Skool – maar daar is visse

[Naomi Deacon]
Daar word jaarliks ’n Marienebiologiekursus by die Twee Oseane Akwarium vir graad 8’s en 9’s aangebied. Hierdie kursus handel oor die see en die organismes daarin. Dit vind gewoonlik tydens die Junie-vakansie plaas en word deur ’n groep van ongeveer 40 leerders uit verskillende skole en agtergronde bygewoon.


Op ’n tipiese dag by die week-lange kursus het die leerders om 9:30 by die akwarium opgedaag. Die leerders het toegang gehad tot een van die I&J-oseaanuitstalling se vensters, wat nie vir die publiek oop was nie. Hulle het daar gestaan om vir die visse te kyk en hul nuwe vriende te leer ken.


Sodra almal opgedaag het, het die leerders by ’n klaskamer ingegaan en in groepe van ses gaan sit. Tot en met pouse, wat ongeveer 12:00 was, het die onderwysers oor verskeie temas gesels en lesse aangebied.


Tydens pouse is leerders toegelaat om deur die akwarium te stap en die verskillende uitstallings te besoek. Die leerders het hierdie tyd gebruik om mekaar beter te leer ken. Hulle het almal een ding in gemeen gehad: ’n liefde vir die see.


“Ek het die kursus bygewoon omdat ek graag ’n marienebioloog wou word en ek gedink het dat dit ’n goeie plek sou wees om te begin. Ek wou ook mense leer ken wat dieselfde belangstellings as ek gehad het. Die mense in my groep was ongelooflik, en oor die algemeen was almal baie vriendelik en gaaf,” het Oren Manning (een van die leerders) gesê.


Na die pouse het die onderwysers nog lesse aangebied, wat eksperimente ingesluit het. Die leerders het verskeie temas tydens die kursus verken. Die aanbieders is ook meer vertel oor loopbaanrigtings wat met die oseaan, seediere en plantlewe, sowel as die abiotiese faktore wat ekosisteme onder die see beïnvloed, te doen het.


Die meerderheid van die kursus het in die klaskamer plaasgevind. Onderwysers het voor in die klas gestaan en inligting gedeel terwyl die leerders notas geneem het. Leerders het elke tweede dag ’n informele toets geskryf om hulle te motiveer om die inligting ordentlik in te neem.


Die leerders het ook baie eksperimente en visuele aktiwiteite gedoen wat hulle geleer het hoe om verskeie apparate te gebruik en as ’n span saam te werk. Hulle het oor waterdigtheid geleer deur vloeistowwe met verskillende digthede op mekaar te gooi en te sien hoe dit skei. Daar is ook meer oor verskillende weekdiere geleer, toe hulle die ruggraat van ’n pylinkvis moes verwyder.


Tydens ’n uitstappie na Muizenberg het die leerders verskillende seewatermonsters geneem en toetse daarop gedoen. Aan die einde van die kursus moes die groepe ’n taak doen, waarin hulle ’n wetenskaplike verslag oor ’n eienskap van seewater moes skryf en as ’n mondeling aanbied.


“Ek het dit geniet om ’n vis te dissekteer om na sy organe te kyk,” het Kaih Williams (een van die leerders) gesê.


Die onderwysers was hoofsaaklik mense wat by die akwarium werk en diere versorg. Hulle het elkeen ’n spesialisarea gehad en het gedeeltes van hul kennis met die leerders gedeel.


“Ek het besluit om vir die kinders te leer oor marienebiologie omdat dit vir my belangrik is dat mense bewus is van die see en die lewe daarin. As mense kennis oor die see het, kan dit hulle help om slim besluite te neem oor hul loopbane en ander dag-tot-dag keuses,” het een van die onderwysers gesê.


Selfs al wil jy nie ’n loopbaan volg wat iets met die see te doen het nie, is dit steeds belangrik om kennis daaroor te hê sodat ons ingeligte besluite kan neem. Die Twee Oseane Marienebiologiekursus is ’n goeie manier om hierdie inligting te verkry. In Oren Manning se woorde: “Dit is regtig vet pret!”

Naomi Deacon

Naomi bring haar skooldae met ’n neus in haar boek en ’n pen in haar hare deur. Die verf op haar hande spreek boekdele oor haar kreatiwiteit, maar as dit groen is, is dit van die plantjies wat sy kweek.