’n Bloubloed bundel met ’n boodskap van hoop

[Sandrine Steyn]
31 jaar gelede sit Nadine Claassen vir ’n laaste jaar op DF se skoolbanke. Ses jaar gelede ontdek sy vir die eerste maal haar passie vir digkuns. Drie jaar gelede publiseer sy haar debuutdigbundel: Loot.


Tydens ons onderhoud, vertel sy haar digtersverhaal met ’n hart wat met oorgawe aan ander ’n brokkie hoop wil deel. Haar blou bloed versterk boonop die boodskap en inspirasie waarvan haar lewe getuig: Jy sal jouself nog gedurig verras; wees versigtig om nie jouself en jou toekoms in te perk op grond van ’n huidige persepsie van jou vermoëns nie.


Dit is ook wonderbaarlik om haar storie te aanskou. Haar digtalent is deur die Here as ’n gawe geskenk. “Elke gedig is spesifiek geskryf om ander te seën,” brei sy verder uit. Loot, sowel as haar tweede bundel, Roos, is gegrond op die konsep van “groei in geloof”.


Nadine is in besonder hartstogtelik oor die ongerepte natuurskoon van ons land en spesiefiek Hermanus, waar sy tans woon. Die natuur is vir haar ’n groot bron van inspirasie en gevolglik begin sy haar daaglikse roetine met ’n wandeling teen die see af. “Dit is ’n kosbare tyd saam met die Here, wat die woorde aan my geskenk het.” So ook word die see as onderwerp deurgaans in haar werke betrek. Sy stel dit van nature poëties en ontbloot iets van die natuurlike talent wat sy koester. “Die see is ook ’n magiese meesterstuk wat deur my gedigte golf en breek. Ek skryf dit wat ek van Sy wonder beleef!”


Alhoewel hierdie bloubloed-digter nie op skool ’n bewuswording van haar skryftalent ervaar het nie, is haar unieke skeppingsreis wel aangevuur deur die vlammende passie van ’n Afrikaans-onderwyseres, Sebastine Pretorious. Nadine getuig met groot aanhang van die kennis en taalversorging wat deur hierdie figuur aan haar oorgedra is: “Sy maak ons taal lewend!” Nadine deel ook haar wyshede aangaande God se tydsberaming. “Die gawe is op presies die regte tyd aan my uitgedeel – toe my liefde vir God vlam gevat het en ek dit uit my perspektief kon weergee. En dié tydsberekening is anders vir elkeen.”


Hartsnare word landwyd geroer deur haar poësie; woorde is kunstig verweef met die natuur om die kernsake van menslikheid – sonnig en opreg – op te diep. Hierdie uitsonderlike digbundel is eweneens tot ’n eenheid saamgesnoer met kunswerke wat spesiaal na aanleiding van die betrokke onderwerpe geskep is. Vanessa Liebenberg het die illustrasies vir Loot en Roos behartig en deel boonop ook ons blou bloed as oud-Dee-Effer. Sy en Nadine was saam in die klas van 1994 en het met die samewerking vir hierdie publikasie ’n hegte vriendskap gesmee. Nadine vertel opgewonde oor hoe sy met die eerste oogopslag van Vanessa se kunswerke geweet het haar kunsstyl is perfek vir die bundels.


Daar is twee van haar eie gedigte wat Nadine beskou as ’n “wordingsportret” van haarself. “Vrouwees” en “Weerkaatsing”, beide in die bundel, Loot, verwoord haar verwondering vir die verandering wat die Here in haar teweeggebring het. Die hoofdoel van haar gedigte is om die vreugde, onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, wat deur die Here verteenwoordig word, aan ander oor te dra. Sy beskou die proses van dig as ’n sielsverryking of die wil om dieper te delf. “Die vorming van woord en rym het ’n ritme wat resoneer met die siel.” Vir Nadine is dig nie net terapeuties nie: dit skep ’n spasie waarin sy volkome heel voel.
“Dit bring ’n diepe dankbaarheid om in my roeping te loop en my doel hier op aarde saam met Hom te voltrek.”


Na afloop van die onderhoud, laat Nadine ’n laaste wenk aan Dee-Effers. “Volg die Stem binne-in jou,” sê sy, “en wees braaf! Neem die eerste stap – skryf dit neer. Jy sal nie spyt wees nie!”

die Verlosser in
saffraan
met geur so
wonderbaar
kassia en kalmoes
vul die skrale
aandlug
die olie van
beloofde Blom
drup duursaam uit
Sy ope wond
nuwe lewe spruit
uit Gesalfde aan
die kruis

Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek.