[Jana Burger]
Tydens die Junie-vakansie het ‘n groep leerders van DF, Stellenberg en Tygerberg die geleentheid gehad om Duitsland, as deel van ‘n uitruilprogram met Wilhelmsgymnasium in Kassel, te besoek. Sedert die Duitsers se besoek aan Suid-Afrika in Januarie 2023, was die Suid-Afrikaanse leerders meer as gereed om weer hulle vriende aan die ander kant van die aardbol te sien.
Op 14 Junie het die Suid-Afrikaners hul reis na Duitsland begin. Twee vlugte en een treinrit later was die leerders in Kassel en almal kon uiteindelik saam met hul Duitse gasfamilies huis toe gaan. Die Duitsers is almal gawe mense met ‘n hart vir gasvryheid en die Suid-Afrikaanse leerders het vinnig tuis begin voel.
Erica Chen, ‘n SR-lid, vertel ook hoe vriendelik die Duitse bevolking is. Sy sê: “Hulle is ook baie nuuskierig om oor Suid-Afrika en veral Afrikaans te hoor. Hulle is vinnig om jou te help en jou by die geselskap te betrek.”
Saterdag en Sondag kon almal tyd met hul gasfamilies spandeer voordat die groep Maandagoggend na Berlyn vertrek het vir drie dae. Met behulp van meneer Klotz, ‘n onderwyser van Wilhelmsgymnasium en ‘n handjievol van die Duitse studente het die Suid-Afrikaners Berlyn in onder 72 uur platgeloop. Die Brandenburgse hek, die Siegessäule, die Gedächtniskirche en meer. Almal kon ‘n paar items van die bucket list afmerk.
Na ‘n besoek aan Duitsland se Bundestag, weet hierdie Suid-Afrikaners waarskynlik nou meer oor Duitsland se politieke sisteem as Suid-Afrika s’n. Die balans tussen kuns en wetenskap is ook bereik met besoeke aan die beroemde East Side gallery en die Futurium. Berlyn was ‘n geleentheid om jou geskiedkundige kennis oor die stad wat in vroeër jare deur ‘n muur verdeel is, te verbreed, sowel as om die lewendige kultuur van die area te ervaar.
Woensdagaand was almal terug in Kassel en Donderdag was die meeste van die leerders opgewonde oor hul eerste skooldag in ‘n Duitse hoërskool. Terug in Kassel het die meeste van die leerders hul eie aktiwiteite saam met hulle gasfamilies aangepak, maar die groep het mekaar wel nog by besoeke aan die Grimmwelt-museum, Hann, Munden, die Stadtmuseum en Schloss Wilhelmsthal teëgekom. Leerders wie se Duitse broer of suster hul Abitur (die Duitse ekwivalent van matriek) voltooi het, kon ook geleenthede soos Abizeugnisverleihung (gradeplegtigheid) en Abiball (matriekafskeid) ervaar. En selfs al neem hakke en ‘n aandrok onnodig baie plek in jou tas op, was dit beslis die moeite werd.
Op die laaste dag van die uitruil het die Suid-Afrikaners Bunter Abend vir die Duitsers gehou, as ‘n manier om hulle meer te leer oor Suid-Afrika en om dankie te sê vir die wonderlike tyd in Kassel. Die Duitsers weet almal nou wie Kurt Darren is.
Die Suid-Afrikaners het ook waardevolle inligting bekom en vaardighede aangeleer. Soos, dat mense in Duitsland werklik gebruik maak van voetoorgange, hoe die publieke vervoersisteem werk en dat Afrikaans blykbaar soos dronk Duits klink. Die Duitser wat hierdie laaste brokkie kommentaar gelewer het, was ironies genoeg self nie nugter nie.
Volgens Daniël du Plessis, ‘n graad 11-leerder in DF was sy gunstelingdeel van Duitsland, die gevoel van veiligheid.
“Op feitlik enige plek waar ek was, het ek geen angs of vrees gevoel nie. Of dit twaalfuur in die nag in ‘n park is en of dit helder oordag in ‘n besige stad is,” vertel Daniël.
Dinsdag, 2 Julie moes almal ongelukkig totsiens sê en die reis terug Suid-Afrika toe begin. Die Duitse uitruil was ‘n wonderlike geleentheid om lewenslange vriendskappe te skep, jou taalvaardighede te verbeter en die Duitse kultuur te beleef.
Auf Wiedersehen.
Jana Burger
Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.