Ek het hoop

[Ellie Herbst]

Ek het hoop

Al is ek pessimisties

Al lag ek wanneer ek eintlik wil huil

Al is ek moeg geveg

Al voel ek lam

Het ek hoop as ek na jou kyk

Jy’t bloed op jou knieë

Stof op jou hande

Maar vuur in jou oë

En jy stap verder

Hoop

Is ’n besluit om aan te hou stap

Om aan te hou swoeg

en sweet

Aan te hou steun

en kreun

Want jy gaan nie toelaat

Dat die wêreld jou breek nie

As daar ander mense in die wêreld is soos jy

En ek hoop daar is

Kan dit nie so erge plek wees nie

En as jy in my toekoms is

Hoe bleek kan dit werklik wees?

Ellie Herbst

Ellie is die gr. 9-leerder wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.