[Lisemarie van Dyk]
Soos ’n kompas rigting verander, so verander die lewe, totdat jy jou eindbestemming bereik.
In 2026 het DF sy nuwe naam, nuwe skoolhoof en ‘n nuwe era binnegetree. Dit is egter amper die einde van hierdie era vir die matrieks van 2026. Die Herout gesels met hierdie besonderse jaargroep oor hul hoërskoolervaring.
In 2022 het die matrieks as graad agts (of Schloffels) by DF ingestap, glimlaggend en gereed vir ‘n avontuur met die oorbruggingstema, “Verkenners”. Die meerderheid van vanjaar se matrikulante het in dié jaar by DF aangesluit, waar Covid, maskers en sosiale distansiëring die groep glad nie verhinder het om dadelik vriendskappe te vorm nie. In 2023 sou hulle deelneem aan hul eerste volledige DTBS en in 2024 het hulle deelgeneem aan DF se eerste Wasseshow. In 2025 sou die onderwysers begin preek oor hul punte totdat die laaste stryd in die vorm van hul matriekjaar na vore sou kom.
Aangesien ons nou by die tema van die naamsverandering is, kom ons kyk na die eerste matriekklas van DF Akademie se mening hieroor. 58.8% van die matrieks gee nie eintlik om oor die naamsverandering nie, want DF bly DF. 21.2% voel dit was onnodig, 11.8% glo nie dat dit hulle beïnvloed nie en 8.2% glo dit was ’n nodige en belangrike verandering.
Die matrieks is gevra om een aspek van hoërskool te kies wat vir hulle die belangrikste was die afgelope paar jaar. Die hoofantwoorde in dalende orde was vriende, akademie, om deur te kom en buitemuurse aktiwiteite. Die matrieks se gunsteling- buitemuurse geleenthede sluit hokkie, koor en kamerkoor, rugby en netbal in.
‘n Mens se matriekjaar is definitief jou besigste en mees veeleisende jaar. Van die druk om ’n matriekafskeidmetgesel te kry en al jou laastes te geniet, tot die akademiese druk en leierskapsverantwoordelikhede, is daar baie hoogte- en laagtepunte. Sover was die matriekklas se gunstelingdeel van hulle matriekjaar “Alles” met DTBS in ’n sterk tweede plek.
Dit is elke leerder se droom om in hulle matriekjaar die Flashes- en Geesbeker te wen. Dus is dit nie verbasend dat die matrieks se gunsteling-DTBS-kreet uit die vier jare (2023-2026) met 44.2% Listen Up (2026) is nie, en dan met 31.4% Into the Blue (2023). Hulle gunstelingmedleys, aan die ander kant, is Alhouetta, Afrikaans, H2O en Rebel.
Praat van DTBS (of voorheen MTBS) – dit vorm die meerderheid van die matrieks se gunstelingherinneringe in DF. Oor die algemeen was DF se gees tydens DTBS en Interskole die hoogtepunt, met toere, kampe en herinneringe saam met vriende ook as gewilde antwoorde. Ander antwoorde sluit in: “Die seuns se flippen hot audacity danse”, “In graad 8 het iemand ’n gat onder die hek gegrawe… toe moes ons onder die hek deurkruip om by kooroefening uit te kom. Sy het ligblou jeans aangehad, en ek het nog steeds ’n video daarvan.” en “Die McDonald’s langs DF (ons noem hom ‘Mc Do’, want snags werk net die letters ‘Mc Do’ op die bord).”
Dink aan al die vreemdste moontlike goed wat in ’n skool kan gebeur. Dit het waarskynlik al in DF gebeur. Die matrieks het verskeie unieke antwoorde gegee, wat net bewys hoe spesiaal en uniek DF is. Die hoogtepunte (neem dit met ’n knippie sout) sluit in:
- “Juffrou Wepener se tamatie-opening wat die hele saalperiode gevat het om te eindig.”
- “Die dak wat gebreek het.”
- “Die DF Giggles drama.”
- “Die infamous DF-rot wat vanaf 2022–2024 rondgehardloop het.”
- “Die muishond-insident.”
- “Die verlore naartjie-poster in 2022.”
- “Die Goat wat gedans het tydens flashes-oefening.”
- “Ons Engels-klas is in graad agt deur polisiehonde deursoek.”
- “Die eerste keer wat ek badkamer toe gegaan het in graad agt, het iemand ’n besem in my badkamerstalletjie gegooi.”
- “Toe ’n maatskappy AXE-spuitgoed vir al die seuns gegee het en hulle besluit het om ‘bomme’ daarmee te maak.”
- “Wanneer dit leesklas was en ons Roblox gespeel het, maar net betyds die skerms verander het voordat die leestannie ons vang.”
- “Toe die DTBS-span in die saal krieket gespeel het en die ligte raakgeslaan het.”
- “Tydens Interskole het een van Bellville se mascots my roomys gesteel.”
- “Die era toe daar random trollies op die skoolgrond verskyn het – soos die trollie op die AS se afdak.”
