’n Goeie buurman is beter as ’n verre vriend

[Annika van Zyl]

In voeër jare was ’n leë suikerpot die perfekte verskoning om ’n doodgewone heining in die lekkerste ontmoetingsplek te verander. Die suiker was egter ’n bysaak. Oor daardie heining is nuus, raad en bemoedigende woorde gedeel. Die hele middag is versoet.

Vandag is ons heinings egter hoër en ons lewens meer afgesonder. Ons weet presies wat ’n vreemdeling in New York vir ontbyt geëet het, maar ons stap verby die buurman sonder om sy naam te ken. Dan onthou ek die ou Afrikaanse gesegde: “’n Goeie buurman is beter as ’n verre vriend.”

Ek glo dit is tyd dat ons die verlore kuns om ons bure te leer ken, herontdek.

Nabyheid as beskerming

Eerstens verander goeie buurmanskap fisieke nabyheid in daadwerklike beskerming.

In Suid-Afrika bestee ons tyd, energie en kapitaal aan die argitektuur van vrees: kameras, bewegingsensors, veiligheidstrale en elektriese heinings. Tog kan geen tegnologie die waaksaamheid vervang van iemand wat jou en jou roetine ken nie. ’n Kamera neem ’n indringer bloot af; ’n buurman merk op dat die vreemde motor in jou oprit nie daar hoort nie.

Daar is ’n noemenswaardige verskil tussen sien en waarneem. Daardie verskil lê in bekendheid. Die vriend dertig kilometer verder gee dalk baie om, maar dit is die buurman dertig meter weg wat die rook ruik of jou oop motorhuisdeur raaksien.

Empatie bo konflik

Tweedens keer goeie buurmanskap dat alledaagse irritasies in onnodige konflik ontaard.

Die filosoof Arthur Schopenhauer verduidelik dit op ’n treffende wyse met sy bekende krimpvarkie-penarie. Op ’n ysige wintersnag kruip ’n groep krimpvarkies nader aan mekaar vir warmte. Maar hoe nader hulle beweeg, hoe meer steek hul penne mekaar. Hulle beweeg uitmekaar, net vir die koue om hulle weer nader te dwing. Uiteindelik vind hulle die regte afstand: naby genoeg vir warmte, maar ver genoeg om mekaar nie seer te maak nie.

Met bure werk dit net so. Waar mense naby mekaar leef, gaan daar noodwendig ’n paar penne steek: die blaffende hond, die boomtak oor die muur of die grassnyer vroeg Saterdagoggend. Wanneer ’n vreemdeling harde musiek speel, dink ons maklik: Hoe onbedagsaam! Maar as jy weet jou buurman vier sy dogter se matriekprestasie, verander dit nie die geraas nie, maar wel jou begrip.

In die sielkunde staan hierdie neiging bekend as die fundamentele toeskrywingsfout: Ons oordeel maklik iemand se karakter voordat ons hul omstandighede of bedoeling verstaan. Wanneer jy die persoon ken, vertaan jy makliker die bedoeling.

 Die lewenskrag van verbondenheid

Laastens strek die sterkste argument veel verder as mure, veiligheid of sportwedstryde, dit raak aan ons welstand en lewenskwaliteit.

Op die Italiaanse eiland van Sardinië het navorsers, onder andere dr. Gianni Pes, gemeenskappe bestudeer waar ’n besondere aantal inwoners ouer as ’n honderd jaar word. Dieet, oefening en genetika speel ’n rol, maar iets anders is ook opvallend. Dit is die kwaliteit van interaksie met familie, vriende en bure. Veral ouer mense bly deel van die gemeenskap en het gereeld kontak met die mense om hulle. 

Ons leef vandag anders. Byna alles kan met die druk van ’n knoppie bestel, betaal of gereël word. Dit maak die lewe dalk minder ingewikkeld.  Die gevaar is egter hoe minder ons mekaar nodig het, hoe makliker vergeet ons dat ons mekaar steeds nodig het.

Ware buurmanskap neem in aanvang wanneer ons mekaar ken, mekaar se grense respekteer en na mekaar omsien.

Schopenhauer se krimpvarkie-penarie herinner ons dat ons almal maar ons penne het. Die antwoord is nie hoër heinings en groter afstand nie, maar om naby genoeg te wees om mekaar te ken en ver genoeg om mekaar se grense te respekteer.

Dit is tyd om weer daardie koppie suiker oor die heining aan te gee. Nie bloot omdat ons suikerpot leeg is nie, maar omdat die ruimte tussen ons al hoe groter geword het.

“’n Goeie buurman is beter as ’n verre vriend.”

Kom ons maak dus weer van die heining ’n ontmoetingsplek eerder as ’n skeidslyn en herontdek die kuns om ons bure te leer ken.

Annika van Zyl

Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 11, DF Akademie is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.