Vrouedag en feminisme

[Ellie Herbst]

Ons vier Vrouedag elke jaar op 9 Augustus. Hierdie jaar is die 70ste herdenking van daardie historiese gebeurtenis. Ter ere hieraan, gaan dié artikel hopelik vir die leser beter insig gee oor feminisme en hoekom dit vandag nog steeds belangrik is.

Op 9 Augustus 1956 het 20 000 vrouens na die Uniegebou in Pretoria gemarsjeer. Hulle doel was om teen Suid-Afrika se paswette te protesteer. Die optog is beplan deur FEDSAW (Federation of South African Women) en ANCWL (African National Congress Women’s League), en is gelei deur vier vrouens, een van elke rassegroep waarvolgens mense tydens Apartheid verdeel is: Lilian Ngoyi (swart), Helen Joseph (wit), Sophie Williams (kleurling) en Raheema Moosa (Indiër). Vrouens wat verdeel is deur sosiale klas, geloof en ras het saamgekom om miljoene handtekeninge in te samel en om te werk na ’n gemeenskaplike doel.

Feminisme lyk vandag anders as wat dit in die verlede gelyk het. Baie mense hoor die woord “feminis” en dink aan iemand wat mans haat of net vryheid vir sékere vrouens (d.w.s. ryk, wit, cishet of gesonde vrouens) wil verkry.

Maar dit is mispersepsies. Die doel van feminisme is nie om te wys dat vrouens beter is as mans nie. Dit is om gelykheid te verkry tussen hierdie groepe mense wat histories met ’n wanbalans van mag tussen hulle geleef het. Mans kan ook feministe wees: Dit is nie ’n oorlogsverklaring teen jou eie geslag nie, maar ’n belofte aan die mense om jou dat jy almal met respek sal hanteer. Meer regte vir vrouens beteken nie minder regte vir mans nie.

Jy is nie ’n ware feminis as jy nie oor álle vrouens omgee nie; maak nie saak wat hul geloof, ras, inkomste, gestremdheidstatus of seksualiteit is nie.

Ons is almal ménse. Dít is wat feminisme probeer sê: Almal is waardevol en almal verdien respek, maak nie saak wat hul geslag is nie.

Dan is daar die vraag: Hoekom benodig ons nog steeds feminisme? Vrouens het dan gelyke regte. Nie alle vrouens kan dit sê nie. Vrouens in lande soos Afghanistan, Irak en Jemen het min toegang tot werksgeleenthede, en dus geld, en ervaar dus meer geslagsgebaseerde geweld in hul huise. Hulle het nêrens anders om te gaan nie.

Selfs in ’n land soos Suid-Afrika, kan jy nie werklik sê dat ons gelyk is nie. Vrouens verdien oor die algemeen minder geld as mans, al doen hulle presies dieselfde werk. Hulle het oor die algemeen minder politieke mag as mans. Dokters is minder geneig om vrouens se pyn ernstig op te neem. Minder as ’n jaar gelede is geslagsgebaseerde geweld as ’n nasionale krisis verklaar tydens die G20 Women’s Shutdown. Een uit drie vrouens in jou lewe het of sal geslagsgebaseerde geweld ervaar, want daar is nog steeds mans wat dink dat hulle geregtig is op ’n vrou se liggaam. Hulle is nie. Daar is party regerings en grondwette wat daardie eenvoudige stelling nog nie verstaan nie.

So: Wat kan jý doen? Wat kan jy doen om te help?

Wees luidrugtig, op enige manier wat jy kan wees. Praat, skryf, verf, maar maak seker mense kan jou hoor. Jy kan nie bekostig om stil te bly nie. Nie nou nie. Nooit nie.

As jy ongelykhied sien – in jou werkplek, jou skool, jou vriendenkring – sê iets.

As iemand vir jou sê dat hulle geweld ervaar, glo hulle.

En as jy agterkom jy is deel van die probleem: Leer. Dis nooit te laat om te probeer verbeter nie.

Ellie Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.