[Annelize Jonck]
Baie hoërskoolleerders dink hulle moet wag tot na skool om geld te begin maak, maar dit is glad nie waar nie. Met ’n bietjie kreatiwiteit, goeie tydsbestuur en harde werk, kan jy nou reeds jou eie inkomste begin skep. Daar is verskeie eenvoudige en praktiese maniere waarop leerders geld kan verdien sonder om hul skoolwerk af te skeep.
- Was motors vir mense in jou buurt
Motorwas is ’n maklike en prettige manier om geld te maak, veral as jy dit saam met ’n vriend doen. Julle kan dit as ’n klein span aanpak en verskeie motors op een dag laat blink om meer geld te verdien.
- Pas troeteldiere op wanneer mense weg is
Baie mense het iemand nodig om na hul troeteldiere om te sien wanneer hulle weg is. Jy kan vooraf besluit om net na sekere diere of ’n beperkte aantal troeteldiere om te sien sodat dit vir jou hanteerbaar bly.
- Tutor jonger leerders in vakke waarin jy goed presteer
As jy sterk is in sekere vakke, kan jy ander leerders help om beter te presteer. Dit kan huiswerkhulp, toetsvoorbereiding of verduideliking van moeilike werk insluit. Jy word betaal terwyl jy jou eie kennis versterk.
- Verkoop gebakte versnaperinge by die skool
Jy kan koeke, muffins of koekies bak en dit by die skool verkoop. Met toestemming van die skool kan jy dit selfs by die snoepie of koffiewinkel verkoop, wat dit makliker maak om klante te kry.
- Verkoop ou klere of items wat jy nie meer gebruik nie
Baie mense is bereid om tweedehandse items te koop. Jy kan jou kas opruim en jou klere of boeke aanlyn verkoop. Platforms soos Yaga maak dit baie maklik om jou ou klerekas in kontant te omskep.
- Begin ’n klein aanlynbesigheid op sosiale media
Jy kan produkte soos gebakte lekkernye, juweliersware, klere of kunswerke verkoop, of selfs dienste soos ontwerp aanbied. Deur platforms soos Instagram en WhatsApp te gebruik, kan jy jou produkte bemark en direk met kliënte kommunikeer. Goeie foto’s en gereelde plasings help om jou besigheid te laat groei.
- Neem deel aan betaalde kompetisies of uitdagings
In die Wes-Kaap kan leerders deelneem aan eisteddfods, atletiekbyeenkomste en kunsfeeste waar daar kontantpryse of beurse beskikbaar is. Deur aktief deel te neem, kan jy nie net geld wen nie, maar ook jou talente ontwikkel en selfvertroue bou.
- Werk deeltyds oor naweke of vakansies
Daar is dikwels werksgeleenthede by restaurante, markies en wynplase, veral gedurende vakansies. Hierdie werk gee jou ’n vaste inkomste en waardevolle ervaring in die beroepswêreld.
- Verhuur ou musiekinstrumente uit
As jy ’n musiekinstrument soos ’n viool of kitaar het wat jy nie altyd gebruik nie, kan jy dit uitverhuur. Dit kan vir jou ’n gereelde inkomste genereer sonder baie moeite.
- Begin vroeg met beleggings
As jy reeds geld verdien, kan jy dit nou al belê sodat dit mettertyd kan groei. Platforms soos EasyEquities maak dit moontlik om in Suid-Afrikaanse maatskappye te belê. Dit is belangrik om eers navorsing te doen en beleggings as ’n langtermynstrategie te sien.
Om geld te maak as ’n hoërskoolleerder gaan nie net oor die inkomste nie, maar ook oor die vaardighede wat jy ontwikkel. Jy leer verantwoordelikheid, selfdissipline en hoe om met mense te werk. As jy bereid is om moeite in te sit en slim te werk, kan jy reeds op skool begin om finansieel meer onafhanklik te word.
Annelize Jonck
Annelize Jonck is ‘n graad 10-leerder met ’n groot liefde vir kosmaak en kreatiwiteit in die kombuis. Sy geniet dit om nuwe resepte te probeer en haar passie met ander te deel.
