’n Beginnersgids na vetplante

[Kobus Strydom]

Vetplante is die wonderplant van die meeste plantouers se drome. Vandag maak ons kennis met die wêreld van vetpante en bespreek die belangrikste inligting om in ag te neem wanneer jy jou eie vetplantjie wil grootmaak.

Vetplante is ’n goep plante wat water stoor in voorbereiding vir droë tydperke. In Suid-Afrika is daar tans meer as 4 500 spesies van vetplante. Ons gaan fokus op die grond, natmaak, grootte, die hoeveelheid sonlig en plantfamilies van die vetplantsupergroep.

  1. Grond

Jy kan altyd ’n klaar gemaakte kaktus- en vetplantgrondmengsel by enige kwekery vir R50 tot R60 koop of jy kan net potplantgrond gebruik vir R30. As jy self jou grond wil maak, gebruik sand, fyn boombas, perliet (minerale), vermikuliet en kompos. ‘n Belangrike feit om in ag te neem, is dat die grond altyd 50% organies (boombas, kompos) en 50% anorganies (perliet, vermikuliet en sand) moet wees.

  1. Natmaak 

Die kernreël van vetplante is, gee net vir hul water wanneer die grond heeltemal droog is. ‘n Waterskedule word nie aanbeveel nie, omdat die weer ‘n groot rol speel in grondnatheid. Dis belangrik om in ag te neem dat vetplante die helfte van die jaar dormant is en die ander helfte in hul aktiewe groeifase is. Die meeste plante is dormant tydens die winter en tydens hierdie tydperk gaan hul amper geen water benodig nie. 

  1. Grootte

Iets om altyd aan te dink wanneer jy ’n vetplant koop, is om te weet hoe groot jou plantbaba gaan raak. Kaktusse, garingbome en die meeste euphorbias groei stadig, maar kan in ‘n “boom” verander. Die meeste aalwyne raak ook groot. As jy ’n vir altyd babaplantjie soek, is haworthias (miniatuuraalwyne), gasterias (beestong), vygies en plakkieplantjies (crassulaceae) perfek vir jou.

  1. Hoeveelheid sonlig 

Vetplante is baie lief vir die son. Ek sal aanbeveel dat jy jou kaktusse, euphorbias, garingbome en vygies dwarsdeur die jaar  in volle sonlig hou. Plakkieplantjies (crassulaceae) hou van semi-sonlig en hulle verkies om buite in potte te groei. Aalwyne wat in skadu groei, het donkergroen gekleurde blare, terwyl aalwyne wat in volle sonlig groei diep rooi gekleured blare het, omdat hulle hulself probeer beskerm teen die son. Haworthias en gasterias is lief vir skaduwee en is geskik om huisplante te wees.

  1. Plantfamilies

Daar is meer as 60 tipes vetplantfamilies, maar ons gaan fokus op die ses wat almal suid van die ewenaar al gesien het. 

Kaktus  – Daar is omtrent 1 500 spesies hiervan in Amerika en Afrika. Hulle is bekend vir hul doringagtige stamme en pragtige blomme. Handskoene word aanbeveel wanneer jy met hulle werk. 

Melkbos – Daar word meer as 2 000 spesies hiervan reg oor die aarde gevind. Hulle is bekend vir hul pragtige blommetjies en uiters giftige sap. Hanteer dit baie versigtig. In Nambië is 27 mynwerkers dood nadat ‘n euphorbia as kagelhout gebruik is. Hou dit weg van klein kindertjies en troeteldiere.

Aalwynfamilie  – Hulle word gekenmerk deur hul swartvormige blare en het meer as 700 verskillende spesies. Die groot lede van hierdie familie is die aalwye, terwyl die kleiner lede die gasterias en haworthias is. Onthou, hulle word baie gebruik vir genesingsprodukte, maar die meeste van hierdie groep is giftig.

Plakkie-familie –  Hulle is bekend vir hul simmetriese, roosagtige blare en vir hul klein grootte. Dit is die beste familie van vetplante om in jou tuin te plant. 

Vygie-familie – Daar is 1 700 spesies in Suider-Afrika gevind. Hulle word gekenmerk deur hul pragtige blomme en hul ronde liggaampies. Baie lede van hierdie groep word net in die Karoo gevind. 

Garingbome – Alhoewel hulle bekend daarvoor is om indringerplante te wees, kom daar steeds 640 spesies hiervan voor. Hulle blom net een keer en daarna gaan hulle dood. 

Almal het die vermoë om ’n vetplantjie groot te maak. Koop ’n plantjie by ons skool se tuinwinkel. Probeer net, en dalk vind jy jouself soos ek met meer as 300 plantjies en ‘n lewenslange vetplantverslawing. Geniet jou nuwe lewe as ‘n vetplant-ouer!

Kobus Strydom

Kobus is ‘n graad 9-leerder wat vetplante versamel en kweek. Sy gunstelingvakke is Afrikaans, geskiedenis en biologie.