[Isabel Roux]
Ek het onlangs die geleentheid gehad om met die wonderlike Mila de Villiers te praat. Sy vertolk die rol van Sunette op Showmax se Reënboogrand, is deel van DF se matriekklas van 2020 en ook ‘n MTBS-dirigent. Sy het ‘n paar interessante stories gehad om te deel.
Hoe vereenselwig jy met Sunette?
Ek voel ek was op ‘n manier baie soos Sunette toe ek op skool was. Ek het dit baie geniet om te leer, ek het van sport gehou en ek was ook definitief baie betrokke by die kultuur in DF. Soos Sunette, was ek ook baie veelsydig, maar ek het net in sommige aspekte regtig uitgestaan en die ander aktiwiteite het ek gedoen omdat ek dit geniet het. Ek dink wel dat ek meer ontspanne as Sunette is, want sy neem dinge baie ernstig op, waar ek die lewe meer geniet en my nie laat onderkry deur die klein goedjies nie. Ek dink ook nog ‘n manier hoe ek vereenselwig met Sunette, is dat sy lojaal is en altyd net die goeie goed in mense wil raaksien.
Wat het jou geïnspireer om ‘n aktrise te word?
Ek het nog altyd ‘n passie vir drama gehad. In my kinderjare was ek altyd besig om te sing of het ‘n eisteddfod gehad of ek het sommer net voor my ouers opgetree. As ek by familie was, was daar altyd iemand wat ‘n storie vertel het en daar was altyd optredes betrokke. Dit is hoe ek grootgeword het, so ek was al van kleins af blootgestel aan die idee van ‘n aktrise word. My ouers het my eintlik aangemoedig om drama te gaan studeer en ek sal vir ewig dankbaar wees dat hulle my passie ondersteun het.
Wat is van jou gunstelingoomblikke op Reënboogrand?
Een van my gunstelingoomblikke was toe ek en Minke Marais, wat die rol van Sunette se suster, Shani vertolk, vir die eerste keer deur die skool gestap het waar ons die reeks verfilm het. Daar was oral groot Hoërskool Reënboogrand-borde en die hele skool is verander in Hoërskool Reënboogrand. Ek onthou ek en Minke het in stilte deur die skool gestap, hand aan hand. Ons was geskok, want hierdie hele projek het uiteindelik gevoel asof dit regtig gebeur en nie asof dit net ‘n droom was dat ons in ‘n TV-reeks sou speel nie.
Vinnige vrae:
Wie is jou gunstelingmusikant?
Zaho de Sagazan
Wat is jou gunstelingliedjie?
Every Breath You Take deur The Police
Wat is jou gunstelingkleur?
Pers
Katte of honde?
Honde
Wie is jou celebrity crush?
Ruan Wessels wat die rol van Rikus in Hoofmeisie vertolk
Wat is jou gunstelingfliek?
La La Land
Ek hoop dat julle, die lesers, met hierdie artikel agtergekom het dat geen droom te groot is nie en dat julle, net soos Mila, al julle grootste drome kan bereik.
Isabel Roux
Isabel is die steoreotipiese tienermeisie. Sy spandeer graag tyd in haar kamer om te luister na Phoebe Bridgers en Taylor Swift en boeke te lees. Sy streef ook daarna om eendag ‘n crazy cat lady te wees.