Wat jy gemis het: Mnr. en Mej. DF ‘24

[Anika Burger]

Mnr. en Mej. DF is een van die opwindendste gebeurtenisse op ons jaarprogram en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Nadat hierdie jaar se tema, Rio Carnival, tydens saal aangekondig is, het DF-leerders, ouers, onderwysers en baie ander mense die dae afgetel tot 18 April en was beslis nie teleurgesteld toe die groot dag aangebreek het nie.

Na maande van baie oefen, opgewondenheid en geld insamel vir Aksie-Omgee het DF se finaliste uiteindelik daardie aand op die verhoog verskyn om vir ons te wys waaraan hulle so hard gewerk het.

Die gehoor is voorgestel aan Success Lekabe, wat weer hierdie jaar die rol as aanbieder vertolk het. Success is ‘n televisie- en radio-aanbieder en sy voel passievol daaroor om mense te help.

Die program het soos volg verloop: Ons finaliste het die konsert met ‘n dans afgeskop en daarna, met hul informele klere, vir die eerste keer die loopplank aangedurf. Volgende het hulle swart klere gedra saam met hul maskers, kopstukke of skouerstukke wat die finaliste self ontwerp en gemaak het. Na die pouse het die finaliste weer gedans en laastens het die tyd vir die formele drag aangebreek.

Na al hierdie afwagting en opwinding, het Success uiteindelik die wenners voorgestel. Mej. Persoonlikheid (Mieke Grobler), Mnr. Persoonlikheid (Marlo Human), die Debutant (James Laurence), tweede prinses (Ané de Villiers), tweede prins (Erian Vorster), eerste prinses (Ameli Raats) en eerste prins (Dirk Hagen). En laastens, is Keane Stewart as Mnr. DF en Karmi van Straaten as Mej. DF gekroon. Hierdie produksie het defintief die gehoor laat gons van opwinding en was sonder twyfel ‘n groot sukses.


Anika Burger

Anika geniet dit om tyd saam met vriende en familie te spandeer. By die skool is haar gunstelingvakke Engels, Duits en ontwerp. In haar vrye tyd is sy waarskynlik besig om te lees, musiek te luister of flieks te kyk.