[Hanler van Eck]
Hoe vreesloos is ons regtig? DF het vanjaar as verdedigende kampioene van Radio Tygerberg se Vreesloos-kompetisie dié vraag behoorlik getoets met ’n finale rondte van uitdagings wat bewys het dat vreesloos nogal ’n wye konsep is.
Vroeg in die tweede kwartaal het Radio Tygerberg by DF se deure kom klop, waar skole in die omliggende gemeenskappe ’n uitdunrondte moes slaag met ’n reeks uitdagings wat die skool se vrees en gees getoets het. Hoërskool Melkbosstrand, Jan van Riebeeck, Brackenfell en DF Akademie het uiteindelik deurgedring na die finale rondte. Na verlede jaar se oorwinning deur ons vreeslose seunspan wat vir niks geskrik het nie, was die druk dus op ons DF-meisiespan om die titel te behou.
Vreesloos 2026 se finaal het op 25 en 26 September by Eduvos se kampus in Tygervallei plaasgevind. Vrydag het die tien graad 11-meisies hul 24-uur-uitdaging aangepak waartydens elke span in ’n motor vasgevang is sonder enige selfone. Slaap was ook natuurlik verbied met 10 punte wat afgetrek is vir die spanlid wat duidelik nog nooit ’n all-nighter kon regkry nie. Die res van DF kon darem buite die motor asemhaal en ondersteun.
Vrydag se uitdagings het sommer vroeg gewys dat Vreesloos sy naam verdien. Uitdagings waar die vrees behoorlik uitgestaan het, was die albaster-uitdaging waar een spanlid geblinddoek is en albasters uit ’n boks vol slange moes uitgrawe, want blykbaar is om geblinddoek te wees met ’n tydlimiet, net nie stresvol genoeg nie. Toe was daar die kakkerlakke-uitdaging waar een deelnemer kakkerlakke van die een kant van die verhoog na die ander kant moes vervoer deur slegs van hul mond gebruik te maak, wat sekerlik een van die min kere is waar jy nie jou proteïne-inname vir die dag wil bereik nie. Ten minste het Mila Scholz nou ’n goeie storie vir die volgende keer wat sy Two Truths and a Lie wil speel.
Terwyl ons meisiespan hul grootste vrese aangepak het, het DF se ondersteuners gewys dat ons nie verniet die geesbeker by DTBS gewen het nie. Van vroeg Vrydagmiddag tot tienuur die aand en weer Saterdag vroegoggend het DF se ondersteuners opgedaag om die span aan te moedig, met ons getalle wat aansienlik meer was as die kompetsie s’n. Selfs ons interhuis-dirigente het vars van Interhuis hul blou bloed kom wys deur die loop van die finaal.

Ons graad 11-Interhuis-dirigente hou die Vreesloos-gees hoog.
Saterdag het die uitdagings voortgegaan met onder andere ’n gedroogde beestong wat so vinnig as moontlik geëet moes word … selfs sekere mense in die gehoor moes omdraai tydens díe uitdaging. ’n Spin the Wheel-uitdaging was ook aanpak om ‘n drankie te maak wat Vreesloos se naam hoog sal hou met kombinasies soos vis, piesang, spinasie, Steri Stumpie en warm sous wat êrens op die spyskaart kon beland. DF het darem genadiglik met net spinasie, warm sous en piesang weggekom met Esther en Mila wat seker ongelooflik dankbaar was om nie die visagtige konkonsies van die ander spanne te drink nie.
Intussen was daar ook ’n ernstige legkaartkompetisie wat die hele 24 uur geduur het. Tien spanlede het mekaar elke uur afgewissel met DF se meisies wat uiteindelik dié kompetisie met ’n groot voorsprong teenoor die seunspanne gewen het.
Saam met die sosiale media- en die geeskompetisie het DF drie oorwinnings teen die einde van die finaal behaal, maar dit was ongelukkig nie genoeg om as die algehele Vreesloos 2026-wenskool gekroon te word nie. Hoёrskool Jan van Riebeeck se seunspan het die Vreesloos-kroon met slegs een punt verskil oorgeneem.
Agter die span se deelname was daar natuurlik ook baie harde werk. Ons is baie dankbaar vir juffrou Desfountain se moeite en entoesiasme deur die hele proses.
Die titel het dus nie vanjaar nie teruggekom na DF toe nie, maar ons tien meisies het beslis gewys dat hulle blou bloed nie sommer koud raak vir enige uitdaging nie. Mea Kachelhoffer se boodskap aan die potensiële deelnemers van Vreesloos 2027 is: “Vir die mense wat volgende jaar daaraan dink om vir Vreesloos in te skryf, doen dit! Dit was een ongelooflike ervaring en 100% ’n hoogtepunt van die jaar en ek sal dit oor en oor doen as ek die kans kry.” Nou is die bal in volgende jaar se graad 11’s en 12’s se hande om die Vreesloos-titel terug te bring na ons skool aan die suiderland.
“Doen dit VREESLOOS!” – Inge Langeveld
Hanler van Eck
Hanler is ‘n gr. 11-leerder wat onlangs ‘n liefde vir flieks ontdek het. Hy speel altyd Spoegwolf in die agtergrond as hy huiswerk doen of selfs wanneer hy na F1-wedrenne kyk.
