Ja, maar is daar Wi-Fi?

[Mia Nel]

In ‘n hoogs tegnologiese wêreld kan kommunikasie binne sekondes plaasvind. Ons sal verwag dat verhoudings as gevolg hiervan floreer, maar eintlik het tegnologie die teenoorgestelde veroorsaak. Alhoewel ons dadelike en vinnige toegang het tot gesprekke, het baie verhoudings met familie en vriende agteruit begin gaan.

Navorsing het bewys dat een uit elke vier kinders onder die ouderdom van agt alreeds selfone het. Dit is mos maklik as Mamma wil kos maak en Pappa wil rugbyei kyk, om net ‘n nuwe speletjie vir die kind te installeer om hom of haar besig te hou. Dit veroorsaak dat kinders baie minder, of selfs glad nie, buite speel. Om buite te speel, is uiters belangrik vir ‘n kind se kreatiwiteit, ontwikkeling, sosiale vaardighede, geestesgesondheid en oefening.

Al woon families onder dieselfde dak, is hulle in baie gevalle almal in hulle eie skerms verlore. Die tiener blaai deur TikTok, die kleuter speel speletjies op hulle tablet, die ma kyk deur Facebook en die pa is besig met sy videospeletjies. Baie families eet glad nie meer saam nie, hulle sit rondom die TV of in hulle kamers.

Daar is talle gevalle waar vriende mekaar afbreek of verraai vir aanlyn gewildheid. Dit is ook baie algemeen vir mense om ‘n groot aantal vriende of volgelinge op sosiale media te hê, maar nie te weet wie werklik agter die skerm is nie.

As gevolg van sosiale media, vergelyk baie meer mense hulself met ander. Daar word ook baie meer druk op verbruikers van hierdie platforms geplaas om soos die idiliese skoonheidstandaard te lyk. As jy nie daardie standaard vervul nie, voel jy uit.

Fisiese ontmoetings en kwaliteittyd word opgeoffer vir vinnige aanlyn geselsies wat geen diepte en intimiteit het nie.

Voor sosiale media, was dit ‘n lang, opwindende proses om iemand te ontmoet en hulle te leer ken. Deesdae kan jy met net ‘n paar klikke omtrent alles van ‘n persoon uitvind: hulle geboortedatum, stokperdjies, familielede, vriende en hulle verlede.

Mense vergelyk dikwels hulle verhoudings met wat hulle aanlyn sien. Byvoorbeeld, as iemand se maat hulle nie na luukse etes of op vakansies neem nie, voel hulle ontevrede. Private oomblikke in verhoudings word deesdae aanlyn geplaas omdat hulle op soek is na meer likes en volgelinge.

Almal vra net: ‘’Is daar Wi-Fi?’’ Regte verhoudings vereis egter baie meer moeite – iets wat met geen aantal likes kan vergelyk word nie.

Mia Nel

Mia is ‘n totale boekwurm wat verlore raak in ‘n goeie boek. Haar gunstelingkos is pasta en sy is mal oor groen.