[Shylah Swart]
“Moenie toelaat dat iemand jou verby jou breekpunt dryf nie. Jy is die enigste een wat jou grense ken.” – Alysa Liu

Tydens 2026 se Milano Cortina Olimpiese Spele, was Alysa Liu die naam op almal se lippe. Met blonde en bruin strepe in haar hare en ’n lyfprieming van ‘n gesiggie wat glimlag wat sy met trots gewys het, was sy onmoontlik om mis te kyk. Dit het ook gehelp dat so baie mense betower is deur haar manier van dink.
Alysa het op die ouderdom van twee aan kompetisies begin deelneem. Teen 13 was sy die jongste vrou om ’n VSA-kampioenskap (Verenigde State van Amerika) te wen. Liu is van die begin af ’n onstuitbare krag waarmee nie gestry kan word nie.
Toe kom 2022. Alysa is nou 16 jaar oud en sy besef dat sy haarself lelik in die voet geskiet het. Met afrigters wat onmenslike ure verwag en voorskryf wat sy mag eet, het sy besluit dat sy genoeg gehad het. Sy wou ’n normale tienerlewe ervaar, universiteit toe gaan en tyd saam met vriende en familie spandeer.
“Ek het uitgevind waarvan ek hou en waarvan nie. Ek het myself werklik leer ken, want toe ek geskaats het, het ek myself nie werklik geken nie. Ek kon myself nie leer ken nie. Ek het net altyd een ding gedoen,” beweer sy rakende haar aftrede in ’n onderhoud met Rolling Stone.
Na haar lang blaaskans, het Liu vir ontspanning weer die ys aangedurf en haar liefde vir ysskaats herontdek. Liu se jarelange afrigter, Philip DiGuglielmo, was verstom toe sy hom inlig dat sy weer wil kompeteer en het haar selfs probeer ontmoedig. Liu het al sy bekommernisse ter harte geneem, maar hom verseker dat sy op haar eie terme gaan terugkeer: Sy gaan haar eie musiek kies, haar eie ure bepaal en niemand gaan vir haar sê wat om te eet nie. Dit sou die begin van haar historiese loopbaan beteken.
Alysa het toe kompetisies begin wen en besluit dat sy aan 2026 se Milano Cortina Winter Olimpiese Spele wil deelneem.
Liu beweer dat, maak nie saak of jy wen of verloor nie, jy iets uit elke ervaring leer. Sy is versot op die genot wat ysskaats vir haar bring en ag wen nie as ’n prioriteit nie.
“Ek hou eintlik van sukkel. Dit laat my lewendig voel,” deel Alysa in ’n onderhoud met 60 Minutes. Vir haar is die proses van probeer, omval en weer probeer dit wat haar aan die gang hou.
Hierdie denkwyse het daartoe gelei dat Alysa Liu die eerste goue medalje vir Amerika in haar afdeling sou wen in 24 jaar. Alysa se storie bewys dat ‘n mens partykeer ‘n blaaskans moet neem om sterker as ooit tevore terug te keer en dat jy nooit iets moet doen waarvoor jy nie lief is nie.
Shylah Swart
Shylah is op haar gelukkigste voor ‘n klavier, met ‘n kitaar in haar hande, op die punte van haar tone of agter haar rekenaar besig met jou volgende gunstelingartikel.
