Hou jou kop bo water met die Herout

[Nienke de Vaal & Mieke Verster]

Met ons skoolskoene diep in kwartaal twee se waters, hoop ons niemand het al uit die bootjie geval nie. Tussen al die mondelinge, toetse, take en naweke van sport en kultuur het DF beslis nie rustig agteroor gaan sit en tande tel nie. Hierdie bedrywige uitgawe van die Herout loop oor van artikels om van te kies. So swem gerus tussen die branders van hierdie uitgawe.

Ons het die bedrywige kwartaal afgeskop met die Mnr. en Mej. DF-finaliste wat ons terug na die glinsterende Hollywood toe geneem het. Dit was ‘n aand om nooit te vergeet nie. Van opwindende danse tot rokke wat jou mond op die grond gelaat het, is ons almal geïnspireer om daarna ons eie catwalks by die huis te gaan oefen. Alhoewel al die finaliste in ons oë ‘n Oscar verdien, kon slegs een met die goue kroon en titel wegstap.

Ons sê baie geluk aan Colin Burger en Lisa van der Merwe wat as ons Mnr. en Mej. DF van 2025 aangewys is en die gehoor en beoordeelaars verstom het met hul danspassies en modekeuses. Lisa is ook aangewys as die debutant van die kompetisie, met Gia Janse van Rensburg as eerste prinses en Stella Kretschmer as tweede prinses. Saskia Schräder en Carlu Pienaar is as Mej. en Mnr. Persoonlikheid gekroon en Daniël Wiese en Eben Bester as eerste en tweede prins. Hierdie glansgeleentheid is een vir die boeke en ons sê baie dankie aan juffrou Filmalter en haar span wat dit moontlik gemaak het.

Ons het ook die voorreg gehad om ons taal se 100ste verjaarsdag hierdie kwartaal te vier. Met ons onderwysers wat met hul gunstelingwoorde op hul T-hempde gespog het tot ons Instagram-blaaie wat gebombardeer is met idioomraaisels, het Afrikaans definitief die dag gekry wat sy verdien het. Buitendien, dié dag het vir ons gewys dat daar definitief meer as 44 mense is wat nog Afrikaans praat en hoe trots ons kan voel op ons interessante en diverse taal. Gaan lees gerus Lisemarie van Dyk en Mieke Verster se artikel oor ons taal se geskiedenis en watter woorde jy in jou volgende opstel kan gebruik om juffrou Thiart van oor tot oor te laat glimlag.

DF se hart klop vir kultuur. Kultuurweek wat gestrek het van 5 tot 10 Mei het hierdie stelling bewys – die koor, blaasorkes, kuns, dans, drama, debat en spel. Die week is gevul met vermaak vir almal se voorkeure. ’n Hoogtepunt was Woensdagaand se Fyn Klanke met Frieda van den Heever waar die DF-musiekleerders, koor en kamerkoor saam met Frieda die gehoor betower het. Die koor gaan ook binnekort aan die ATKV-Applous deelneem en ons wens vir hulle baie sterkte toe.

Buiten DF se trotse kultuur, moet ons nie van die sport vergeet nie. Met hokkie, netbal, rugby en landloop, om net ’n paar te noem, wil ons graag ook erkenning aan die hardwerkende sportmense gee. Dee-Effers, kom ondersteun by wedstryde. Daag op in massas sodat die opponente net ’n see van blou op die pawiljoen kan sien.

Spookhuis … die gruwelaand van die jaar. Op die bewolkte en reënerige aand van 10 Mei het die graadaggies die donker gange van DF aangedurf. Die matrieks het al dae voor die tyd beplan hoe hulle die skoolgebou in ’n speelgrond vir skrikmaak gaan omskep. Hopelik kon die graadaggies daardie aand nog slaap.

Nog iets wat almal laat bibber en bewe van vrees, is die eksamens wat op die horison lê. Met mondelinge, praktiese evaluerings en toetse wat ons almal in die gesig staar, gaan tydsbestuur hierdie kwartaal jou beste maat moet word. Moet dus nie wag tot die laaste minuut om daardie taak in te gee nie en begin al vooraf beplan wanneer jy wat wil klaar hê. Maak ook gebruik van die skool se hulpbronne, soos tutorklasse wat in die middae aangebied word en kom ons hou DF se akademiese rekord hoog. 

Hierdie uitgawe van die Herout is amper so bedrywig soos ons tweede kwartaal en bevat ietsie vir almal. So as jy voel jy sink onder die rowwe waters van hierdie kwartaal, vat gerus ‘n blaaskans en geniet een van ons interessante artikels.

Nienke de Vaal & Mieke Verster

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig.