[Annika van Zyl]
’n Geliefde boek kan jou uit die alledaagse wegvoer en verplaas na ’n wêreld vol avontuur, spanning en nuwe idees. Met ons nuwe Herout-boekrubriek wil ons ’n ruimte skep waar leerders en onderwysers saam die vreugde van lees kan ontdek en deel.
Ons eerste boek, Project Hail Mary deur Andy Weir, is op aanbeveling van tannie Linda Oosthuizen gekies. Baie dankie vir hierdie uitstekende voorstel.
Die son is aan die sterf. Alleen in die ruimte word die aarde se laaste hoop wakker. Die sending het begin.
“It is time-go. Grace, Rocky save stars.”
In ’n toekoms waar die voortbestaan van die mensdom bedreig word, word ’n onwaarskynlike held op ’n onmoontlike sending gestuur. Ryland Grace word alleen aan boord van ’n ruimteskip wakker. Hy bevind homself miljoene kilometers van die aarde af, sonder enige herinnering van wie hy is of waarom hy daar is. Stadig maar seker begin die waarheid insink: Hy is die wêreld se laaste hoop.
Soos sy geheue herstel, besef hy dat die son besig is om te verdof. Sonder die son se energie sal die lewe op aarde vergaan. Met net sy wetenskaplike vernuf en ’n desperate wil om te oorleef, moet Ryland Grace ’n manier vind om die mensdom van gewisse uitsterwing te red. Die ruimte is egter meedoënloos, tyd is min en die antwoorde is nie eenvoudig nie.
Wat daarop volg, is ’n buitengewone verhaal van oorlewing, opoffering, vriendskap en hoop. Project Hail Mary is ’n boeiende wetenskapsfiksieroman wat innovering, avontuur en menslike verhoudings saamsnoer en die leser van begin tot einde boei.
Sou jy hierdie boek lees? Laat weet ons, en stuur ook gerus jou voorstelle vir ons volgende boekresensie.
Ideaal vir: … lesers wat van spanning, wetenskapsfiksie en oorspronklike storielyne hou.
Hou verby as jy: … glad nie van ruimteverhale of wetenskaplike idees hou nie.
Gradering: ★★★★½ uit 5
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 11, DF Akademie is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.
