Ouma weet mos …

[Isabella Huisamen]

Van gemmer tot heuning, suurlemoen tot borrie – Ouma lyk mal wanneer sy vir jou ‘n teelepel heuning aanbied wanneer jy vra vir ‘n Strepsil. Tog is daar groot waarheid in daardie bietjie heuning.

Die kanse is groot dat jy iewers al van vreemde natuurlike geneesmiddels gebruik gemaak het en die kanse is nog groter dat dit gewerk het. Die wetenskap agter tuisgeneesmiddels is werklik ongelooflik.

Dit is normaal om skepties te wees oor die natuurlike aspek van die huisapteek, want alhoewel daar talle natuurlike middels met baie voordele is, is daar net so baie wat gevaarlik kan wees vir die mens. Gelukkig is tuisgeneesmiddels op wetenskaplike navorsing gegrond en hierdie artikel is hier om jou daarvan te vertel.

Die geel geneesheer
Borrie word al vir die afgelope 4 000 jaar gebruik in tradisionele genesing. Borrie dien as ‘n natuurlike anti-oksidant en anti-inflammatoriese middel. Dit word aanbeveel vir mense wat probleme met artritis, sagteweefselbeserings en selfs angs ondervind. Studies bewys dat die aktiewe bestanddeel in borrie, curcumin, die wondermiddel is wat al die voordele inhou.

Vloeibare goud
Soet. Taai. Heuning. Dit is meer as net ‘n versoeter vir jou tee. Dit is ‘n anti-oksidant, natuurlike hoesstroop, wondgeneser en soveel meer. Dit bevat anti-bakteriese eienskappe wat bydra tot die bevordering van moderne wondgenesing tot die behandeling van ‘n seer keel. Heuning word vir soveel meer as net medisinale metodes gebruik. Dit is ‘n gesonde plaasvervanger vir geprosesseerde suikers asook ‘n anti-oksidant wat teen hartsiektes baklei en jou ingewande se gesondheid bevorder.

Die reuk van rus
Laventel is die pers plant wat so mooi lyk in jou bure se voortuin. Dalk is dit jou gunstelingreuk, maar het jy geweet dat daardie reuk afkomstig is van die olie in die plant? Tog is nie net die olie voordelig nie, maar die fisiese plant ook. Laventel kan gebruik word vir die bevordering van ‘n goeie nagrus asook vir angs en ‘n beter geestesgesondheid. Dit kan ook gebruik word vir spierkrampe en spasmas. Laventel kan in verskeie vorms gebruik word, afhangend waarvoor dit gebruik word, byvoorbeeld tee, olie en die plant as geheel. Volgende keer wanneer jy jou gunstelinglaventelkers ruik, wees bewus van al die voordele wat daardie klein pers plantjie kan inhou.

Die bogenoemde voorbeelde word deur die wetenskap ondersteun en word in die daaglikse lewe gebruik. Voordat jy na die Panado gryp, dink eers bietjie: wat het die natuur om te gee.

Bella Huisamen

Bella is ‘n avontuurlustige persoon wat dit geniet om nuwe uitdagings aan te pak. Sy spandeer dikwels haar tyd op die hokkie-astro of op die strand.