[Kobus Strydom]
Word jy geboelie? Ken jy iemand wat geboelie word en wonder jy wat om te doen?
Boeliegedrag is die herhaaldelike en opsetlike vernietiging van iemand se selfbeeld. Tradisionele boeliegedrag het afgeneem, maar kuberboeliery en skinderstories is aan die toeneem. Boeliery kom meestal voor tussen die juniors van ons skool.
Het jy al gewonder hoe die meeste mense geboelie word? Die internet of sosiale media is die algemeenste vorm van boelie en anonieme skrywers voel gemakliker om ander op so ‘n manier te terg. Dit is baie makliker om ander te terg wanneer hulle nie weet wie jy is nie. Boonop is daar bekendes wat ’n slegte voorbeeld vir ons jeug stel – byvoordeeld Andrew Tate, met sy kultuur van toksiese manlikheid wat mense aanhits om soortgelyke gedrag te beoefen.
Leerders wat geboelie word, kan deur boeliegedrag afgebreek of gemotiveer word. Die meeste van die tyd daal leerders wat geboelie word se akademiese prestasie omdat hulle sukkel om te konsentreer. Die leerders kan byvoorbeeld sukkel om te studeer sonder om aan die boelie se negatiewe woorde te dink. Sommiges begin die boelie se woorde glo. Party leerders word gemotiveerd om die boelie verkeerd te bewys.
DF Malan skep baie verskillende geleenthede om boeliegedrag te voorkom en sien boeliery as onaanvaarbaar, asook as ’n vlakvieroortreding. Die skool probeer op verskeie maniere om boeliegedrag te voorkom. Daar word gereeld in die saal daaroor gepraat, inligting word op verskeie platforms gedeel en die skoolrade word betrek om met die leerders te praat – soos die periodes waartydens matrieks met die graad 8’s kan gesels.
As jy geboelie word, moet jy dit rapporteer aan iemand wat jy vertrou, soos ’n onderwyswer, mentor, voog of ‘n Raad van Leerders-verteenwoordiger. Jy moet nooit terugbaklei nie – laat die skoolsisteem jou beskerm. Al word jy nie geboelie nie, is dit jou verantwoordelikheid om boeliery te rapporteer. Dit is ons almal se probleem.
Wat gebeur met boelies wat gerapporteer word? Dis belangrik om in ag te neem dat boelies mense is wat hulp benodig en wat dalk ook in die verlede geboelie is. Nadat ’n boelie gerapporteer is, word ’n tribunaal gehou waartydens die ouers ingeroep word sodat ‘n plan uitgewerk kan word om die probleem op te los. As die boelie aanhou met die gedrag na afloop van die tribunaal, word die boelie tydelik geskors om ander leerders te beskerm en ’n dissiplinêre verhoor word gehou.
Moenie moed verloor indien jy dalk geboelie word nie, want daar is hulp. Praat net en jy sal gehelp word.
Kobus Strydom
Kobus is ‘n gr. 8-leerder en sy gunstelingvakke is natuurwetenskap en Afrikaans. Hy neem deel aan debat, skaak en hokkie. Hy versamel ook munte.
