[Cara Booysen]
Vir die leerders wat nog nie weet nie, juffrou Fuchs het ’n ryke en kleurvolle versameling van boeke in haar klas. Ongeag of dit Afrikaans, Engels, digkuns, fiksie of nie-fiksie is, is elke boek in haar klas die moeite werd om te lees.
Dit is ongelukkig nie realisties vir elke DF-leerder om elke boek in haar klas te lees nie. Dus het ek vir juffrou Fuchs gevra om ’n kortlys op te stel van die topvyf boeke wat elke leerder by die skool waarde in sal vind.
“Die Bybel is eintlik nommer een, maar hopelik lees die meeste leerders reeds die Bybel. Dit bly ‘n onuitputlike bron van poësie, avontuur, liefde, inspirasie en geskiedenis.”
Die volgende lys is in geen spesifieke volgorde nie:
- Mixtape van die Liefde
“Mixtape van die Liefde” bly vir my ‘n herinnering aan die regte Suid-Afrika – van die tradisionele en ouer Afrikaanse digters, soos Antjie Krog, Boerneef en Elisabeth Eybers tot die jonger stemme soos Ronelda S Kamfer en Ryan Pedro. “Mixtape” daag ons uit om Kaaps in al sy vorme te verken en te waardeer. En dan is die tema boonop die liefde in sy verskeie vorms soos verliefdheid, liefde tussen twee geliefdes en die liefde in gesinsverband. Dit is regtig mooi.
- I Am Malala
Dit is ’n boek wat jou wêreld sal oopmaak en jou sal laat besef hoe gelukkig ons is om skool toe te kan gaan. Malala Yousafzai was 11 toe sy drie keer in die kop geskiet is deur die Taliban op ’n skoolbus. Die Taliban het ‘n verbod geplaas op onderrig vir meisies. Haar storie is ongelooflik. Nadat sy deur die Taliban geskiet is, het sy briewe begin skryf vir die Verenigde Nasies, ‘n menseregte-aktivis geraak en ‘n wêreldwye ikoon geword. Dit herinner lesers daaraan dat een stem ‘n verskil kan maak en dat onderwys ‘n basiese mensereg is. Sy het boonop op 17 jaar oud die jongste persoon geword wat die Nobel-vredesprys ontvang het.
- Man’s Search for Meaning
Viktor E. Frankl was ’n psigiater wat Auschwitz oorleef het en hy sê dat die lewe altyd sinvol is. As iemand wat in ten minste twee konsentrasiekampe was, kan sê dat hy sin in die lewe kan vind, kan hoërskoolleerders ook sin en doel in die lewe vind. Dit is ‘n inspirasie om moed te hou en sin te vind in uiters moeilike omstandighede. Dit is ‘n boek wat hoop in donkerte bring.
- The Alchemist
Sin en doel sluit ook aan by hierdie boek. Hierdie boek moet ’n mens elke paar jaar lees, want dit gaan ’n mens ook help om te droom in die lewe, jou pad te vind en te besef: die lewe is ’n reis en daar is ’n spesiale doel vir jou. Dit is net ’n baie insiggewende en motiverende boek. Jy moet hom ook stadig lees sodat jy dit regtig kan inneem, notas vir jouself kan maak en meerkleurige kleefnotas gebruik om dié, en eintlik al die boeke, jou eie maak.
- We Should All be Feminists
Sommige mense dink natuurlik dat “feminisme” ’n vloekwoord is. Maar hulle weet nie wat feminisme beteken nie. ‘n Feminis is iemand wat glo dat ons almal dieselfde regte moet hê. Dit maak nie saak of jy ’n man of ’n vrou, of watter ras jy is nie, hierdie boekie sê net dat ons almal dieselfde regte moet hê. In die boek skryf Adichie: “So my own definition of feminism is a man or woman who says that there is a problem with gender, we must fix it and we must do it together. All of us must be better.”
Hoekom ek van al hierdie boeke hou: dit maak net jou wêreld groter. En ek dink partykeer dat ons hierso in Bellville in ons eie baie klein, gemaklike borrel lewe en nie ‘n idee het wat in die werklike wêreld hierbuite aangaan nie. Ons moet beter wees en beter doen! Ons moet weet hoe die mense buite ons borrel leef, uitreik na hulle en konneksies vorm sodat ons kan leer en kan groei. Ons moet ons wêreld groter maak.
Jy hoef nie tot aan die einde van die wêreld te reis vir inspirasie nie, kom vind dit in ‘n boek in kamer 9.
Cara Booysen
Cara is ’n matriekleerder wat dit af en toe geniet om te skryf. Sy geniet dit om tyd te spandeer in die skool se tuine en leef haarself uit op kultuur- en leierskapgebiede asook in haar eie wêreld.
