[Angelina Smit]
Oukei, maar wie is sy? Ons praat natuurlik van DF se nuwe meisiegelukbringer. Nadat ons ons menings gedeel het oor hoe sy moet lyk, is ons nou by die laaste stappe: die maak van haar en die onthulling van die finale produk. Maar wat presies gaan haar rol wees? Dalk is sy die atletiese tipe of dalk blink sy eerder op akademiese gebied uit. Is sy dalk ons huidige seunsgelukbringer se meisie, beste vriendin of selfs sy suster?
In ’n onderhoud met juffrou Dorfling het die Herout meer uitgevind oor die nuwe meisiegelukbringer en haar rol by DF.
1. Hoekom het ons nog ’n gelukbringer gekry?
DF se ou mannetjie en vroutjie was dekades lank sinoniem met ons skool. Met hul humoristiese en energieke persoonlikhede het hulle DF se unieke skoolgees weerspieël – dié van ’n skool wat kreatiwiteit aanmoedig, buite die boks dink en dit geniet om dinge anders te doen. Ons sit dié tradisie voort.
2. Wat is die verhouding tussen die seuntjie en die dogtertjie wat bykom?
Net soos die meeste Dee-Effers wat hul beste maats hier by DF ontmoet en nie noodwendig in dieselfde laerskole was nie, het die DF-dude en DF-dudette mekaar hier leer ken. Hulle sien baie daarna uit om volgende jaar met al die Dee-Effers bevriend te raak.
3. Wat is die dogtertjie se persoonlikheid en eienskappe?
Haar opvallendste eienskap is dat sy vriendelik en verwelkomend is. Sy is ook ’n veelsydige leerling wat buiten haar groot liefde vir kultuur ook ’n entoesiastiese sportaanhanger is. Sy beskou almal in DF as haar gunstelingmense en hou daarvan om “onsies” (groepfoto’s) saam met Dee-Effers en besoekers te neem. Sy wil graag aan die einde van die jaar ’n oudisie doen om te kyk of sy in die skoolkoor kan sing en in die blaasorkes kan speel, maar haar en die nuwe DF-dude se program is lekker vol omdat hulle ook graag sommer aan al die ander kultuur- en sportaktiwiteite wil deelneem. Sy sou nogal graag ook wou kyk of sy vir die dogtersrugbyspan gekies kan word. Sy is nog onseker of sy slot of vleuel wil speel, maar Cheslin Kolbe is haar groot held!
4. Wat kan Juffrou ons van die vorige gelukbringers vertel? (die tweeling)
Die DF-mannetjie is in 1990 gemaak en die DF-vroutjie in 2003. Hulle skoolloopbaan is dus reeds heelwat langer as enige ander Dee-Effer s’n. DF was ook die eerste skool wat so ’n DF-karaktertjie (gelukbringer) gehad het. Die leerders het aanvanklik verskillende name vir die nuwe Dee-Effer voorgestel, maar die troetelname “DF-mannetjie” en “DF-vroutjie” is so algemeen gebruik dat dit sommer hulle noemname geword het. As ’n aanmoediger by MTBS (deesdae DTBS), was die DF-mannetjie en -vroutjie sonder gelyke. Op ’n warm dag, wanneer DF weet hulle moet ekstra energie insit om hul pawiljoen-kroon te behou, was dit dikwels dié twee karakters met hul kanniedood entoesiasme wat weer die leerders op die pawiljoen en veld nuwe moed en woema gegee het om die ekstra myl te gaan. Tydens een MTBS-byeenkoms het die mannetjie sommer ook sy atletiekvernuf by die verspringput gaan wys. Toe daar ook ’n Herout-onderhoud met die DF-mannetjie gevoer is, is hy gevra hoekom hy dit nie sommer as ’n sport beoefen nie, en hy antwoord toe: “Ek het daar eers besef ek is so goed, maar sal eerder wil breakdance.”

Ons nuwe meisiegelukbringer simboliseer ’n nuwe begin en die opwindende mylpale wat vir DF Akademie voorlê. Of dit nou by interskole of sportwedstryde is, sal die twee gelukbringers daar wees om ons skoolgees te versterk en ons trots te verteenwoordig. Hou dus jou oë oop en maak seker jy mis hulle nie. Wie weet, dalk maak die nuwe duo binnekort geskiedenis by DF Akademie.
Angelina Smit
Angelina is ’n graad 8-leerder wat te veel oor flieks en musiek praat. Jy sal haar meestal vir nonsens sien lag en as sy kon, sou sy seker elke dag sushi wou eet.
