[Nicolas Minnaar]
As ’n trotse swemmer van DF, kan ek eerlik sê dat swem by ons skool iets besonders is. Dit gaan nie net oor medaljes en kompetisies nie – dit gaan oor spanwerk, deursettingsvermoë en ’n gedeelde passie vir die water.
Tog sien ons jaar na jaar dat daar steeds te min leerders is wat saam kom swem. Dit is veral ’n jammerte, aangesien ons swemspan soveel potensiaal het – bewyse daarvan is reeds sigbaar.
DF Malan het onlangs aan twee groot galas deelgeneem, die A-liga gala en die Inter High Combined-gala wat op 6 Maart by Hoërskool Rondebosch gehou is. Alhoewel ons nie bo-aan die punteleer was nie, het individuele swemmers steeds uitstekend presteer. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Daniel van Zyl, een van ons top-swemmers. Hy het nie net by hierdie galas uitgestaan nie, maar ook landwyd presteer tydens die Suid-Afrikaanse Junior Nasionale Swemkampioenskappe. Sy prestasies is ’n inspirasie vir almal van ons en bewys dat DF wel swemsterre het wat op die hoogste vlak kan kompeteer.
Wat swem by DF só lekker maak, is nie net die kompetisie nie, maar die atmosfeer. Almal is altyd vol gees en motiveer mekaar om beter te doen. As ’n span ondersteun ons mekaar deur dik en dun. Dis ’n plek waar jy vriende maak en trots kan wees op jou skool.
Die swemseisoen begin sterk in kwartaal 4 en hervat weer in kwartaal een, maar dit is juis dan wanneer ons sukkel om genoeg swemmers bymekaar te kry. Ons het die gees, deursettingsvermoë en talent – nou kort ons net meer mense wat bereid is om saam te swem en deel te word van iets besonders.
So, as jy nog twyfel of swem vir jou is – gee dit ’n kans. Kom kyk self hoekom ons sê: by DF is swem meer as net ’n sport.
Nicolas Minnaar
Nicolas is ‘n passievolle skrywer wat woorde gebruik om stories te vertel en sy emosies deur skryfwerk vas te vang. Sy liefde vir skryf het hom geleer om met nuwe oë na die wêreld te kyk.