[Hanler van Eck]
Met die bedrywige kwartaal van aansoeke vir omtrent elke moontlike droomposisie in die skool agter die rug, het bietjie meer as 50 van ons bloubloed graad 11’s die Oktobervakansie op die oewers van die Oranjerivier in Namibië deurgebring. Vir die 53ste keer in DF se geskiedenis het die toer plaasgevind en hierdie jaar het die #blessed-slagspreuk die mentalitiet van die groep geword na die doop van ‘n spesiale groen kano.
Met hul nuwe maroen toerhemde en ‘n paspoort, het die opgewonde groep om 23:30 op Donderdag 1 Oktober hul senuweeagtige ouers agtergelaat en weggetrek na die groot rivier. Slegs ‘n ligte gesnork en ongemaklike posisies het ‘n paar arme siele wakker gehou terwyl hulle verder en verder in Suid-Afrika beweeg het, met twee vinnige stoppe by Piketberg en Klawer waar hulle soos zombies vinnig die badkamers besoek het. Teen dagbreek het hulle by Springbok gestop waar hulle Redbulls en Jungle Bars gekoop het vir die roeiery wat hulle binnekort sou moes aanpak, veral na die slaapsessie wat hulle nou net oorleef het.
Na die langdradige proses by Vioolsdrif en Noordoewer se grensposte, kon die graad 11’s uiteindelik na 12 ure die Namibiese grens oorsteek en by Amanzi stop. Voordat hulle wel hul broodnodige, stresvrye avontuur kon begin, moes elke leerder en hul roeimaat twee 24 liter-emmers per persoon en een koelerboks vol ys per kano pak met die oormaat klere en versnaperings wat hulle gebring het. Met Albert, een van die hoofgidse, se veiligheidsinligtingsessie agter die rug, is die kano’s gepak en het die graad 11’s die rivier ingevaar.
Die watergewere het nie lank in die kano’s gelê voordat dit absolute chaos was nie. Die Oranjerivier is in ‘n oorlogsone verander en Albert se reëls is onmiddellik deur die opgewondenheid vergeet is. Die stroomversnellings was weens die hoë watervlak redelik rustig, maar dit het nie beteken dat niemand se kano’s omgeval het nie, want daar was verbasend baie roeiers wat kop eerste in hul avontuur geduik het: letterlik. Teen laatmiddag het almal by die eerste kampplek aangekom, waar die kampvure aangesteek en slaapsakke uitgerol is. Die aanpassing van geen toilette en ’n onverwagte donderstorm het egter vinnig gewys dat die buitelewe nie net uit mooi oranje-gekleurde sonsondergange bestaan nie (alhoewel die Namibiese sonsondergang definitief nie teleurstel nie).
Saterdagoggend, na die geklaery van die vorige aand se reën, het die groep weer die rivier aangedurf en by ‘n sandbank gestop vir middagete. Die hoë watervlak het ongelukkig beteken dat hulle nie die gesogte Nappy-rit-rekord soos vorige jare kon aandurf nie, maar swem, ‘n lekker vlugbalsessie in die water en sokker saam met die gidse het darem opgemaak daarvoor. Na bietjie meer van ‘n uitdagende deel van die rivier, het hulle ‘n rustige aand onder die helder sterre en die Melkweg geniet met die kampvure wat tot laat in die aand gebrand.
Sondag het hulle die rofste en moeilikste deel van die rivier aangepak: die Sambok-stroomversnellings wat die 30 kilometer-merk in die avontuur aangedui het. Die versteekte klippe en die sterk golwe het heelwat kano’s laat omslaan, insluitend die van ‘n gids wat al die verdwaalde emmers en koelerbokse moes gaan red het. Die dag het darem op ‘n mooier noot geëindig met ’n pienk sonsondergang saam met die plaaslike muggies wat graag deel van die kampvuurstories wou wees.
Teen Maandag het die laaste dag op die water aangebreek. Ná ’n rustiger roete by Witches’ Hat, waar daar tyd was vir foto’s en ’n laaste swem, het die groep uiteindelik die kano’s uitgehaal. Altesaam 63 kilometer later was die roeiery verby. Die rit terug na die Amanzi-basiskamp het net sowat ’n uur geduur, heelwat vinniger as die vier dae se roeiery op die rivier. Daar het almal geëet, gerus en die luukshede van ’n welverdiende stort herontdek.
Die graad 11’s se roeitoer het dus amptelik op ‘n einde gekom en hulle het vroeg Dinsdagoggend die groot rivier gegroet het, sterk op pad huis toe met ‘n bietjie meer waardering vir hul eie beddens.
Kort vrae en antwoorde deur die graad 11-roeiers:
- Wat was jou gunsteling- of snaaksste herinnering van die toer?
Miné de Villiers: “Toe ek en Karla (van der Walt) op dag een ‘n gedeelte van ‘n boom getref, wat in die water weggekruip het, en toe voor almal omgeval en weggedryf het.”
Caro Thirion: “Toe ons die eerste aand in die reën onder die seil gesit het om droog te bly. Dit is definitief nie iets wat ek al ooit in my lewe moes doen nie, so dit was ‘n interessante belewenis.”
- Het jy iemand beter leer ken op die toer? Indien ja, wat het jy van hulle geleer?
Caro Thirion: “Ek het omtrent al my vriende op ‘n nuwe manier leer ken, maar ek het ‘n klomp nuwe vriende gemaak. Die interessante feit wat ek geleer het was dat Schalk (Wim) baie van pienk hou. Sy swembroek was pienk en die draaitjie van sy sonbril was pienk en hy het dit duidelik baie geniet om saam met my in die Pink Panther te roei.”
- Wat sou jou boodskap wees vir die roeiers van volgende jaar?
Isobel Booysen: “As jy gaan, gaan jy nie net amazing vriende maak nie, maar jy gaan herinneringe maak wat jy eendag vir jou kinders gaan vertel, die beste tan ooit kry en besef hoe wonderlik die natuur regtig is.”
Karla van der Walt: “Dit is ‘n ongelooflike toer, jy leer mense beter ken en maak kosbare vriendskappe. Jy maak nuwe inside jokes en jy het vreeslike mooi foto’s wat jy eendag weer na kan terugkyk.
Hierdie groep graad 11’s beskou almal die roeitoer as ‘n hoogtepunt van die jaar en sê baie dankie aan juffrou Van Hulst, haar span en die gidse by Amanzi Trails. Sonder julle sou hierdie asemrowende toer nie ‘n moontlikheid gewees het nie. Dit word bewys deur die ware woorde van Miné: “Sonder hulle sou my koelerboks en bagasie al lankal in die oseaan wees. BAIE DANKIE!”
Hanler van Eck
Hanler is ‘n gr. 11-leerder wat onlangs ‘n liefde vir flieks ontdek het. Hy speel altyd Spoegwolf in die agtergrond as hy huiswerk doen of selfs wanneer hy na F1-wedrenne kyk.
