[Angelina Smit]
14 Januarie is die datum waarvoor almal gewag het omdat dit die eerste skooldag by elke skool is. Dit was ook die eerste dag by DF Akademie vir die nuwe graad 8’s – 2026 se mossels.
Op die eerste dag van die graad 8-oorbrugging was ek so bang vir skool soos ‘n bok vir ‘n skoot hael. Ek kon voel hoe my hart angstig teen my ribbekas klop. As jy deur die hekke van DF sou stap, sou jy links en regs “Kyk af!” van die matrieks hoor en hier en daar “Sit albei jou tas se straps op!” Ek dink nie ek was al ooit so bang vir haargel nie. Terwyl ons moes afkyk, voel jy net skielik ‘n plas gel in jou hare en sommer ook ‘n paar stukkies hare wat uit die perfekte poniestert gehaal word.
Ons was die jaar die mossels – die nuwe graad 8’s in DF Akademie, dus moes ons voor die hele skool “Baby Shark” sing asof ons ‘n koor is. Die ritme was ongelukkig ‘n bietjie af.
Die eerste paar dae skrik ‘n graad 8’ie nog eers vir ‘n matriekleerder, maar hulle het ons gedurende ons oorbrugging baie gehelp. Ons moes bordjies om ons nekke bind met ons SR-crush, doopnaam (wat van “Creme Soda” tot “Lamineermasjien” wissel) en babafoto. Daardie dag het ons talle aktiwiteite gedoen saam met die matrieks. Hulle het ons gehelp om ons pad beter in die skool te vind en ons ook geleer oor die skool se VRIEND-waardes. Dit het ons gehelp om nuwe mense te ontmoet veral as jy soos ‘n vis op droë grond gevoel het.
Dan was daar die berugte Melkbosstrand tot Bloubergstrand stap. Terwyl ons gestap het, kon jy hoor hoe mense rondom jou kreun al was ons nie eers halfpad nie. Tydens ons stappie moes ons rommel optel om te help om die strande skoon te hou. Na ons 11 km stap is ons bederf met nie net een nie, maar met twee McDonald’s burgers. Die meeste van ons se bene het toe soos spaghetti gevoel na ons stap en ons het lekker op die bus geslaap op pad terug skool toe.
Uiteindelik het die belangrikste aand aangebreek: die baadjieseremonie waar die graad 8’s so trots soos poue voor ‘n kamera gepronk het met die grootste glimlagte ooit en hulle uiteindelik die DF-baadjies om hul skouers kon voel. Voordat ons kon uithardloop en hardop kon skree: “Kyk hier, ek’s ‘n Dee-Effer!” het ons die klok van die skool gelui en ‘n amptelike Dee-Effer geword.
Om my eerste week in DF Akademie af te sluit, moet ek sê dit was BRILJANT! Die nuwe graad 8’s is so trots om deel te wees van die bloubloed familie en kan nie wag vir nog baie opwindende jare in DF nie.
Angelina Smit
Angelina is ‘n graad 8-leerder wat te veel oor flieks en musiek praat. Jy sal haar meestal vir nonsens sien lag en as sy kon, sou sy seker elke dag sushi eet.
