[Annika van Zyl]
’n Gelade rugby-, netbal- of hokkiewedstryd se applous, entoesiasme en aanmoediging kan kilometers ver gehoor word. Die aksie van ’n wendoel in die laaste minuut, ’n kraglopie oor die doellyn of daardie perfekte vangskoot laat almal juig.
Met die afskop van die kraakvars DTBS by die Kaapstad Stadion op Saterdag 7 Februarie, sien ons uit na ’n jaar vol sport, deelname en hoogtepunte. Daarom wil ons aan die begin van die jaar al vir juffrou Badenhorst en haar Noodhulp Ninjas vier en bedank vir die noemenswaardige bydrae wat hulle tot ons sportspanne se welstand en sukses lewer.
DF Akademie se VRIEND-waardes, veral diensbaarheid en empatie, kom hier sterk na vore. Ek het met Isobel Booysen, een van ons noodhulpbestuurslede, gesels om meer uit te vind oor DF Akademie se Noodhulp Ninjas.
Vinnige vrae:
- Watter sport vereis die meeste noodhulp by DF Akademie?
Hokkie (sonder enige twyfel). - Wat is die mees algemene besering wat behandel word?
Knieë; dit is altyd die knieë. - Wat is die gemiddelde reaksietyd van die span?
Tussen 10 en 15 sekondes. Blitsvinnig.
(Die afrigter moet egter eers toestemming gee voordat die noodhulpspan die veld mag betree.) - Hoeveel keer moes die span diens doen in die reën of sterk wind?
Amper altyd. Reën, wind en koue is deel van bykans elke skof.
Die Noodhulp Ninjas sal ’n warm spanbaadjie baie waardeer. - Wat is die interessantste item in die noodhulptas?
Die nekstut (dit word verbasend min gebruik). - Hoeveel yspakke word gemiddeld per kwartaal gebruik?
Dit hang van die seisoen af:
Kwartaal 1 en 2: ongeveer 50 yspakke per kwartaal.
Kwartaal 3 en 4: ongeveer 150 yspakke per kwartaal, aangesien meer sport dan aktief is. - Wie deel die meeste yspakke uit?
Jorja, sy werk baie skofte en is amper altyd eerste gereed met ’n yspak. - Wie is die “pleisterkoning of -koningin” van die span?
Niemand staan hier werklik uit nie. Min spelers vra vir pleisters. - Wat is ’n ikoniese of snaakse noodhulpverskynsel?
Die feit dat iemand tydens byna elke wedstryd ’n skoen verloor.
Die Noodhulp Ninjas se werk eindig nie saam met die eindfluitjie nie. Laat aande, naweke en toernooie bring hulle met trots in die reën en wind langs die veld deur om te verseker dat elke speler veilig versorg word.
Dankie, Noodhulp Ninjas. Flink, vinnig en altyd paraat, vandag vat julle die beker huis toe.
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 11, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.
