Goue reëls uit goue harte

[Amé Breytenbach]

Hoërskool kan met tye oorweldigend voel, maar dit help om te weet dat hierdie paadjie al vantevore uitgetrap is – juis deur die veterane wat vandag voor ons in die klaskamer staan. Wie beter is daar dan om vir bemoediging te vra as DF se goue onderwysers?

Daarom het die Herout dit goedgedink om die wysheid van ‘n paar DF-personeellede bymekaar te maak om Dee-Effers op die pad vorentoe te ondersteun.

Watter raad sou Juffrou/Meneer nou vir Juffrou/Meneer se hoërskoolself gee?

  1. Sit moeite in jou skoolwerk in. (meneer Mells)

Ek dink die raad wat ek nou vir myself sou gee, is om miskien bietjie meer energie in my skoolwerk in te sit. Ek dink ek het partykeer té maklik met iets weggekom, so ek het nie noodwendig so hard geleer soos wat ek kon nie.

  1. Vergewe, verskonings en verstaan. (juffrou Pauw)

Vergewe vinnig en leef lig. Vergewe jou ouers en onthou dat hulle ook mense is wat deur die lewe gaan. Vergewe ook gereeld jouself en ander mense. Moenie in die verlede vashaak nie en wees altyd vriendelik. Moenie verskonings opmaak nie – jou sukses is jou eie harde werk en verantwoordelikheid.

  1. Wees die beste jy wat jy kan wees. (juffrou Tinsie)

“Jy is jou ma se slimste leerder.” Wees die beste Tinsie wat jy kan wees – dit is genoeg! Kies jou mense en wees goed vir hulle.

  1. Lees. (meneer Visser)

Lees meer literêre boeke en eet minder.

  1. Doen alles voluit sodat jy nie eendag spyt is nie. (juffrou Nel Müller)

Ek dink ek sou alles weer doen presies soos wat ek dit gedoen het. Ek kan nie vir myself sê om nie bekommerd te wees nie, want ek was nooit oor iets bekommerd nie. Ek kan nie vir myself sê om meer foto’s te neem nie, want ons het nie selfone by die skool gehad nie. Ek kan ook nie vir myself sê om aan meer goed deel te neem nie, want ek het aan alles deelgeneem wat ek kon. Ek dink nie ek moes enige iets anders gedoen het nie, want dan sou dit nie ek gewees het wat daar uitgekom het nie. Alles was nie altyd perfek nie – maar dit was perfek vir my.

Wat is iets wat Juffrou/Meneer baie onder vandag se kinders observeer en graag iets oor sal wil sê?

  1. Daar is ‘n groter wêreld daar buite. (meneer Mells)

Ons leerders moet verstaan dat die wêreld waarin hulle eendag gaan leef nie soos DF lyk nie. In DF is ons eintlik in ‘n baie beskermde omgewing en die wêreld daar buite is maar hard en wreed. Ons leerders moet meer van die geleenthede wat hulle nou het, gebruik maak.

  1. Weet waar (en in Wie) jou identiteit lê. (juffrou Pauw)

Ek voel dat vandag se tieners te veel leuens oor hulself glo en dat die grense tussen reg en verkeerd baie onduidelik raak. Hulle wil te gou inpas en is bang om ongewild te wees as hulle iets sê. Dit maak my hartseer om te sien dat tieners met hul identiteit sukkel en soms angstig, vreesagtig of depressief raak oor dinge wat met hulle gebeur. Ek wil hulle so graag help om waarlik te besef dat jy slegs jou identiteit in die Een kan vind wat jou gemaak het. In meneer Dippenaar se woorde: “Dis nie wie jy is nie – dis Wie s’n jy is.”

  1. Selfvertroue. (juffrou Tinsie)

Kinders het min selfvertroue. Ek wens soms ek kon vir elke kind sê dat hy of sy uniek is en dat hulle trots moet wees op die mens wat hulle nou is – en dat hulle ook moet glo in die mens wat hulle nog gaan word. Wees net die beste weergawe van jouself. Probeer nuwe dinge en geniet die lewe.

  1. Leef in die oomblik. (meneer Visser)

Ek dink kinders moet in die oomblik leef. As jy in die klas is, fokus; as jy speel, geniet dit.

  1. Groet! (juffrou Nel Müller)

Ek moet altyd eerste groet as ek verby leerders stap en dit is nie reg nie. Groet iemand wat by jou verby stap. As jy buite in die samelewing stap, dan hoef jy nou seker nie almal te groet nie, maar by die skool is ons ‘n familie. Dit is ‘n respek-ding.

Wat is Juffrou/Meneer se beste raad vir vandag se hoërskoolleerder?

