Studiewenke vir sukses

[Bella Huisamen]

Uitputtend. Frustrerend. Stresvol.

Eksamen.

Die deel van die kwartaal wat altyd so kort op ons hakke is, maar wanneer dit aanbreek voel asof dit ‘n ewigheid duur – ’n gevoel waarmee elke hoërskoolleerder kan vereenselwig.

Tussen 40% tot 60% van leerders ervaar negatiewe eksamenstres. Dis gemiddeld die helfte van die skool! As jy een van hierdie leerders is, hoop ek dat hierdie artikel jou sal toerus en hulpvaardige wenke aanbied. Hierdie artikel bestaan uit vyf fantastiese eksamenwenke om die geestesgesondheidaspek daarvan met ’n onderskeiding te slaag!

Vestig ’n roetine
Die eksamenvraestelle self is hoogs onvoorspelbaar. Om jouself rustig en kalm te hou tydens voorbereiding vir hierdie onbekendes, stel talle webtuiste en sielkundiges voor dat jy ’n roetine skep en dit volg, want wanneer jy jou eie konstantes kies, voel jy klaar meer in beheer. Daar is verskillende tipes roetines. Jy kan leerroetines, daaglikse roetines of selfs eetroetines begin volg tydens die eksamen. ’n Roetine bevorder fokus en verminder angs, veral vir dié wat daarvan hou om in beheer te wees.

Jou bord kos = jou breinkos
Tydens eksamens is ons dikwels so besig om ons brein te voed dat ons vergeet om ons maag versadig te hou. Mense kyk dikwels tydens spannende tye verby die belangrikheid van gesonde eetgewoontes. Een van die belangrikste maaltye tydens eksamens is ontbyt. Nie net herstel dit jou metabolisme nie, maar dit gee jou die krag vir daardie vroegoggend eerste sessie tydens die eksamens.

Deel van jou eetgewoontes sluit jou waterinname in. Jou brein bestaan uit 75% – 85% water, dus is dehidrasie uiters nadelig. Jy kan nie verwag om al daardie bladsye inligting te onthou sonder ordentlike breinfunksionering nie en dus is water jou beste maatjie tydens leersessies. Om gesond te eet, verhoed fluktuasies in jou energievlakke en dit voed en beskerm die brein.

Ondersteuningsnetwerk
’n Ondersteuningnetwerk is ’n groep mense wat op ‘n emosionele wyse daar is vir jou. Dit is die mense waarop jy kan staatmaak. Dit kan jou vriende, familie of selfs onderwysers wees. Die belangrikste deel van ’n ondersteuningsnetwerk is om wel gebruik te maak daarvan. Jy moet kan uitreik na hulle wanneer dit nodig is. Om uit te reik vir hulp is nie ‘n swakheid nie, maar om stil te bly is. Jy hoef nie eers oor eksamens te praat nie, maar net oor wat jy die week gedoen het of waaroor jy bekommerd is, want om met mense te praat waarvoor jy lief is, stel dopamien vry en wanneer jou brein dopamien vrystel, voel jy beter oor jouself en dit verlaag stresvlakke. Om met ander mense te kommunikeer oor jou bekommernisse, help om dit in perspektief te sit. Die situasie kan dan ook duideliker en meer oorwinbaar voorkom as wat dit aanvanklik in jou kop gevoel het.

Verwagtinge in balans
Die grootste uitdaging van verwagtinge is dat dit dikwels nie uit jou eie gedagtes groei nie, maar eerder afkomstig is vanaf die druk van ander. Dit kan van ouers, onderwysers of selfs vriende af kom. Almal het drome oor wie en wat hulle eendag wil wees. Die vraag is dus nie of jy dit gaan bereik nie, maar eerder of dit realisties is. Dit is belangrik om te onthou dat wanneer alles gesê en gedoen is, is daar net een persoon wat vir jou verwagtinge mag skep en dit is jy.

Dit is moeilik vir sommige leerders om die belangrikheid van eksamens in konteks te sit. Partykeer is al wat nodig is om te kyk na waar hierdie eksamen in die groter prentjie pas. Om eerlik te wees met jouself is noodsaaklik. Moenie verwagtinge skep wat jy weet nie bereikbaar is nie. Wees realisties, maar bly gemotiveerd. Om jou beste te doen, is al wat saak maak. Onthou net daar is altyd alternatiewe en tweede opsies vir as die eksamen nie so goed verloop soos jy verwag het nie. Eksamen meet nie jou sukses of mislukking nie!

Versigtig en versorg
Die meeste leerders is bekend met die woord selfcare. Die noodsaaklikheid daarvan word in talle berigte, navorsing en skryfstukke deur sielkundiges beklemtoon, veral tydens stresvolle tye soos eksamen. Selfversorging gaan dieper as genoeg slaap en gesonde eetgewoontes, al is dit twee aspekte wat van kardinale belang is. Dit sluit aspekte in soos gereelde blaaskanse tussen leersessies, die sosiale aspek daarvan en selfs die belagrikheid van beloning wanneer jy ’n doelwit bereik.

Daar word gereed vir kinders gepreek oor goeie slaappatrone en ongelukkig is jou ma reg daaroor. Dit is veral belangrik vir breingesondheid, optimale funksionering en verwerking van inligting. Die lys van voordele wat slaap inhou, is eindeloos! Ironies genoeg, om van jou werk weg te beweeg vir ’n rukkie, kan presies wees wat jou brein nodig het. Om in daardie tyd aktief te wees of selfs net in die tuin rond te loop, help jou om te herfokus.

Eksamenvoorbereiding is geneig om isolerend en stil te raak. Maak tyd vir jou vriende en familie, selfs al is dit net ’n video-oproep. Laaste maar nie die minste nie, gee vir jouself erkenning! Jy is besig om deur iets baie stresvol te gaan en wanneer jy ‘n doelwitte bereik, is ’n beloning belangrik. Dit kan wissel van iets soets tot ’n episode van jou gunsteling-TV-reeks. Moenie onderskat hoe baie dit van jou verg om vir drie tot vier weke aaneen te leer nie.

Mag hierdie eksamen net belonging en sukses vir almal inhou. Voorspoed, DF!

Bella Huisamen

Bella is ‘n avontuurlustige persoon wat dit geniet om nuwe uitdagings aan te pak. Sy spandeer dikwels haar tyd op die hokkie-astro of op die strand.