Gee Kamp ‘n Kans

[Hanler van Eck]

Voel jy vasgevang in ‘n roetine? Gaan jou ouers dalk deur ‘n middeljarekrisis? Wel, die Herout het die perfekte oplossing vir jou: kamp!

Voordat jy ‘n gat in jou grondseil maak en met jou mede-kampeerders begin stry, is hier alles wat jy moet weet voor jou eerste kamp, betyds vir die Oktober-vakansie.

Daar is een fout, wat selfs ervare kampeerders nog steeds maak: om te veel te pak. Dikwels raak kampeerders paniekerig as hulle moet begin pak, en wonder hoe hulle daardie ekstra baadjie gaan inpas. Ironies genoeg, sal daardie selfde kampeerder vir die meerderheid van die naweek in dieselfde kampstoel bly sit. Die goue reël van pak vir ‘n kamp is: Pak eers die grootste en noodsaaklike kamptoerusting voor jy jou persoonlike items pak.

Nog iets wat elke beginner vinnig moet leer, is dat die weer ongelukkig nie saam met jou vakansieplanne werk nie. Een oomblik braai jy lekker in die son en dan die volgende oomblik probeer jy keer dat jou gazebo nie sy eie vakansie in die wind aanpak nie. Daarom is dit belangrik om navorsing te doen oor die temperatuurneigings van jou gekose kampterrein. Vat ook dus wat die weer-toep voorspel met ‘n knippie sout en wees gereed vir Moeder Natuur se veranderende buie.

Nadat jy jou tent opslaan, kan jy besluit hoe jou kampervaring gaan lyk. Die meeste kampplekke het staproetes, watervalle, damme of riviere, swembaddens, bergfietsroetes of ander aktiwiteite soos kajak. Die meeste kampaktiwiteite betrek jou dus by die natuur in ‘n poging om jou weg van jou foon te kry, so as jy dus enigiets uit hierdie artikel moet leer, is dit om kamp as een van die enigste geleenthede te sien waar jy jou alles moet gee om vir die eerste keer bietjie op te kyk en die mense en die wêreld rondom jou waar te neem. Dit is my uitdaging aan jou.

Kos is ook natuurlik baie belangrik wanneer jy jou kampnaweek beplan. Maak seker dat jou ouers maaltyd-beplanning doen vir elke dag van die naweek, want Checkers Sixty60 gaan heel moontlik nie jou braaibroodjiebestanddele kan kom aflaai nie.

As jy nog nie weet waar om jou eerste kamp aan te pak nie, is daar gelukkig genoeg opsies in en om die Wes-Kaap. Hier is my top-3 aanbevelings:

Doringlaagte naby Montagu is my eerste aanbeveling vir onervare kampeerders en gesinne. Dit het swembaddens, ‘n dam vir visvang en kano’s, ‘n klein golfbaan en genoeg aktiwiteite om die hele naweek besig te bly vir elke ouderdomsgroep. Daar is selfs ‘n warmwaterswembad in die kroeg wat slegs vir jou ouers beskikbaar is om bietjie van hul ouerverantwoordelikhede te ontsnap.

Buffelsbaai-karavaanpark is perfek as jy eerder jou tent met ‘n see-uitsig wil opslaan. Dit is die beste opsie vir see-aanhangers om bietjie tussen die branders te gaan swem en so naby as moontlik aan die strand wakker te word.

Oaksrest Vinyards is net buite Ladismith en is ideaal vir dié wat saam met ‘n groep vriende ‘n rustiger kampervaring wil geniet. Die kampterrein het vier staanplekke saam met ‘n dam vir visvang en swem, staproetes en bergfietsroetes en ‘n asemrowende uitsig van die berge.

So, as jou roetine te vervelig begin raak en jou ouers se middeljarekrisis hulle daartoe dryf om weg te breek, gee kamp ‘n kans hierdie Oktober-vakansie.

Hanler van Eck

Hanler is ‘n gr. 11-leerder wat onlangs ‘n liefde vir flieks ontdek het. Hy speel altyd Spoegwolf in die agtergrond as hy huiswerk doen of selfs wanneer hy na F1-wedrenne kyk.