Interhuis – meer as net die bekers

[Ella Smit]

Hoogspring, verspring, hol en wen, wie gaan al die bekers wen? 

Skroeiende hitte, poele sweet, groot spanning en hoë verwagtings – Interhuis 2026 het dit en vele meer vir DF ingehou. Die Herout het met die spanne se dirigente gesels om hulle eerstehandse ervaring te hoor.

Wat was die kosbaarste oomblik wat jy op hierdie avontuur met jou mededirigente gedeel het?

Kristie Basson, graad 11-leerder en dirigent van Solaris, vertel:

Daar is nie eintlik net een kosbare oomblik wat ek kan uitkies nie. Ek sou sê een van hulle was die aand voor interhuis. Ons dirigente het almal na Mila Scholtz se huis toe gegaan, en ons het daar pizza geëet, speletjies gespeel − soos pool en 30 seconds − en musiek geluister … dit was baie pret. Ons het almal so lekker gesels en mekaar beter leer ken toe ons die baniere geverf het. Die terapeutiese ervaring van verf tesame met die mal stories wat almal vertel het, was baie spesiaal. 

Op ’n stadium het ons in meneer Burger se klas gaan oefen, maar ons moes stil wees, want dit was ’n toetssessie. Toe kyk ons by die venster uit en sien Artius oefen op die netbalbane en kon toe video’s van hulle neem.

Wat het  jou die meeste verras as dirigent by interhuis die jaar?

Hanler Van Eck, graad 11-leerder en ’n dirigent van Solaris, vertel:

Ek voel wanneer jy van buite af kyk na die dirigente en die hele proses, besef ’n mens nie die hoeveelheid harde werk en ure wat daar ingaan nie. Ek het nie gedink dat my lewe van die oomblik wat ek as ’n dirigent verkies is, vir daardie volgende drie tot vier weke oorgeneem gaan word deur dirigentskap nie. Dit het gevoel asof ek elke dag ‘n verpligting gehad het na skool. Ek het nie die hoeveelheid werk verwag nie … so dit het my nogal verras. Ek het tog elke oomblik geniet, gekoester en waardeer. Op die interhuisdag self, het ek myself ook verras. Ek is ’n introvert, al is ek passievol oor dinge en veral oor DF se gees. Dit was nogtans nie vir my baie maklik om dit te doen nie, veral nie voor mense waar jy in ’n blootgestelde posisie geplaas word nie. Dit was vir my verskriklik lekker – ek wil nog steeds daar wees en voor saam met al daardie mense geesvang.

Wat was jou gunstelingdeel van jou huis se medley?

Jurgen Steyn, graad 10-leerder en dromspeler van Artius, vertel:

My gunstelingdeel is seker die einde:

“(saxophone intro) bust down, got my foot up on the gas but somebody got to do it like

(seuns:) dom, dirom dom, dirom dom dom ×3

(meisies:) turn the music on, turn the music on *klap klap* ×3

(almal:) turn the music on!”

Jurgen beskryf die tema as baie vibey.

Beskryf vir my die oomblik wat julle gehoor het dat Artrius alles gewen het.

Christopher Brink, graad 11-leerder en dirigent van Artius, vertel:

Op daardie oomblik was ek gevul met groot blydskap en vreugde. Ek het gesien hoe ons beloon word vir al die harde werk wat ons vir weke voor interhuis ingesit het. Al die oefeninge en moeite het ewe skielik die moeite werd gelyk. Om saam as ’n span waar almal vriende is, vir mekaar drukkies te kon gee van blydskap en albei die trofees te kon lig, is ’n oomblik in my hoërskoolloopbaan wat ek nooit sal vergeet nie.

Wat was jou gunstelingdeel van die hele ervaring?

Janay Mouton, graad 11-leerder en dirigent van Proteus, vertel:

My gunstelingdeel was die dag self, die inry en alles. Veral om net te kon geesvang die hele dag – dit was natuurlik my gunstelingdeel. Ook net om te sien hoe al die kinders opkyk na ons, was veral vir my baie spesiaal. Dit was so oulik hoe hulle na my toe sou kom en vrae vra – dit was net vir my so oulik. Dit was vir my ook lekker om saam met die hele span te werk, al was daar soms hiccups tussenin. Op die ou einde het ons almal regtig lekker as ’n span saamgewerk.

Wat was vir jou die moeilikste en beste deel van hierdie hele avontuur?

Justin van Rensburg, graad 11-leerder en dirigent van Proteus, vertel:

Die moeilikste deel as dirigent is om die kinders te beheer. As hulle nie wil sing of probeer nie, kan ons niks meer doen as om vir hulle te vra nie. Dit was ook moeilik om alles te gee as ’n dirigent wanneer net die helfde van jou huis op die pawiljoen sit, aangesien baie mense by die huis gebly het. 

Die beste oomblik vir my was gedurende elke medley wanneer ek net kon skree en geesvang saam met my mede-Dee–Effers. Dit was ook lekker om ’n medley suksesvol klaar te maak en baie moeg te voel daarna.

Hoogspring, verspring, hol en wen, Artius het al die bekers gewen!

Ella Smit

Ella Smit is in graad 10. Sy hou van lees, kuier, tuinwerk, teken en baie, baie gesels. Sy stel baie belang in sosiale kwessies, politiek en geskiedenis.