iPad’s in die skool – reg of weg?

[Cara Booysen]

Is dit waar dat die toestel wat gesorg het vir ure se vermaak in jou kinderjare, jou na akademiese herlewing kan lei? Sommige mense sê nee, ander sê ja.

iPad’s se hoofgebruik vir skool is om notas te neem. Jou skryfboeke en potloodsakkie word vervang deur een skerm. Goodnotes is ‘n gewilde toep-keuse vir notas neem. Freeform is ‘n toep wat met die bedryfstelsel afgelaai word en het, soos Goodnotes, die witbord-funksie wat ‘n ewige bladsy in alle rigtings is. ‘n Groot voordeel van tablette vir notas neem, is dat jy nie net vervelige lyste en paragrawe op ‘n A4-bladsy hoef in te neem nie. 

Volgens Justin Sung (se YouTube-kanaal) is vloeidiagramme met minder woorde beter vir effektiewe leer. Sung beveel aan dat jy jou vloeidiagram met kriptiese beskrywings van onderafdelings maak. Trek pyle en verbind afdelings wat betrekking het met mekaar. Hierdie metode laat toe dat jy jou studiemateriaal visualiseer en meer tyd en aandag kan gee aan wat jou onderwyser sê in die klas. Nie alle klasse is aangepas vir hierdie styl van notas neem nie, maar dit sal jou help om jou studies te optimaliseer.

Daar is baie meer gebruike van tablette as wat ‘n mens sou dink. Hulle bedryfstelsels is ontwerp om veelvoudige take te vervul. Jou iPad of tablet is jou lêergidsstruktuur, jou biblioteek en jou vermaaksentrum. Op jou skerm het jy talle hulpbronne wat jou persoonlik en akademies kan verryk, jy moet net weet hoe om reg te soek daarvoor. 

‘n Mens kan geen produk verkoop sonder om na die nadele te kyk nie. Eerstens is die kostes van enige tablet, Apple, Android of Microsoft, hoog. iPad’s se pryse strek van R6 000 tweedehands tot R51 000+ nuut. The Tech Chap (se YouTube-kanaal) het elke model vergelyk en hulle eienskappe geregverdig vir die funksies wat hulle verrig. Ek sou voorstel dat enigiemand wat ‘n tablet vir hulle skoolwerk oorweeg, hierdie video sal bestudeer.

Omdat alle hulpbronne beskikbaar is op een skerm, maak dit ook die deure oop vir afleidings, soos vermaak en speletjies. Uit ervaring sal ek jou kan aanraai om jou tablet gefokus te hou op akademiese doeleindes en nie speletjies of sosiale media daarop af te laai nie. 

Na afloop van my navorsing het ek ook opgemerk dat ‘n paar leerders papiernotas verkies, hetsy hulle digitale notas vantevore al uitgetoets het of net nie van die konsep van op ‘n skerm skryf hou nie. 

Tablette vir skoolwerk in in DF ‘n vergunning vir seniors. Baie leerders het al in die verlede so skoolgegaan en die getalle hou aan styg. Diegene wat tablette vir hul skoolwerk gebruik, sal dit waarskynlik aanbeveel. Mia Ferreira is die SR-sekretaris en sy gebruik self al ‘n rukkie haar iPad. 

“My iPad maak daaglikse take baie vinniger. Inligting is ook makliker beskikbaar. Take en huiswerk is makliker om te doen en dit is meer gerieflik, want ek dra net ‘een boek’ rond. My sekretariswerk vir die SR is baie meer georganiseerd en ek kan my inligting makliker elektronies deel.”

Die groot vraag is of iPad’s die moeite en uitgawe werd is. Indien jy die voorreg het om een te kan kry, sal ek dit beslis aanbeveel. Ouer of eenvoudiger iPad’s en ander tablette sal presies dieselfde funksies verrig as ‘n nuwe en beter model. Dit sal van jou afhang of jy die meeste van só ‘n geleentheid vir jou akademie kan maak. 

Cara Booysen

Cara is ‘n matriekleerder wat dit af en toe geniet om te skryf. Sy geniet dit om tyd te spandeer in die skool se tuine en leef haarself uit op kultuur- en leierskapgebiede asook in haar eie wêreld.