[Izabelle Visser]
Verbeel jou jy en ‘n maat staan in die ry by Ster-Kinekor en julle kan net nie besluit watter tipe fliek julle wil kyk nie.
Hier volg nege filmgenres wat jou kan help met hierdie groot besluit:
- Aksiefilms
Hierdie rolprente is vinnig. Dit bevat ‘n alles-of-niks aspek wat jou op die punt van jou stoel hou om te sien wat die karakters volgende gaan doen. Dit bevat gevegte, ontploffings en toertjies wat jou hart tot in jou maag laat sak. Die algemene storielyn bevat gewoonlik ‘n held wat teen ‘n antagonis baklei. Voorbeelde van hierdie aksiebelaaide films is Die Hard, John Wick, Fast and Furious en Mission: Impossible.
- Komedies
Dit laat jou lag en omskep ‘n vervelige of ernstige toneel in iets wat jou maag laat kramp en jou oë laat traan van die lag. Dit neem ‘n alledaagse aksie en verander dit in een groot, interessante grappige storie. Dit is films soos Step Brothers, You Don’t Mess with the Zohan, Bridesmaids, Ace Ventura: Pet Detective en Austin Powers.
- Avontuurfilms
Hierdie films weerspieël ‘n reis na die onverwagte en die verkenning van nuwe onontdekte plekke of die versoeking van antieke tempels en gode. Daar is spanning en geënkripteerde kodes en geheime paragrawe wat alles na die gewenste antwoord lei. Avontuurrolprente is Indiana Jones, Jurassic Park, Pirates of the Caribbean en Back to the Future.
- Misdaadfilms
Dit volg gewoonlik ‘n speurder wat van ‘n gebeurtenis moet probeer sin maak en die legkaartstukkies bymekaar moet pas. Dit laat die wiele in jou brein draai terwyl jy die gebeure saam met die speurder oplos. Hierdie films is byvoorbeeld Enola Holmes, Hot Fuzz, Zodiac, Murder on the Orient Express en Knives Out.
- Gruwelfilms
Dit is vreesaanjaend, naar, skrikwekkend en grusaam. Hierdie tipe films sal jou nagmerries en slapelose nagte gee. Dit laat jou heeltemal uitasem met sweet op jou wenkbroue. Voorbeelde van gruwelfilms is Scream, The Conjuring, The Blackphone, Silence of the Lambs en The Shining.
- Fantasiefilms
Hierdie films is propvol magiese en mitologiese wesens soos feëtjies, drake, kabouters en elfies. Dit is ‘n venster na ‘n opgemaakte wêreld waarin daar antagoniste is, soos hekse en nare koninginne, wat die helde, soos die prinsesse, vervloek. The Wizard of Oz, Lord of the Rings, The Chronicles of Narnia, Alice in Wonderland en Harry Potter is voorbeelde van fantasiefilms.
- Romanses
Dit is ‘n tuimeltrein van emosies, gevoelens wat met mekaar oorvleuel en brandende konfrontasies. Hierdie films gee jou skoenlappers in jou maag en hartjies in jou oë. ‘n Paar goeie romantiese films is 27 Dresses, Me Before You, Love Actually, Love at First Sight en La La Land.
- Wetenskapfiksie-films
Dis ‘n wonderwêreld van die spekulatiewe toekoms en tegnologie buite ons beheer. Dit sluit ruimtevaarders, ruimteskepe en die reis deur tyd in. Daar is eienskappe van ons regte wêreld, vermeng met die wildste wetenskapmites. Voorbeeldes van hierdie films is Inception, The Matrix, Interstellar, The Martian en The Terminator.
- Rillers
Dit is ‘n spanningvolle film wat flits tussen opwindende aksies wat jou oë laat rek en gebeurtenisse wat so stresvol is dat jou tone krul. Ná die verhaal blaas ‘n mens die asem uit wat jy nie eers geweet het jy inhou nie. Dis films soos Memento, Obsession, Gone Girl, Seven en The Sixth Sense.
Hierdie filmgids sal jou beslis help om te kies waarvoor jy lus is, sonder die doellose rondblaai op Netflix op soek na ‘n goeie film.
Izabelle Visser
Izabelle is ‘n graad 9-leerder wat dikwels ontspan deur skaak te speel. Sy hou van die uitdagings wat Afrikaanse debat haar bied en is gereeld lus om ietsie soets te bak.
