[Angelina Smit]
Hierdie opskrif mag jou dalk dadelik laat dink aan die Duitse treffer Du bist gut genug dink. Selfvertroue is die positiewe oortuiging in jou eie vermoëns, vaardighede en waardes. Tog kan vriendskappe, sosiale media, familie en selfs skool jou soms laat voel asof jy moet verander om in te pas.
Die druk om in te pas
Is ek normaal? Pas ek in soos die ander kinders? Dit is vrae wat baie tieners hulself vra. Gedurende die tienerjare word daar baie norme en verwagtinge gestel. Byna elke tweede week is daar ‘n nuwe modeneiging, TikTok-dans of grimeringproduk wat almal wil uittoets, maar wat as jou video nie viral gaan nie? Wat as dit nie genoeg likes kry nie? Of wat as jy nie die geld het om die nuutste produkte te koop nie?
Baie tieners ervaar dan FOMO (Fear of Missing Out) en voel hulle moet saam met die stroom swem om aanvaar te word. Die waarheid is egter dat jy nie jou identiteit hoef prys te gee om in te pas nie.
Wees jouself
Baie tieners glo dat om in te pas vir hulle aanvaarding en emosionele veiligheid sal gee. Die tienerjare is juis die tyd om uit te vind wie jy is. Miskien hou jy van ‘n fliek wat niemand anders geniet nie, of dalk is jou klerestyl heeltemal anders as van jou vriende. Kruip uit jou dop en ontdek waarvan jy regtig hou. As jy heeltyd probeer om soos iemand anders wees, sal jy jou eie pad verloor.
Doen waarvan jy hou
Selfvertroue kom nie vanself nie – dit groei elke keer wanneer jy jouself uitdaag of iets nuuts probeer wat buite jou gemaksone is. Of jy nou daarvan hou om te teken, netbal te speel, musiek te maak of selfs eindelose wiskundesomme op te los, doen dit omdat jy daarvan hou. Moenie jou ore laat hang oor ander mense se opinies nie. Neem deel aan daardie sport of aktiwiteit waarvoor jy nog altyd te skaam was. Jy weet nooit waartoe jy in staat is voordat jy dit probeer nie.
Hoe bou jy jou selfvertroue op?
Begin deur die dinge raak te sien waarin jy goed is. Bou positiewe verhoudings met mense wat jou ondersteun en moedig jouself aan met vriendelike woorde – al voel dit aanvanklik vreemd. Rome is nie in een dag gebou nie, en dieselfde geld vir selfvertroue. Hoe meer jy op jou sterk punte fokus en ‘n positiewe houding kies, hoe makliker word dit om in jouself te glo.
Angelina Smit
Angelina is ‘n graad 8-leerder wat te veel oor flieks en musiek praat. Jy sal haar meestal vir nonsens sien lag en as sy kon, sou sy seker elke dag sushi wou eet.
