[Lianel Lotriet]
Die Hoërskool DF Malan se netbalspanne het in April met groot opgewondenheid na Pretoria gereis om aan die gesogte Menlopark-netbaltoernooi van 2025 deel te neem – en hulle het beslis hul merk gelos.
Met meer as twintig spanne wat deelgeneem het, was die kompetisie straf, maar DF Malan se spelers het met trots en vasberadenheid op die baan verskyn. Die toernooi het oor vier dae gestrek. Die o. 15’s moes elke dag om sewe-uur reeds hul eerste wedstryd speel, maar het nooit die wit vlag gewaai en opgegee nie.
Een van die hoogtepunte van die eerste dag was die o. 19’s se wedstryd teen Hoërskool Diamantveld. Die spanning was tasbaar en toeskouers het in hul massas kom ondersteun. Die wedstryd was kop-aan-kop tot die laaste paar minute toe beide skole 19 doele aangeteken het.
Afgesien van die aksie op die baan, was daar ook stalletjies met kos, verversings en plaaslike handewerk wat bygedra het tot die lewendige atmosfeer. Oud en jonk het die dae kom geniet.
Wat is Pretoria sonder ‘n bietjie stormweer? Op dag twee en drie het Pretoria sy ware kleure kom wys met donker wolke en brullende donderweer. Dit het ongelukkig daartoe gelei dat van die dogters se wedstryde gekanselleer moes word.
Baie dankie aan Hoërskool Menlopark vir hulle gasvryheid en vriendelikheid. Die meisies het gedurende die toernooi in Menloparkse koshuis gebly en dit vreeslik geniet. Die kos was heerlik en het die spanne sterk en gesond gehou.
Ons sien baie uit daarna om weer volgende jaar hierdie wonderlike geleentheid by te woon. Volgende keer verf ons daardie bane met blou, geel en wit.
Lianel Lotriet
Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar dikwles op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.
