Op die verhoog en verder

[Caro Thirion]

Jy het seker al gehoor van ons bekende koor, kamerkoor en blaasorkes. Al hierdie kultuuraktiwiteite kry baie erkenning by die skool, maar daar is een aktiwiteit wat nog nie genoeg aandag kry nie. 

Juffrou Eygelaar vertel vir ons meer oor 2026 se toneelklub en hoe ons Dee-Effers hulle talente op die verhoog kan bewys.

Kan Juffrou vir ons meer vertel van die jaar se toneelstukke? 

Ek moet nou mooi dink wat ek sê, want natuurlik wil ek nie nou alles verklap nie. Ons voer hierdie jaar drie stukke op; dit is die eerste keer vandat ek by DF is dat ons so baie toneelstukke in een jaar aanpak.

Die drie stukke is taamlik uiteenlopend, maar wat baie opwindend is, is dat ons nou heeltemal wegbeweeg van komedie. Nie een van die stukke is ʼn komedie nie, maar natuurlik is daar nog komiese elemente in. 

Ek weet self nie heeltemal waaroor Apokolips gaan nie, want dit is mos nou Gizela (Conradie) se stuk en sy doen die regie daarvan. 

Onderwater is ʼn stuk wat geskryf is spesifiek met ʼn DF-konteks in gedagte. Ek het ʼn bietjie met die skrywer gesels oor waardeur die skool se kinders gaan, en met dit in gedagte het hy hierdie stuk geskryf. Dit is ook baie relevant omdat die taalgebruik is hoe julle met mekaar praat. Daar is ook een van elke tipe hoërskoolkind in die teks. Daar is die bleeksiel, die heksagtige meisies, daar is die dommer een en daar is ook die moeilikheidmakers. 

Dieselfde ook met die derde stuk, Waag of Waarheid. Daar is net ʼn klomp meisies wat hierin speel en dit gaan oor die meisies wat almal saam in ʼn koshuis woon. Binne die vyf karakters is daar een vir elke persoon in die gehoor om mee te identifiseer. 

Het Juffrou ʼn gunsteling uit die drie stukke?

As ek nou nie objektief moet wees nie, sal ek sê Waag of Waarheid is my gunsteling. Dit is omdat die boodskap van die stuk vir my persoonlik iets is wat ek as baie belangrik ag en baie oor dink.

Elke stuk is wel uniek en goed in sy eie reg.

Verkies Juffrou om stukke te skryf of te redigeer?

Jinne, dit is so ‘n moeilike vraag. Ek geniet al twee aspekte baie, maar ek dink die ekstrovert binne my hou meer van die regie. Ek kan dan met die leerders werk en saam met hulle iets skep.

Wat is Juffrou se gunstelingstuk wat Juffrou al met die toneelklub gedoen het?

Ek dink dit gaan maar my heel eerste stuk wees wat ek gedoen het by DF, Alweer. Ek en een van my beste vriendinne, Izette, het saam daaraan gewerk en ons het ook saam die regie gedoen. Ag, dit was net lekker. Dit was ʼn lekker groep mense en ons kon die stuk ʼn realiteit maak.

As Juffrou skryf, waar vind Juffrou inspirasie?

Uit die mense om my se stories van hulle lewens. Al vandat ek klein is, is ek mal oor skryf. Ek het altyd gedink ek gaan ʼn skrywer word. Ek het altyd geglo en gehoop ʼn mooi storie sal na my toe kom terwyl ek kamp en na die sterre staar. Of in die nag as jy slaap, as die kreatiwiteit jou in jou slaap oorval, dan ruk jy jou notaboek uit.

Dit is moontlik, maar dit het nooit vir my so gebeur nie. Wat vir my gebeur, is as iemand vir my ʼn storie vertel of ek beleef dit, gaan skryf ek daaroor.

Waar is Juffrou se gunstelingplek om te gaan optree met die toneelklub?

Met die toneelklub is dit hier by die skool, tuis. Dit is die lekkerste plek om voor jou eie gemeenskap op te tree en jou eie mense te ontvang. Vandat hulle instap by die deur tot al die opgewonde ouers wat saam kuier, bly ‘n spesiale ervaring.

Ons leerders is baie nuuskierig oor ʼn moontlike revue vir volgende jaar. Mag Juffrou vir ons enige iets daaroor sê?

Ek mag seker sê dit is in die beplanning dat ons volgende jaar revue doen. Wat ʼn storielyn betref … ek is besig om te werk aan ʼn teks. My kop het begin met ʼn storie, maar nou wag ek vir die kreatiewe ontploffing om te gebeur.

Ek het my karakters, ek het die basiese intrige saam met geweldig baie idees met musiek. Alles kom net nog nie bymekaar nie. So, ek is nou in daardie deel van die skeppingsproses waar ek nog wag vir rigting.

Baie sterkte aan juffrou Eygelaar en die toneelklub met die res van die jaar se planne. Kom ondersteun ons skool se toneelklub op 22 en 23 Julie in die skoolsaal.

Caro Thirion

Caro is ‘n gr.11-leerder wat meestal met haar neus in ‘n boek sit en aan soveel as moontlik kultuuraktiwiteite deelneem.