Toneelklub as ‘n Niksvermoedende Newbie

[Christina Bradley]

Toe ek in graad 8 by DF Akademie aankom en ek hoor van die toneelklub, was my eerste gedagte: Wat is dit nou eintlik?

En dus het ék, wat gewoontlik baie lief is vir drama, ongeïnteresseerd en niksvermoedend met my lewe aangegaan.

Grootste. Fout. Ooit.

Hierdie jaar het my maats egter so entoesiasties oor die toneelklub gepraat dat hulle my oorreed het om vir die oudisies te gaan. Dit was een van die beste besluite wat ek nog geneem het.

As ‘n beginner met min tot geen opleiding, het ek gedink ek is ‘n wonderlike aktrise toe ek met groot vreugde in die toneelklub inkom as Ivada in die toneelstuk Apokolips.

Soos die oefeninge gevorder het, het ek besef hoe min ek eintlik weet.  Ek het opgetree saam met ou toneelklublede Roux Boshoff, Olivia de Lange en René du Toit, wat almal baie kennis en ervaring na die produksie gebring het. Dit was inspirerend om saam met hulle te speel en uit hul voorbeeld te leer ten spyte van die kritiek en harde oefen.

Met al die kommentaar en verbeteringe, het ons stuk net al hoe meer verbeter. Gizela du Plessis, bekend vir haar werk as teaterregisseur, digitale skepper en opvoeder in die Wes-Kaap, is ons regisseur (die gekwalifiseerde leier verantwoordelik vir die interpretasie van ‘n stuk om dit in ‘n vertoning te omskep). Sy het baie moeite gedoen om die beste moontlike stuk op die planke te kry.

Elke oefening is bygewoon deur professionele mense om hul perspektief van die toneelstuk te gee en waardevolle insigte te deel. Francois du Plessis, ‘n digitale skepper en Gizela se vennoot, het meer as een oefening bygewoon om sy wenke en siening van die stuk te deel. Dr. Èmil Haarhoff, ‘n SAG-AFTRA-geregistreerde intimiteitskoördineerder, het baie oefeninge saam met ons kom werk om die stuk natuurlik en eg te laat voorkom. Selfs Johann Smit, draaiboekskrywer en skrywer van ons stuk, Apokolips, het ook een oefening kom bywoon om sy siening oor die karakters en die stuk te deel.

Al die moeite en oefeninge en harde werk is beloon toe ons uiteindelik voor ‘n gehoor kon optree: openingsaand by ons geliefde DF Akademie. Toe ek agter die stel op die verhoog staan, het ek begin dink oor alles wat kon verkeerd gaan en ek het net al hoe meer angstig geraak.

Maar Johann se wyse woorde het deur my kop weergalm: “Daar is niks so lekker as om magic op die verhoog te maak nie. Maak magic.”

En so was die eerste aand ‘n sukses. En die tweede aand, waar die hele saal amper heeltemal vol was, was … wel magic!

Dit is ongelooflik om deel van die toneelklub te wees en om so baie nuwe vaardighede te leer, maar dit is ook ‘n kans om nuwe mense, nuwe uitdagings en nuwe geleenthede te laat ontdek. 

So, as ek jou nie al klaar oorreed het nie, sê ek nou: Kom kyk en neem deel voor dit te laat is! Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie.

Christina Bradley

Christina is beslis ‘n sosiale persoon wat nie sommer jou naam gaan vergeet nie. Sy is mal oor musiek en kan nie daarsonder leef nie. Sy gee ook alles op die hokkieveld en sal enige tyd ‘n goeie boek vir jou kan aanbeveel.