Drome en geskiedenis

[Carene Wiggins]

Dink terug. 

Wou jy al ooit die onbekende uithoeke van die ruimte verken? Ek is seker ons almal het eens op ’n tyd hierdie droom gehad.

Op 1 April 2026 is vier hoogsopgeleide ruimtevaarders maan toe gestuur: Victor Glover, Christina Koch, Jeremy Hansen en Reid Wiseman. Victor is aangewys as die vlieënier, Christina en Hansen het saamgewerk as spesialiste en Reid was die bevelvoerder. Die groep het op 11 April teruggekeer aarde toe.

Na afloop van hierdie ekspedisie, sal hulle in totaal 406 771 kilometer afgelê het; dus sal hulle die Apollo 13 (1970) se rekord van 400 171 kilometer breek. 

Op dag een is die ruimtevaart natuurlik gelanseer vanaf die Kennedy Space Center naby Florida in die suidooste van die VSA. Daar is ’n groot optog gehou waar dié vier bekendgestel is, ten volle geklee in hul helder oranje uitrustings. Met groot drome, groot verwagtinge en groot vrees, is hulle op die Artemis 2-bussie gelaai en na die lanseringsplatform vervoer. Daar het al die toeskouers – sommiges met trane in hul oë, ander met oor-tot-oor glimlagte en die res met monde wat oophang – die aftelproses begin. 

Drie, twee, een. 

Die lansering was suksesvol. 

Op dag twee vind ’n interessante gebeurtenis plaas – vir vyf minute en nege en veertig sekondes brand hulle die hoofmasjien om te verseker dat hulle steeds genoeg krag na die lansering het om die reis suksesvol te voltooi. 

Dag drie – alle onnodige dele van die ruimtetuig wat slegs vir die lansering benodig was, val af. Die groep vertel dat daar ’n fiasko op dag 3 was: die urine het heeltemal in die pype gevries. Dit het ongemak veroorsaak, maar is vinnig opgelos. 

Op dag vier tot ses beheer Koch en Jeremy die ruimtetuig en hulle verseker die regte pad na die maan. 

Dag sewe: Die Artemis wentel nou in die maan se atmosfeer en hulle kon vir die eerste keer vanaf 1 April ’n gesprek met hulle geliefdes op die blou planeet voer. 

Die landing van hierdie ruimtevaart is sonder twyfel die mees skrikwekkende deel. Op dag tien gaan die Artemis 2-ruimtetuig die aarde se atmosfeer binne teen ’n spoed van 40 000 km/h. Dit is die vinnigste spoed wat enige ruimtetuig al ooit gereis het. Tesame met die hitte van hierdie spoed is dit uiters gevaarlik en kan al vier ruimtevaarders in sekondes uitgewis word. Dit maak hierdie ekspedisie naastenby onmoontlik. 

Toe hierdie ruimtetuig dus op 11 April suksesvol geland het, het hulle geskiedenis gemaak en alle verwagtinge oortref. Die einddoel van hierdie missie was om te inspekteer of mense in die toekoms weer op die maan sal kan land. Ondersoek word nog ingestel, maar hierdie ruimtevaart was ’n uitstekende begin en skep hoop vir toekomstige ruimtevaarders. Christina, Jeremy, Victor en Reid beskryf hierdie reis as onvergeetlik en as ’n kinderdroom wat waar geword het. 

“We will always choose Earth. We will always choose each other.” 

– Christina Koch 

Carene Wiggins

Carene hou van sport, met honde speel en die see is haar gunstelingplek om te wees.