[Emily Byleveld]
By DF Malan is gees die enkele ding wat ons vorentoe dryf om goed te doen. Maar waarom is gees so belangrik?
Gees skep eenheid en trots in die skool. Wanneer ons saamsing by die Big Brag of juig by interskole teen Bellville, is gees die rede waarom ons atlete en sportspanne hul harte op die veld uitspeel. Om gees te hê, is om trots te wees op ons skool en dit dryf ons vorentoe om elke wedstryd en kompetisie te wen.
Tydens Geesweek is die gees definitief op ‘n hoogtepunt en elke dag is ‘n viering van trots en oorwinning. Hierdie gees word uitgedruk deur haarlinte, gesigverf en snaakse brille. Wanneer ons ons onderwysers en leiers gees sien uitbeeld, inspireer dit vir ons leerders en maak ons al hoe meer trots op ons skool.
Dit is belangrik om gees tydens interhuis en interskole uit te beeld en op te wek, sodat ons mekaar kan motiveer wanneer dit kom by MTBS. Gees skep trots in ons harte en wanneer ons vol gees pomp, klop ons harte blou!
Alles is goed en wel wanneer ons fenomenaal op die veld, astro en baan presteer, maar wat van ons klaskamers, skryflokale en studeerkamers? Wanneer ons trots is op ons skool, is ons trots op die werk wat ons lewer. As ons mekaar nie net op die hokkieveld toejuig nie, maar ook in die Wiskunde-klas, kan ons veel beter as vyfde in die Wes-Kaap vir Wiskunde wees.
Dissipline, respek en gehoorsaamheid word ook baie verbeter wanneer ons trots is op ons skool en trots is op onsself sowel as mekaar.
Noudat ons weet hoekom gees so belangrik is, hoe kan ons dit bevorder en beter implimenteer? Deur ‘n kultuur binne die skool te skep waar dit die norm is om sportwedstryde en kultuurbyeenkomste by te woon en deel te neem.
Emma Steffen, ‘n lid van die graad 11-Raad van Leerders vir 2024, het die volgende te sê: “Ek dink dinge soos meer gereelde aandoefeninge vir medleys sal definitief help om gees in die skool te bevorder. As ‘n mens ‘n kultuur skep waar dit die norm is om geleenthede soos sportwedstryde of kultuuraktiwiteite te ondersteun, sal dit help om die gees in die skool te bou, want kinders sal meer verenig voel.”
Ek sou dit nie beter kon sê nie, Emma.
Gees is die een ding wat ons skool bymekaar bring en trots skep in Dee-Effers se harte. Dit is die suurstof in ons blou bloed, en die rede waarom ons elke dag opstaan om te wen. My mede-Dee-Effers van 2023: Kom ons eindig hierdie jaar met genoeg gees om die ander MTBS-skole se asems weg te slaan. My toekomstige mede-Dee-Effers van 2024: Kom ons skop volgende jaar af met genoeg gees en trots dat ons kan wen. Nie net op die veld, astro en baan nie, maar ook in die klaskamer, op die verhoog en in ons harte. Ons gaan 2024 ‘n jaar van gees en prestasies maak en ons gaan begin deur MTBS te wen. Nie net op die atletiekbaan nie, maar ook op die pawiljoen.
[Foto: Sune du Toit]
Emily Byleveld
Emily se gunstelingvakke is Engels en dramtiese kunste. Wanneer sy nie besig is met koor, debat, hokkie, orkes of tutor nie, skryf sy vir die Herout. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood.