[Shylah Swart]
Om idees te vind vir opstelle is moeilik. Wiskunde-probleme is uitdagend. Op ’n Vrydagmiddag na skool, voel dinkwerk soos die moeilikste ding ooit. Kunsmatige intelligensie kan mos al hierdie dinge vir jou in ’n oogwink doen!
Dis vinnig, betroubaar en rig geen skade aan nie.
Slegs een van daardie stellings is korrek. KI is baie skadelik vir jou. Dit is al keer-op-keer biologies en wetenskaplik bewys.
KI verswak breinaktiwiteit. ’n Studie wat gedoen is in Junie 2025 deur Nataliya Kosmanya van MIT (Massachusetts Instituut van Tegnologie) in die VSA, bewys hoekom. In hierdie studie, is drie groepe mense bymekaar gemaak. Al drie groepe moes opstelle skryf. Die eerste groep het KI gebruik, die tweede groep het Google gebruik en die derde groep het net hulle brein gebruik. Reg deur die studie is almal se breinaktiwiteit waargeneem. Die KI-groep het die laagste breinaktiwiteit van die drie groepe getoon.
Na afloop van hulle opstelle, is die deelnemers gevra wat in die opstelle geskryf is. Die KI-groep het die meeste gesukkel om inligting oor hulle opstelle te onthou. As jy meer oor hierdie studie wil uitvind, kan jy brainonllm.com besoek, waar Kosmanya al haar bevindinge gepubliseer het.
KI verswak jou geheue en jou aktiewe herroepingsvermoeë. Aktiewe herroep – meer bekend as active recall – vind plaas wanneer jy iets probeer onthou en inligting in jou geheue soek. Hierdie moeite bou sterk verbindings tussen senuweeselle en skep nuwe senuweebane. Breinskanderings wys dat die gebruik van KI hierdie senuweebane met 50% laat daal in vergelyking met dié sonder die gebruik van KI.
Laastens, is KI sleg vir die omgewing. ’n Mens kan nie sonder ’n gesonde omgewing oorleef nie. KI-datasentrums gebruik ontsettend baie krag, wat verkry word van dieselfde netwerke as die woonbuurte rondom dit. Elke keer as jy vir KI ’n vraag instuur, word daardie vraag oorgedra na die naaste datasentrum waar daar groot rekenaarsisteme is wat jou vraag dan verwerk en ’n antwoord aan jou terug stuur. Datasentrums gebruik tussen 10 kilowatt en 100 megawatt krag. Vir konteks, jou yskas gebruik 1 tot 1.7 kW per dag. Datasentrums is baie skadelik vir die omliggende omgewing rondom dit, maar dit is al manier hoe KI kan werk.
Daar is al baie bespiegel oor die watergebruik van KI-datasentrums. Hierdie datasentrums het water nodig om die hardeware koel te hou omdat KI so baie energie verbruik om take uit te voer dat die masjiene dikwels oorverhit. Daardie water kom ongelukkig uit waternetwerke in die omliggende woonbuurte.
Die grootste guns wat jy dus vir jou jouself én die omgewing kan doen, is om jou eie brein te gebruik.
Shylah Swart
Shylah is op haar gelukkigste voor ‘n klavier, met ‘n kitaar in haar hande, op die punte van haar tone of agter haar rekenaar besig met jou volgende gunstellingartikel.
