Laastes, maar nie die minste nie

[Amé Breytenbach en Mieke Verster]

Met ‘n kwartaal vol nuwe eerstes vir ons graad 11-leerders, is daar net so baie wat tot ‘n einde kom vir ons klas van 2026. Interskole het alweer te vinnig verby gevlieg, skooltoere is nou iets van die verlede en die graad 11’s is maar net te gretig om hul plekkie by die matriekbome vas te maak. Deur al hierdie veranderinge en onsekerheid bly een ding wel konstant: Vat ‘n breek van die bedrywighede en geniet die Herout!

Met gesigte wat links en regs geverf word, Toet vir DF wat elke Dee-Effer se ouers gate uit geniet en gees wat die Katjies laat bibber, was 2026 se interskole beslis bedrywig. DF is Dinsdag met blou, wit en geel geverf en by die interskoledebat moes Bellville stert tussen die bene terug huis toe gaan. Tussenin het die kookkompetisie, e-sport, spelathon, landloop en skaak die Dee-Effers besig gehou tot Vrydag se hokkie. Al ons spanne het op die hokkieveld presteer en alhoewel ons netbalspanne Saterdagoggend die Leeus bietjie onderskat het, kon ons eerste netbalspan hulle steeds met twee doele wen. Ons eerste rugbyspan het tot die finale fluiting hul blou harte uitgespeel en ons is trots op elke speler, asook al ons ondersteuners, wat hierdie ‘n onvergeetlike week gemaak het. 

Met die grootste deel van ‘n vinnige kwartaal agter die rug, lê die meeste opwinding nog vir die graad 11’s voor met graad 11-dag om die draai. Die tyd raak min met ‘n klomp nuwe gesigte wat vinnig hul merk probeer maak en hul DF-harte probeer wys. Die nuwe proefleiersisteem is aan die gang en volgende kwartaal sal DF spog met 2027 se leerderraad wat hul beste probeer om die huidige senior- en mentorraad se groot skoene vol te staan. Die Herout wens die graad 11’s alle sterkte toe met hierdie proses.

Die matrieks skarrel nou om hul studieroosters te finaliseer en met ‘n rekordeksamen kort op hul hakke, hoop ons dat elke matriekleerder al begin voorberei het. Dit is vreemd om te dink dat die matrieks van 2026 se tyd nou na ‘n einde kom en met matriektee-uitnodigings wat uitgestuur word, kan ons ons net indink hoe swaar elke matriekleerder se hart voel… Of dalk is sommiges net te bly om met hul grootmenslewens te begin. Die res van die skool het darem nog ‘n paar weke om hul laaste vrae te vra voor die toetsreeks hulle ook vang…

Alhoewel matriekafskeid nog ver weg voel, is dit iets waaraan elke matriekleerder nou al begin dink. Is die kar gereël? Pas my rok of pak? Waar gaan ons foto’s neem? Ons wens elke matriekleerder sterkte toe met hierdie vrae en hoop dit is ‘n glansgeleentheid wat hulle nooit sal vergeet nie. 

Terwyl die kwartaal gevul is met laastes vir ons matrieks, is dit ook gevul met eerstes vir ons toekomstige dirigente. ‘n Brawe nuwe groep is al hard aan die oefen en dans met oudisies vir die interhuisbyeenkoms aan die einde van die kwartaal – ‘n stappie nader aan die droom van ‘n DTBS-dirigent. DF hou aan om te wys dat ons het wat dit vat, met DF Akademie wat een van vier skole is wat deurgedring het na die finaal van Vreesloos 2026 later in die jaar. Ons is baie trots op ons leerders en sien uit om ons span ook later te gaan ondersteun. 

Ons almal kan saamstem dat dit ‘n besige kwartaal was en ongelukkig moet die toetsreeksberg nog uitgeklim word voordat ons met ‘n kort vakansie kan asem skep. Tussen die matrieks se totsiens, nuwe veranderinge en die naderende toetse, is die Herout egter hier om as ‘n konstante vir jou te dien. 

Boodskap van Mieke:

Met ‘n hartseer hart is dit nou my beurt om totsiens te sê vir die skoolkoerant wat al amper my hele hoërskoolloopbaan saam met my stap. Van in graad 9 my eerste artikel oor die Netbalwêreldbeker skryf tot nou, waar ek elke kwartaal iemand se verbeteringe in hul taal- en skryftegnieke kan raaksien en tyd spandeer met ‘n span wat só passievol is oor ons koerantjie. Dit was regtig ‘n voorreg om deel te wees van hierdie DF-familie.

My liefde vir lees en skryf het op ‘n jong ouderdom begin, toe my mamma my weekliks biblioteek toe geneem het en ek vir ure lank na die beste feëtjieboek gesoek het. Ek dink Amé, my subredaktrise hierdie afgelope jaar, deel daardie liefde en daarom was dit altyd net ‘n plesier om saam met haar te werk. Ons vriendskap is iets wat so na aan my hart lê en daarom wens ek haar en haar twee nuwe subredaktrises, Izabelle Visser en Emma Schneeberger, alle sterkte toe met die pad wat nog voorlê. Dankie juffrou Fuchs vir elke laat aand en afperiode wat Juffrou ook opoffer om hierdie een van die topkoerante in die land te maak. Dankie Hanler dat ek enige tyd vir jou ‘n stemnota oor my swak rekenaarvaardighede kon stuur en dankie aan Milandi, vir jou ongelooflike harde werk om elke joernalis se woorde op ‘n spesiale manier te kon vasvang.

Dankie Herout vir ‘n onvergeetlike vier jaar saam! Deur dik en dun was die Herout my konstante en ek is opgewonde om te sien hoe ons koerant nog gaan groei.❤️

Amé Breytenbach en Mieke Verster

Amé is ‘n graad 11-leerder wat lief is vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.

Mieke is ‘n graad 12-leerder wat ontdek het dat koffie jou beste maatjie moet word as jy matriek wil slaag. Sy het ‘n liefde vir netbal, dans, om tyd met familie te spandeer en om die Herout se spelfoute reg te maak.