[Amelia Deacon]
Het jy geweet dat ongeveer 40% van leerders in Suid-Afrika nie skool klaarmaak nie? 12% van dié leerders druip matriek en slegs 25% van matrieks gaan studeer na skool by ’n universiteit of kollege.
Tieners is geneig om op te gee ten opsigte van skool of sport as gevolg van ’n teleurstelling. Niemand hou daarvan om te sukkel nie en ons verwag dat die lewe altyd maanskyn en rose moet wees. Ons is nie lus om die harde werk in te sit nie en dis baie makliker om op te gee as om iets na te streef en uithouvermoё toe te pas. Maar die waarheid is dat opgee ‘n mens nêrens bring nie.
Ons leer uit ons foute, nie uit ons suksesse nie. Dit is beter om te probeer en hard te werk om jou doel te bereik as om net van die begin af te besluit dat jy “nie kan nie”. Nelson Mandela het self gesê: “Dit lyk altyd onmoontlik totdat dit gedoen is.” So doen die moeilike goed in die lewe; dit kan mos nie seermaak om te probeer nie!
Tieners hou dikwels op met sport- of kultuuraktiwiteite omdat hulle voel dat die wêreld hulle oordeel. Hulle gee meer om oor ander se opinies as wat vir hulle werklik vreugde bring. Hierdie tipe tieners laat onbewustelik ander toe om hul lewens te beheer, aangesien tieners “in” wil wees. Tieners wil inpas en ingesluit voel, maar teen watter koste?
Wat skoolwerk betref: Hoekom is tieners deesdae tevrede met die minste? Hoekom wil hulle slegs die minimum werk insit en slegs die minimum prestasie bereik? Êrens langs die pad het tieners hoop en vertroue in hulself verloor en begin ophou strewe om hul volle potensiaal te bereik. Tieners het lui geraak en vergeet dat sommige korttermyn besluite hul toekoms negatief kan beïnvloed en geleenthede wegneem.
Nou is hul hoofprioriteit nie meer akademie, sport of kultuur nie, maar hul sosiale lewe en die media. Tieners vergelyk hulself met die wêreld daar buite en oorreed hulself dat hulle ’n teleurstelling is, wat nooit goed genoeg sal wees nie.
’n Paar voorbeelde van mense wat beserings en teleurstellings oorkom het deur harde werk en deursettingsvermoë, is Alexander Zverev en Natalie du Toit.
Toe Zverev slegs vier jaar oud was, is hy gediagnoseer met tipe 1-diabetes. Die dokter het vir sy ouers verduidelik dat hulle seuntjie nooit aan sport sal kan deelneem nie, maar tog is Alexander Zverev tans tweede in die wêreld ten opsigte van professionele tennis. Hy het toe hy net vyf jaar oud was al begin tennis speel en nooit opgehou werk aan sy droom nie.
Natalie du Toit is ’n bekende swemmer en alhoewel sy ‘n deel van haar been in ‘n poegie-ongeluk verloor het, maak sy die onmoontlike ’n moontlikheid. Hierdie atlete is ‘n groot inspirasies wat wys dat ‘n mens enige struikelblok kan oorkom.
Bewys vir jouself dat daar nog hoop vir jou drome is en dat jy enige iets kan bereik as jy net hard genoeg probeer. Volg jou drome ten volle en vertrou in jouself, want aanhouer wen!
Amelia Deacon
Amelia is ‘n graad 8-meisie wat na skool haar tyd in haar geliefkoosde balletskoene deurbring. Wanneer sy nie besig is om te dans nie, skryf sy die gedigte en stories wat al heeldag in haar kop rondhardloop, neer.
