Yskoud, tóg aan die brand!

[Lisemarie van Dyk]

Mnr. en Mej. DF, DF se glansgeleentheid vir die afgelope 30 jaar, het hierdie jaar op 22 April in DF se Aktiwiteitsentrum plaasgevind.

Die geleentheid samel fondse in ten bate van Aksie Omgee, wat leerders in die skool ondersteun, sowel as mense in die gemeenskap wat hulp en bystand nodig het volgens hulle unieke, uitdagende omstandighede.

Met die tema Fire & Ice het vanjaar se Mnr. en Mej. DF-finaliste ’n interessante balans tussen passie en elegansie na die verhoog gebring. Die kontras tussen warmte en koelte was duidelik sigbaar, met rooi en blou wat deur die loop van die aand die verhoog versier het.

In Oktober 2025 het die oudisieproses reeds begin. Enige graad 11-leerder is aangeraai om in te skryf vir Mnr. en Mej. DF. Onderhoude is gevoer en die 26 finaliste van 2026 is bepaal. Vanaf Desember het die finaliste al begin oefen aan hulle twee dansitems. Hulle het ook gehoor wat die tema en hul loopplank-kategorieë is. ’n Nuwe kategorie wat bygekom het, is Creative wear, waar elke finalis self ’n kostuum moes ontwerp met die tema, Fire of Ice.

Die finaliste se loopplankpassies is al van Desember geoefen en elke finalis moes ook R4 500 of meer vir Aksie Omgee insamel. Hierdie insameling kon onafhanklik gedoen word of deur middel van die markdag. ’n Sakeplan is deur elke finalis opgestel om hul fondsinsameling te verduidelik. Laastens het die beoordelaars ’n week voor die vertoning onderhoude gevoer om die finaliste beter te leer ken. Al hierdie aspekte het deel gevorm van die finaliste se finale punt, wat die wenners van die aand bepaal het.

Die aand het afgeskop met ’n openingsdans met die tema, Ice. Die aanbieder van die aand, Le-Lue van der Sandt en die beoordelaars: Chanelle Esplin, Tertius van Eeden, Mila de Villiers en Dewan Swanepoel is bekendgestel. Die finaliste het eers gespog met hulle informele drag, Denim & Diamonds, toe met hulle kreatiewe drag, ’n vurige dansitem en laastens hul formele drag. Deur die aand is ons ook vermaak met items van die DF-kamerkoor en die talentvolle Helen Coetzee.

Die Mnr. en Mej. DF-wenners van 2026 is uiteindelik aangekondig: Nelia de Villiers is aangewys as eerste prinses, terwyl Gènelle Holt die titel van tweede prinses ontvang het. Aan die manskant is Renier Venter as eerste prins aangewys en Eben Smit as tweede prins. Amelie Retief is gekroon as Mejuffrou Persoonlikheid en Charlie Cooper as Mnr. Persoonlikheid.

Dewan Coetzee en Jessie Schoeman is aangewys as Mnr. en Mej. DF 2026. Jessie het vanjaar ook die titel van Debutant verower, wat beteken dat sy die meeste geld vir Aksie Omgee ingesamel het. Sy is ook een van DF se beste rugbyspelers en was nie bang om sommer met haar DF-rugbybal op die loopplank te spog nie.

Dewan, DF se gunsteling-geesbees en dirigent, het ook die aand gespog met sy indrukwekkende kreatiewe drag met die ystema. Hy noem dat hy glad nie hierdie geleentheid sou gekry het as dit nie vir die Here was nie, en moedig ander aan om ’n verhouding met die Almagtige te bou sodat hulle die ware liefde van God kan ervaar en beleef. Volgens hom is daar niks in die wêreld wat so bevredigend is soos die Here se liefde nie.

Saam gaan dié twee ’n gemeenskapsprojek loods met die doel om ’n positiewe verskil te maak. Dewan het genoem dat hy besonders dankbaar is vir die geleentheid en uitsien om die projek aan te pak. Vir albei is dit belangrik om hul rolle te gebruik om ander bo hulself te stel. Hulle hoop om hul invloed nie net in die skool te versprei nie, maar ook die breër gemeenskap positief te beïnvloed en waardes van liefde, diens en nederigheid uit te leef.

