Dinamiese Duitse uitruilprogram

[Nicola van Blerk]

Het jy al ooit ’n Berliner probeer? Net 16 studente van DF, Stellenberg en Tygerberg het die kans gekry om aan hierdie spesiale uitruilprogram deel te neem, om nie net hul Duitse uitspraak te verbeter nie, maar om as Suid-Afrikaners  konneksies te vorm met Duitsers.

Soet herinneringe het op 20 September teruggevloei toe ons Suid-Afrikaners met hulle Duitsers (wat hulle vroeër die jaar in Suid-Afrika besoek het) herenig is. Die families het ons met oop harte verwelkom na ’n treinrit van Frankfurt na Kassel. 

Ons eerste bestemming was die stadsaal van Kassel. Die burgemeester van die stad het ons vriendelik in Duits gegroet met ’n gedetailleerde toespraak en ’n klein geskenkie om seker te maak dat ons soos ware stadsburgers voel.

Ons het saam aan stadsaamtrekke deelgeneem om die uitstekende argitektuur te kon bestudeer en herinneringe saam met nuwe mense te skep. Ons kon ook ons Duits oefen terwyl ons groot dele van Kassel ontdek het met behulp van ’n paar vriendelike Duitsers.

Schloss Wilhelmsthal – een van die bes bewaarde Rokoko-paleise in Duitsland – was ‘n hoogtepunt. Dit is in 1743 gebou as ’n plesierpaleis vir Landgraaf Wilhelm die VIII. Die kasteel is in die laat barokstyl ontwerp, maar die binnekant is omskep in ’n Rokoko-meesterstuk. Hierdie kasteel is selfs deur Napoleon se broer gebruik nadat Duitsland deur die Franse oorgeneem is. Hierdie kasteel behou steeds sy oorspronklike vorm, aangesien dit nooit vir lang periodes gebruik is nie.

Ons het ook die Grimm Welt-museum besoek wat as ’n herdenking van die Grimm-broers dien. Te danke aan hierdie twee broers ken ons vandag sprokiesverhale soos Rooikappie, Hansie en Grietjie en selfs Sneeuwitjie. Hulle sprokiesversameling is selfs in UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) se Memory of the world-register opgeneem. Maar hierdie twee broers het nie net sprokiesverhale geskryf nie. Hulle het vir dekades lank aan die Duitse woordeboek gewerk, wat beslis nie ’n maklike taak was nie.

Ons het selfs ’n vakansie van vier dae in Berlyn geniet. Eerstens het ons die parlementsgebou, die Reichstag  besoek. Hierdie gebou is in 1871 gebou as ‘n uitbeelding van Duitsland se geskiedenis. Die gebou bestaan uit verskeie elemente van verskillende boustyle — Renaissance, Barok en Klassisisme. Maar hierdie gebou is ook bekend as die gebou wat in Februarie 1933 afgebrand is deur Marinus de Lubbe. Hierdie gebeurtenis het die politieke terrein van Duitsland sowel as die res van die wêreld, bepalend verander.

Ander monumente soos die Oorwinningskolom is ook besoek. Hierdie monument is in 1873 voltooi om die Pruisiese militêre oorwinning oor Duitsland te vier. Teen die tyd wat die gebou voltooi is, het die Pruise vir Oostenryk en Frankryk verslaan, wat daartoe gelei het dat die bronsbeeld van die Romeinse godin van oorwinning, Victoria, bo-op gevoeg is. Die monument het ook ’n uitsigplatform wat oor die stad uitkyk, maar vereis dat jy 285 trappe na bo moet klim.

Ons het ook Keiser Wilhelm se gedenkkerk besoek. Die mure van die kerk bestaan uit ’n beton heuningkoekstruktuur waarin meer as 20 000 unieke stukke geverfde glas ingelê is. Hierdie kerk was oorspronlik ’n Neo-romanse kerk wat in die 1890’s gebou is, maar is ongelukkig beskadig tydens ‘n bomaanval tydens die Tweede Wêreldoorlog en oorgebou in 1961.

Hierdie uitruilprogram was ook ’n groot geleentheid om meer te leer oor die kultuur, geskiedenis en taal van die Duitsers en jouself te dompel in die daaglikse lewe van ander mense. Die Duitsers was wonderlike gashere en ons 16 Suid-Afrikaners het mekaar op ’n ander vlak leer ken, wat  andersins nie moontlik sou wees nie.

Nicola van Blerk

Nicola is ‘n graad 11-leerder wat mal daaroor is om ’n boek van enige aard te lees. Sy kan vir ure oor enigiets praat wat te doen het met geskiedenis of literatuur.