[Jurgen Steyn]
Die DTBS-flashes en -atletiek is verseker ‘n hoogtepunt op DF se kalender en ‘n onvergeetlike manier om die jaar af te skop, veral as ons presteer soos wat ons hierdie jaar het. Maar wat behels die hele proses? Hoe word ‘n mens ‘n dirigent of ‘n tromspeler en hoe word die tema bepaal? Lees verder om al die antwoorde en nog vele meer te ontdek.
Die keuringsproses om ‘n dirigent te word, begin ‘n paar maande voor interhuis, waar leerders ‘n kans het om te bewys waarom hulle die gesig van DF se gees moet word. Leerders sal kans gegee word om die verskeie krete aan te leer, en sal dan in een groot groep die krete voor onderwysers en tromspelers opvoer. Hulle sal dan later hoor of hulle gekies is om ‘n interhuisdirigent te wees, en sal daar ‘n laaste geleentheid kry om voor die hele skool te wys hoe graag hulle ‘n DTBS-dirigent wil wees. Hulle word gemeet aan hul gees, hoe goed hulle hul medleys ken, en ander faktore wat sal bepaal of hulle uitstyg bo die res van die kompetisie.
Vir die tromspelers is dit ‘n bietjie makliker. Leerders in die Drumline, en ander leerders wat op hul eie geleer het hoe om die tromme te speel, sal die vooreg kry om ‘n oudisie af te lê vir die rol van ‘n junior tromspeler in die DTBS-span. Hulle sal voor meneer Paige en die huidige tromspelers ‘n stuk van hulle keuse speel. Dit kan ‘n Drumline-kreet wees óf enige stuk van hulle keuse. Hulle sal ‘n week later uitvind of hulle ‘n interhuistromspeler is of nie. Na interhuis sal daar bepaal word of hulle deel van die DTBS-span is.
Tromspelers sal eers begin as junior tromspelers. Hulle is steeds deel van die span, en mag insette lewer in elke deel van die flashes, maar het minder ervaring. Na ‘n jaar is hulle ‘n senior tromspeler, en sal meer speelgeleenthede kry by aandoefeninge, omdat van hulle verwag word om die meeste van hulle speelstukke te ken. In matriek is hulle uiteindelik ‘n hooftromspeler en sal by DTBS tromme speel, sowel as die meeste speelkans by ander geleenthede kry.
Die DTBS-proses begin omtrent ‘n maand voor die Desembervakansie, waar almal in die span tot omtrent 12 Desember, van nege-uur die oggend tot nege-uur die aand, saamwerk. Hierdie werk sluit in om ‘n tema te kies, ‘n kreet te skryf, flashes te teken en dan alles te oefen tot hulle geen meer foute maak nie. Tussenin, gebeur daar baie ander noodsaaklikhede soos baie nodige ruspouses of aandetes, waar een van die dirigente of tromspelers se ouers tuisgemaakte kos, wat die hele span saam kan eet, saambring.
Daar is ook ‘n oorslaap wat gewoonlik nader aan die einde van die proses plaasvind. Almal bring alles wat hulle benodig vir die dag, en dan sal almal na die tyd die hele aand rondhardloop, kuier, Bybelstudie doen en laastens fliek kyk. Almal sien gewoonlik baie uit na die oorslaap.
Net voor die vakansie eindig, sal die span die laaste voorbereidings maak en reëlings tref. Na die vakansie, is almal elke oggend halfsewe by die skool, waar ons dan die pawiljoen regpak, aanwysings uitdeel, seker maak klankgereedskap is reg en dan enige ander voorbereidings maak om die kreet suksesvol vir die pawiljoenleerders aan te leer.
Dit is ‘n proses waarvoor almal in die span dankbaar is. Nie net is jy deel van die agter-die-skerms-proses van DTBS nie, maar jy leer nuwe mense ken. Is dit ‘n lang proses? Is jy aan die einde daarvan doodmoeg? Sal jy partykeer wens jy was op enige ander plek behalwe by die DTBS-oefening? Ja, definitief, maar dit is ook beslis ‘n hoogtepunt van jou jaar. Sal jy dit na die tyd meer mis as wat jy gedink het jy sal? Eenhonderd persent.
Jurgen Steyn
Jurgen is ‘n passievolle kok en permanent geboei deur sy gunstelingaksieboeke. As hy nie binnenshuis besig is nie, speel hy gholf of ry padfiets. Jurgen se gunstelingskoolvakke is Engels en wiskunde.