- “In gr. 8 het iemand ’n ‘slippery when wet’-bordjie in ’n plas water gesit.”
Die onderwysers in jou skoolloopbaan speel ’n groot rol in die hoeveelheid hindernisse wat ’n mens teëkom. Gelukkig is die meeste van DF se onderwysers hardwerkend en passievol. Die beste onderwysers volgens die matrieks is meneer Jordaan, meneer Brandt, juffrou Janse van Rensburg, meneer Dippenaar, juffrou Meyer en juffrou Buys. Dit is dalk van belang vir die ouer Dee-Effers dat meneer Bergh en Lundie steeds baie stemme ontvang het alhoewel hulle die skool verlaat het.
“Matriekvoorkeur” is die een gesegde wat ’n graad 8-leerder wat voor in die Koffieblikry staan, nie wil hoor nie. Alhoewel die jonger grade dit as onregverdig sien, gaan hulle ook soos die res van ons ontnugter word en die voordele daarvan geniet wanneer hulle in matriek is. 52% van matrieks bieg dat hulle matriekvoorkeur “gereeld genoeg” gebruik, terwyl 18% dit elke dag gebruik en 30% daarvan vergeet het.
Die matrieks is gevra om ’n liedjie te kies wat hul hoërskoolloopbaan die beste verteenwoordig. Die duidelikste wenners was Landslide deur Fleetwood Mac en Piano Man en Vienna deur Billy Joel.
Die toekoms en die lewe na skool is ’n vreesaanjaende gedagte vir elke matrikulant. 80% van die leerders het gesê dat hulle volgende jaar gaan studeer, terwyl ongeveer 10% gaan reis of werk en die res nog nie weet nie.
In graad 11 en 12 is ’n gereelde tema die oorweging tussen jou doodgewone skryfboek teenoor ’n iPad of tablet as skryfmedium. Alhoewel laasgenoemde meer gerieflik is as die ander, is dit ook veel duurder. 68% van die leerders gebruik slegs hulle skryfboeke, 21% gebruik slegs hulle digitale toestelle en 11% gebruik albei. Dit blyk dat die matrieks daardie iPad-geld eerder by die Koffieblik spandeer.
Die keuse tussen ’n snoepie-kaasbroodjie of ’n goedkoop sak muffins by Shoprite (voorheen die OK) is ’n moeilike besluit wat elke Dee-Effer al teëgekom het. Kan jy raai watter een die matrieks verkies? 58% sal liewer Shoprite toe gaan as na die snoepie.
Ek dink die meeste matrikulante kan getuig: Matriek is nie vir sissies nie! Die matrieks se raad aan die klas van 2027 het hoofsaaklik op balans gefokus. Die belangrikste boodskap was om elke oomblik van matriek te geniet, aan soveel moontlik skoolaktiwiteite deel te neem en die geleenthede wat die jaar bied te benut, omdat dit vinnig verbygaan. Temas wat herhaaldelik voorgekom het, was om jouself te wees, positief te bly, genoeg foto’s te neem, genoeg te slaap en die toekoms met vertroue tegemoet te gaan. Van die merkwaardigste raad (wat ook met ’n knippie sout geneem moet word) is “Leer hard, kuier harder” en “Doen alles en geniet alles”.
Met hoogtepunte kom daar egter ook kritiek. Die algemeenste frustrasies wat die matrieks genoem het, was graad 8’s wat die gange versper en aan die verkeerde kant loop. Baie leerders het ook verwys na stadige voetgangersverkeer oor die algemeen, jonger grade wat volgens hulle min respek toon en dink dat hulle dieselfde voorregte as matrieks het. Ander gereelde temas was huiswerk en moeilike akademiese eise, streng voorkoms- en skoolreëls, onderwysers wat onnodige werk gee of nie na leerders se menings luister nie en die gebrek aan afperiodes of rus.
Enkele antwoorde wat uitgestaan het was: “Die hoeveelheid geld wat ek al by die Koffieblik spandeer het”, “Die na pouse reuk in die klaskamers” en “Die feit dat ek moet vra om badkamer toe te gaan”.
As iemand wat in haar matriekjaar ’n nuwe skoollied moes aanleer, kan ek getuig dat dit nie maklik is om so baie verandering te sien nie. Nie net die naam of die skoolhoof nie, maar die mense wat jy leer ken en verloor, en die feit dat ’n graad 9-leerder nie verstaan as jy praat oor die medley “History” of “I Want You” nie.
Verandering is wel vir seker waaroor hoërskool gaan. Dit gaan oor hoe jy jouself leer ken en hoe jy groei in sport, kultuur, akademie en in jou verhoudings. Met hokkie- of rugbywedstryde, met lang saalperiodes of vinnige Wassebadperiodes, met mnr. Conradie of Oosthuizen, met ’n M of ’n A, is ek egter vas oortuig dat DF bly DF, en DF, jý is my kompas. Ek ken ook nou my ware Noord.
(Let wel: Inligting en statistiek vir hierdie artikel is verkry uit ‘n Google-vorm wat aan alle matrieks gestuur is.)
Lisemarie van Dyk
Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.
