Asemrowende afspraakidees

[Ellie Herbst]

So, jy het uiteindelik die moed bymekaargeskraap om daardie spesiale dame uit te vra en sy het ja gesê. Geluk! Maar nou het jy ’n probleem: Waarheen moet julle eintlik gáán?

Moenie bekommerd wees nie. Met behulp van ’n paar DF-dames wat ingestem het om hul menings te deel, sal dié artikel jou hopelik kan help om jou meisie te beïndruk.

Die meisies is gevra om die volgende klassieke opsies te gradeer op ’n skaal van een tot tien met redes.

Graderingsisteem (gemiddelde mening):

8.1 – 10: In die kol!

6.1 – 8: Steeds ’n treffer

4.1 – 6: Meh

2 – 4: Heroorweeg?

0 – 2: Asseblief nie.

Fliek

Koste: Duur

Gradering: Meh

 As dit die eerste keer is wat julle saam uitgaan, moet jy liewer aan ’n ander plan dink. Dit sal julle iets gee om oor te praat, ja, maar eers na twee ure van ongemaklike stilte waartydens jy probeer besluit of jy the move moet maak. Teen die einde van die fliek het julle niks nuuts oor mekaar geleer nie; julle het amper niks vir mekaar gesê nie. Jou beste hoop vir ’n tweede afspraak sou wees om vir haar kos te betaal. So, jy moet maar net hoop jy het genoeg geld in jou spaarrekening, want daardie fliekpeuselhappies is dúúr.

Restaurant

Koste: Gemiddeld/Duur (afhangend van waar julle eet)

Gradering: Steeds ‘n treffer

Dit is ’n klassieke opsie vir ’n rede! In ’n restaurant kan julle mekaar regtig leer ken: Watter tipe kosse hou sy van? Hoe behandel sy die kelners? Hoe behandel sy jou beursie? Dit is meer intiem as iets soos ’n fliek, omdat julle meer tyd het om met mekaar te praat, terwyl julle wag. Dit hang wel af van waar julle gaan eet: Hoe raserig is die restaurant? Hoe formeel moet julle aantrek en optree? Hoeveel kos alles? Is die kos self die geld werd? As jy ’n goeie plek kan vind, is daar ’n goeie kans dat die afspraak’n treffer sal wees.

Stap in die natuur

Koste: Goedkoop

Gradering: Steeds ‘n treffer

As jy jou oog op ’n avontuurlustige, natuurliefhebber het (en solank sy nie hooikoors kry nie), kan hierdie ’n baie goeie afspraakidee wees. Dit gee julle kans om met mekaar te praat, om vars lug te kry, saam te sukkel soos julle loop en mekaar alleen in ’n informele omgewing beter te leer ken. Daar sal minder mense en geraas rondom julle wees wat julle pla (wat veral goed is as jy ’n introvert probeer beïndruk).

 Piekniek

Koste: Goedkoop

Gradering: In die kol! (Dié opsie het die hoogste gradering ontvang.)

Soos in ’n restaurant, kan julle lekker saameet, maar in ’n omgewing met minder mense en ’n mooier uitsig. Afhangende van waar julle gaan, kan dit ’n baie romanties uitstappie wees en gelukkig is daar baie mooi natuurbewaringsplekke in die omgewing, soos Magic Forest en die Tygerberg Natuurreservaat. Julle kan in ’n meer informele omgewing gesels wat julle gemakliker kan laat voel, terwyl julle vars lug en sonskyn kry in ’n plek wat jou herinner hoe wonderlik ons planeet werklik is.

 Afspraak by die huis

Koste: Verniet/Goedkoop

Algemene indruk: Steeds ‘n treffer

Dit is ongelukkig die perfekte geleentheid vir die pes wat spook by alle eerste afspraak: ongemaklike stilte. Veral as jou ouers opdringerig gaan wees of jou jonger broers en susters gaan probeer afluister. As dit die eerste keer is wat julle saam uitgaan, bly liewer weg hiervan, maar as julle al ’n ruk saam is, kan dit beter werk. Julle kan saam musiek luister, videospeletjies speel of flieks kyk waartydens julle eintlik met mekaar kan praat terwyl julle dit kyk.

Strand

Koste: Verniet/Goedkoop

Algemene indruk: In die kol!

Gebruik die Kaap se mooi strande tot jou voordeel. Die Wes-Kaap se warm somers oor die Desembervakansie is perfek, veral as die meisie hou van swem. Die sonsondergange lyk soos iets uit ’n film en kan die perfekte romantiese atmosfeer skep, terwyl julle roomys eet. Vir ’n meer nie-tradisionele benadering, kan julle rommel optel,  terwyl jy luister hoe sy oor haar gunstelingseediere praat.

Winkelsentrumafspraak

Koste: Hang af van waar jy koop en of jy beplan om vir alles te betaal en of die meisie baie van inkopies hou

Algemene indruk: Meh

Dit hang regtig af van hoeveel geld jy het om te spandeer en hoe gewillig die meisie is om jou geld te spandeer. Die meeste deelnemers het een groot klagte: dit voel baie onpersoonlik. As jy self ‘n afspraak vir haar beplan, wil sy sien dat jy moeite gedoen het. Sy wil jou nie heeldag deur Tygervallei sleep nie. Jy gáán verveeld raak én bankrot, veral as sy van boeke hou. Julle gaan nie regtig kans kry om te praat nie, want winkelsentrums is ook baie raserig, besig en daar is te veel mense. Daar is wel die voordeel dat jy sal weet watter tipe dinge sy sou verkies as presente.

Ander idees:

In die laaste gedeelte van die onderhoud, is deelnemers gevra watter ander afspraakidees ideaal sou wees. Hier is ’n paar van hul antwoorde:

“Ek dink om iets soos klippe saam te gaan verf of ’n Clay Café te besoek, is ’n baie oulike afspraakidee, omdat dit jou toelaat om met mekaar te praat, maar daar is nog steeds tye waar julle stil kan wees en dit sal nie ongemaklik wees nie.”

“Ek dink ’n algemene afspraakis waar die paartjie iets kreatiefs gaan doen. Soos ’n kookklas, of Clay Café of iets. My jeugleiers het op ’n afspraak gegaan waar hulle prente van mekaar moes verf.”

“’n Baie oulike idee is as julle op die strand of êrens gaan sterrekyk, terwyl julle piekniek hou.”

Hopelik sal hierdie idees jou die nodige inligting gee om ’n spesiale meisie te beïndruk. Om af te sluit, ’n laaste stukkie advies van een van ons deelnemers:

“Solank die meisie net kan sien dat jy moeite gedoen het om dit vir haar lekker te maak, sal alles goed gaan.”

Ellie Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.