jou voete onder jou wil uitslaan, sit terug en laat die Herout jou voete op die grond hou.
Amé Breytenbach