Volgens die finaliste van 2026, was een van die beste dele van die proses die vriendskappe en verhoudings wat hulle gevorm het. Volgens Mej. Persoonlikheid, Amelie Retief, was die damesfinaliste teen die einde van die proses almal soos susters. “Jy word blootgestel aan mense wat jy waarskynlik andersins nooit sou ontmoet nie, en tog vorm daar in so ’n kort tyd diep verbintenisse,” noem eerste prinses, Nelia de Villiers. Vir ander was dit die pret op die verhoog, die danse, en om die skare se energie te voel en hulle opgewondenheid te ervaar.

“My gunstelingdeel van die proses was die vriendskappe wat ek gebou het met ander finaliste en ek voel dat ons groep iets regtig spesiaal het ten opsigte van chemistry.” – Eben Smit, tweede prins

Nelia vertel ook: “My gunstelingoomblik van die aand self was ná ons formele drag, toe ons gewag het vir die wenners om aangekondig te word. Ons het as meisies in ’n sirkel gestaan, hande vasgehou, en op daardie oomblik het ek net ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid ervaar. Dankbaar vir elkeen van hulle en vir die geleentheid om hierdie besondere reis saam te kon aanpak.”

Mnr. DF, Dewan Coetzee, las by: “Op die aand was dit anders. Die stres was hoog, maar die mansdeelnemers het die hele tyd mekaar gemotiveer, mekaar gehelp, chants gegooi, grappe gemaak en was heeltyd ondersteunend met mekaar. Daai ouens het my aand gemaak – hoe hulle ander mense voor hulself gesit het in die stresvolle situasie van vinnig aantrek, regmaak en dan optree.”

Tog is Mnr. en Mej. DF ook verskriklike harde werk. Die aanleer van die danse was ’n groot uitdaging, maar die finaliste stem saam dat hulle dansmaats die proses baie vergemaklik het. ’n Ander uitdaging was die ontwerp van die sogenaamde creative wear. Renier Venter, ons eerste prins, se ikoniese viking-kostuum, gebaseer op John Snow van Game of Thrones, is beslis ’n bewys van die finaliste se harde werk.

Die finaliste gee egter die krediet van die vertoning se sukses aan me. Elmari Minnie, me. Erin Vercelotti, me. Carla Cilliers en me. Alicia Filmater, waarvan sommiges al sedert 2009 betrokke is (toe die finaliste van 2026 een jaar oud was).

Die geleentheid om deel te neem aan Mnr. en Mej. DF word sterk aanbeveel vir enigiemand wat hulself wil uitdaag, nuwe dinge wil leer en persoonlik wil groei. Volgens die finaliste help dit om selfvertroue te bou, nuwe vaardighede te ontwikkel en jouself beter te leer ken, selfs al het jy min tyd of geen ervaring nie. Hoewel dit soms uitdagend en stresvol kan wees, is dit die moeite werd en lei dit tot waardevolle herinneringe.
“Ek sal die geleentheid aanbeveel vir álmal, ongeag wie jy is, hoe jy lyk of waarin jy belangstel. Mnr. en Mej. DF is baie harde werk, maar ‘n lewensveranderende ervaring. Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.” – Jessie Schoeman, Mej. DF

“Ek sal die geleentheid vir enigiemand aanbeveel, want Mnr. en Mej. DF is iets wat ek nog nooit in belanggestel het voordat ek met die proses begin het nie. Ek het gedink ek is glad nie die tipe persoon om dit te geniet nie, maar ek het in elk geval ingeskryf, want ’n mens is net een keer in matriek en ek het die hele proses onsettend baie geniet. “ – Charlie Cooper, Mnr. Persoonlikheid.

“Skryf in … vat ‘n kans … dit is regtig ’n onvergeetlike proses en aand waar jy soveel herinneringe en vriendskappe bou.” – Me. Alicia Filmater.

Hierdie jaar se finaliste se boodskap aan die leerders van DF is om elke geleentheid aan te gryp, jouself te wees en nie bang te wees om nuwe dinge te probeer nie. Klim uit jou gemaksone, gee altyd jou beste en maak die meeste van jou hoërskooljare – want dit gaan vinniger verby as wat jy dink.

Geniet dit. Ervaar alles – neem deel aan alles.

Lisemarie van Dyk

Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.