Agter die klaskamerdeur

[Don-Lin Hoon]

Onderwysers werk baie hard vir ons, maar kry hulle altyd die respek wat hulle verdien?

Elke dag kom onderwysers skool toe om ons te leer en te help. Hulle spandeer baie tyd om lesse voor te berei, ons werk te merk en seker te maak ons verstaan wat ons in die klas leer. Maar ongelukkig word onderwysers nie altyd met die hoeveelheid respek behandel wat hulle verdien nie. 

Een van die probleme is hoe sommige leerders teenoor onderwysers optree. Party leerders luister nie, praat terug, steur die klas of is ongeskik teenoor onderwysers. Dit kan dit baie moeilik maak vir ’n onderwyser om klas te gee. Dit kan ook veroorsaak dat ander leerders nie behoorlik kan fokus nie. Volgens die Suid-Afrikaanse TALIS 2024-verslag, ervaar onderwysers baie spanning as gevolg van probleme met leerders se gedrag. Sommige onderwysers ervaar selfs verbale mishandeling en intimidasie van leerders. 

Onderwysers het ook baie werk om te doen. Hulle moenie net klasgee nie. Hulle moet boeke merk, toetse opstel, lesse voorberei en baie administrasie hanteer. Volgens die TALIS 2024-verslag, gee Suid-Afrikaanse onderwysers gemiddeld ongeveer 26,6 uur per week klas en spandeer hulle ongeveer 7,1 uur per week aan merkwerk.

Wat sê ’n onderwyser?

Juffrou T. Frankfort, ’n wyse en toegewyde onderwyseres, asook my voormalige laerskoolonderwyseres, het haar mening oor die druk wat onderwysers ervaar, gedeel:

“Although teachers deal with ’teacher-tired’ and episodes of burnout, we still show up the next day with a smile and 110% of ourselves to be the best version to our kids and offer a little ray of sunshine to a child in need, because at the end of the day we might be drained by admin, be bullied by undisciplined kids and experience constant pressure from the department, but will always show up for our kids. This is why teaching is not just a job but a calling. We just wish we had more support and less pressure.”

Ek dink hierdie woorde wys hoe baie onderwysers vir hulle leerders omgee, selfs wanneer hulle self moeg en onder druk is. 

Die regering plaas ook druk op onderwysers. Wanneer daar nie genoeg geld of onderwyserposte is nie, kan klasse groter word en kan daar meer werk op minder onderwysers se skouers rus. Onderwysers moet dan probeer om elke leerder te help, terwyl hulle reeds baie ander reëlings en werk het. Dit kan veroorsaak dat hulle oorweldig en uitgeput voel. Die regering het wel geld beskikbaar gestel om duisende onderwysers in klaskamers te behou, maar die druk op onderwysers bly ’n probleem.

Volgens die OECD se TALIS 2024-data, is net 26% van Suid-Afrikaanse onderwysers tevrede met hul salarisse. Dit kan wees hoekom sommige onderwysers voel dat hulle harde werk nie altyd genoeg erken of beloon word nie. Ek dink leerders, ouers, skole en die regering moet almal saamwerk om dinge beter te maak. Leerders moet onthou dat onderwysers ook mense is. Hulle raak moeg, hulle raak gespanne en hulle kan ook seerkry wanneer mense hulle sleg behandel. Onderwysers help ons om te leer en om voor te berei vir ons toekoms. Hulle doen baie meer as om net voor in ’n klas te staan en werk te gee. Daarom moet ons hulle meer respekteer en waardeer. Miskien is dit tyd dat ons ophou vra wat onderwysers nóg vir ons kan doen, en begin vra wat ons vir hulle kan doen.

Don-Lin Hoon

Don-Lin is in graad 8 en sy is mal oor skryf en lees . Sy hou van die natuur en is altyd reg vir ’n nuwe avontuur.