Los of vas – hoe wil jy dans?

[Lynn-Marie Louw]

Om in die hoërskool na ’n dans toe te gaan, begin en eindig nie by die klere wat jy gaan dra nie. Die fisiese dans laat jou saans wakker lê. En dalk nog meer angswekkend – die “saam met wie”?

Ons was al almal in die situasie waar ons moes beplan saam met wie ons na ’n junior- of seniorbal toe moes gaan. En eintlik is daar net twee opsies: jy gaan saam met ’n groep maats óf ’n potensiële méér as net ’n vriend(in). So, hoe besluit jy? En watter besluit gaan sorg vir ’n onvergeetlike aand?

Die antwoord lê versteek in die maniere hoe ’n mens tipies kan dans, naamlik:

1. Die klassieke lyn-dansies
Hier volg almal dieselfde patroon. As jy ’n stap vergeet, is dit maklik om in enige rigting te kyk en iemand in die groot groep raak te sien wat wél weet wat hy of sy doen. Die klem is hier op die groep.

2. Die danssirkel
Hier kan jy lag en jy gaan bloos. In ’n groot sirkel gaan maats een vir een na die middel toe en dans die malste dansies! Hoe kom jy in die middel? Jou vriendin met die selfvertroue van ’n leeu trek jou natuurlik in.

3. Langarm dans
Van ’n groot groep verander dit nou na twee mense toe. Een wat die leiding neem en een wat volg. Word daar op ’n toon getrap, is daar net een stel oë waarin jy kan terugkyk.

4. Die muurblommetjie
Hier word daar van ’n afstand gekyk en dalk met ’n voet ritme gehou. Kyk jou oë krities of verlangend? Wat gaan dit neem om jou middel toe te trek? ’n Oop hand?

Dans het glo net goeie gevolge, waarvan stresontlading juis een is. Hoe op aarde bring ‘n mens dan dié twee bymekaar?

Die antwoord: vriendskap.

Sou jy na ’n dans toe gaan saam met ’n groep vriende, sal jy kans sien om bietjie simpel op die dansvloer te lyk. Jou maats lag saam met jou – nie vir jou nie. En as jy saam met iemand spesiaal gaan, moet die basis van julle verhouding gebou wees op niks anders as vriendskap nie. Saam met jou dansmaat, moet jy nooit probeer om enige iemand behalwe jouself te wees nie. ’n Ware vriend of vriendin sal nie omgee of jy twee linkervoete het nie. Hulle sal net hardop saam met jou en Myles Smith wil sing:
“If you wanna dance, take my hand, take my hand
Cancel all your plans, take a chance, take a chance
Ain’t got forever
We only got today
If you got a night to feel alive,
then baby, stay.”

Los of vas is dan nie eintlik die vraag nie. Dis net belangrik dat jy wel dans!

Lynn-Marie Louw

Lynn-Marie is ‘n boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.