Stray Kids – regoor die wêreld

[Naomi Deacon]

Stray Kids is ’n Suid-Koreaanse K-popgroep met agt lede. Hulle het in 2018 hul debuut met hul eerste album, “I am NOT” gemaak. Deur die jare het hulle konstante harde werk ingesit om te groei as ’n groep en die punt waar hulle nou is te bereik – ’n wêreldbekende groep met miljoene aanhangers regoor die wêreld. 

Die reis om te kom tot waar hulle vandag is, was nie ’n maklike een nie. Om ’n K-popkunstenaar te word, moes hulle eers deur ’n maatskappy, in die geval JYPE, gekeur word. Daar is verskeie oudisierondtes gehou waaraan honderde kinders tussen die ouderdom van tien en sestien (aangesien hulle vir ’n paar jaar opleiding moet ontvang voor hulle kan debuteer) deelgeneem het. Slegs ’n paar is gekies, en die gelukkige minderheid wat wel genoeg talent besit het om deur te skraap, moes dikwels ver van hul huis en families woon om die oefeninge te kan bywoon.

Die omgewing binne-in JYPE self was baie kompeterend. Hulle moes hulself konstant bewys – as hulle goed genoeg was, kon hulle debuteer, as hulle nie was nie, sou hulle elimineer word. Een van Stray Kids se lede, Bang Chan, was vir ses jaar by JYPE voordat enige van die ander lede aangesluit het: Nooit goed genoeg om te debuteer nie, maar ook nooit sleg genoeg om uitgeskop te word nie.

Stray Kids is nie juis op die tradisionele manier saamgestel nie. Gewoonlik sou die maatskappy lukraak lede met baie potensiaal saamvoeg. Die groep sou dan volgens elke lid se individuele sterkpunte geëvalueer word voor die finale groep saamgestel word.

In Stray Kids se geval het Bang Chan elke lid een vir een gekies omdat hy iets uniek in hulle raakgesien het. Dit het daartoe gelei dat Stray Kids, alhoewel hulle nie oorspronklik op vaardigheidsvlak bo die ander groepe uitgestaan het nie, ’n gevoel van eenheid gehad het wat hulle van die ander groepe onderskei het. Verder het JYPE ’n nuwe strategie getoets deur verskeie moontlike groepe saam op ’n realiteitsprogram te plaas, waarvan Stray Kids een was. Die doel van die program was om die groep met die meeste potensiaal te identifiseer en hulle ’n kans te gee om te debuteer. Na talle ure se werk het Stray Kids bo die res uitgestaan en is hierdie geleentheid aan hulle gebied. 

Dit was nog nie die einde van die harde werk wat hulle moes insit voordat hulle hul hoop vir ’n toekoms as K-popkunstenaars ’n realiteit kon maak nie. Hulle het nog baie oefening en verbetering gehad wat hulle moes doen voordat hulle gereed sou wees. JYP, die hoof van JYPE, het hulle self gementor en hulle gewaarsku dat enige van die lede wat nie sy standaarde bereik nie, die groep sou moes verlaat. Tydens hierdie tydperk van intense oefening is twee van die lede, Lee Know en Felix geëlimineer. Die groep, wat baie na aan mekaar gegroei het, het gesukkel om aan te pas sonder hul vriende. Nadat hulle geëlimineer is, het Felix en Lee Know aangehou om hard te werk aan hul sang, dans en kletsrymvermoë. Gelukkig het JYP na ’n ruk agtergekom die groep voel nie dieselfde sonder dié twee lede nie en het, beïndruk deur hul vasberadenheid om aan te hou werk, besluit om hulle weer deel van die groep te maak. Stray Kids het op 25 Maart 2018 suksesvol gedebuteer.

Sedertien het hulle al meer as 120 pryse vir hul musiek gewen en 16 daesangs, wat die grootste toekenning is wat in Korea gewen kan word vir musiek. Hulle het saam met talle bekende kunstenaars gewerk, soos LiSA in hul liedjie “Social Path”, saam met Tiger JK in “Topline” asook League of Legends waarvoor hulle die treffer “Come Play” geskryf het wat voorkom in die finale gevegtoneel aan die einde van die  TV-animasiereeks, Arcane. Hulle het ook in 2024 “SLASH” vrygestel wat in die film Deadpool & Wolverine gebruik is.

Stray Kids se musiekstyl word dikwels beskryf as innoverend, uniek en voor hul tyd. Hulle skryf betekenisvolle lirieke waarmee duisende mense kan vereenselwig. Hulle musiek word gekenmerk deur die verskeie stemtone wat in die musiek gehoor kan word, vinnige kletsrym en agtergrondklanke wat beskryf kan word as die groep se eie unieke styl. Hulle musiek is dikwels baie hard en dit is moeilik om ’n spesifieke genre daaraan toe te skryf aangesien hulle gesamentlik meer as agtien ure se musiek het – en geen twee van hul liedjies klink dieselfde nie. 

Daardie agtien ure se musiek is sterk op pad na neëntien toe, aangesien hulle op 7 Augustus hul nuwe album, “This & That”, vrystel. Stray Kids is tans baie aktief. Hulle het op 25 Julie hul RUN IT-wêreldtoer in Seoul afgeskop en is van plan om vir omtrent ’n jaar regoor die wêreld te toer.

Elke lid van Stray Kids het ’n Skzoo (’n verteenwoordigende dier in die vorm van ’n gestopte speelding) gebaseer op hul persoonlikhede en fisiese kenmerke. Skzoo’s, sowel as fotokaarte en albums, is baie gesog onder hul aanhangers (STAY’s), wat dit dikwels versamel.

Stray Kids is baie interaktief met STAY’s, en hou gereeld lewendige uitsendings op platforms soos Instagram en hul eie toep, FANS. Hulle maak gereeld inhoud waarin hulle speletjies speel of net met mekaar gesels en dit is duidelik deur hul interaksie dat hulle baie lief is vir mekaar. Hulle maak ook ’n punt daarvan om hul waardering vir STAY uit te druk. Hulle het al verskeie liedjies geskryf wat spesifiek gerig is op STAY en het onlangs vir hulle hul eie Skzoo ontwerp.

Stray Kids het ’n sêding: “Stray Kids everywhere, all around the world, you make Stray Kids stay.” Bang Chan verduidelik dat hulle verwys na al die mense in die wêreld wat voel dat hulle verlore is of nie ’n plek het waar hulle aanvaar voel nie, en roep hulle bymekaar. Hy bied vir hulle ’n plek waar hulle geliefd kan voel en deel wees van ’n wêreldwye familie kan wees. 

Stray Kids se doel is nie net om goeie musiek te maak nie; dis om mense te bereik deur hul musiek en vir hulle ’n plek te gee om te behoort.

Naomi Deacon

Naomi bring haar skooldae met haar neus in ‘n boek en ’n pen in haar hare deur. Die verf op haar hande spreek boekdele oor haar kreatiwiteit, maar as dit groen is, is dit van die plantjies wat sy kweek.