  1. Gebruik elke geleentheid. (meneer Mells)

My raad is eintlik baie eenvoudig: Gebruik elke geleentheid en leef elke dag ten volle. Jy weet nie wat môre gaan gebeur nie. Leef op so ‘n manier dat jy ‘n getuienis van die genade en gawes is wat jy ontvang. Onthou: Die wêreld lyk nie soos DF nie. Ons is in ‘n baie bevoorregte posisie en ons besef dit nie elke dag nie.

  1. Beperk skermtyd. (juffrou Pauw)

Kom weer terug na die regte wêreld toe en bou gesonde verhoudings met regte mense. Só verminder jy dalk ook sekere van jou emosionele uitdagings, vrese en gevoel van eensaamheid of minderwaardigheid. Ek sal graag ‘n selfoonvrye plek pouses wil sien waar leerders lag en gesels en net weer die lewe geniet sonder beperkings. (Ja, ek weet – baie outyds…) Gaan dien ook ander, want dan voel jy sommer tonne beter oor jouself. 

  1. Moenie jouself in iemand anders se blik druk nie. (juffrou Tinsie)

Moenie jouself in ‘n blik probeer druk sodat jy kan doen wat jy dink almal van jou verwag nie. Wees net jouself, doen dinge soos wat jy wil en neem gesonde besluite. Wees goed vir jouself en geniet dit wat jy doen.

  1. Geniet die jong lewe. (meneer Visser)

Gaan voluit met energie en geniet elke oomblik van jou jong lewe. Almal word oud en dit is nie vir sissies nie.

  1. Dink slim. (juffrou Nel Müller)

Neem foto’s – want jy vergeet. En druk dit nou al uit, want oor ‘n paar jaar gaan jou foon een van daardie ou fone wees wat net in die kas lê. Neem deel aan al die aktiwiteite waaraan jy moontlik kan deelneem. As jy te besig is en jou emmertjie loop oor of daar is te veel hooi op jou vurk, besluit wat vir jou belangriker is. Dit is iets wat jy as ‘n jongmens al moet aanleer sodat jy nie uitbrand as jy ouer is nie. Partykeer is dit sleg en moeilik, maar dit is doenbaar. Soms moet jy jouself ook blootstel aan goed waaraan jy nie noodwendig gewoond of mee gemaklik is nie. Moenie net in jou een hoekie bly nie – sprei bietjie jou vlerke. En dan belangrik: Maak seker dat elke dag se huiswerk gedoen is! Dit het my leerwerk soveel minder gemaak, want as jy weet waar jy verkeerd was, dan reduseer dit outomaties soveel werk. Wees slim.

Toe Juffrou/Meneer op skool was.

  1. Moes Juffrou/Meneer ooit detensie sit?

Meneer Mells: Nee.

Juffrou Pauw: Nee.

Juffrou Nel Müller: Nee.

  1. Wat was Juffrou/Meneer se gunstelingvak op skool?

Meneer Visser: Afrikaans en Geskiedenis

Juffrou Tinsie: Tegniese tekeninge – vandag se IGO

Meneer Mells: Rekeningkunde – ek het nie nodig gehad om daarvoor te leer nie.

  1. Wat was die kleur van Juffrou se matriekafskeidrok?

Juffrou Pauw: koningsblou

Juffrou Tinsie: pienk en wit

Juffrou Nel Müller: Silwer satyn met ‘n blou organza bo-oor omdat ons nie in 2002 ‘n blou-groen organza in enige materiaalwinkel kon vind nie.

  1. Wat was Juffrou/Meneer se gunstelingpousekos?

Meneer Visser: In ons arm dae was dit witbrood met skaapvet en konfyt. Dit was ‘n goeie ruilmiddel, want die ryk kinders het maklik hulle duur kos daarvoor omgeruil.

Juffrou Nel Müller: My man (wat toe my kêrel was) se ma se kerrietoebroodjies waarvan sy ekstra ingepak het sodat ek ook kon kry, want sy het geweet ek eet sy kos op.

  1. Hoe het Juffrou/Meneer elke dag by die skool gekom?

Meneer Mells: Ek het met ‘n fiets gery.

Juffrou Pauw: Ons het almal met die bus gery.

Juffrou Tinsie: Ek het met ‘n poegie gery.

Meneer Visser: Ons het fiets gery – winter en somer…

Juffrou Nel Müller: Ons het almal gestap. Dié wat gery het, was net vreemd.

By DF is ons dankbaar vir onderwysers met goue harte wat soveel vir ons omgee. Wat ‘n voorreg om uit hul wyshede en waarhede te kan leer.

Amé Breytenbach

Amé is ‘n graad 11-leerder wat lief is vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.