Lewenslesse van ‘n graad 8’ie

[Daniella Smith]

Voordat ons ons oë kon uitvee, is die graad 8’s se eerste jaar in DF Akademie amper iets van die verlede. Graad 8 was beslis ’n jaar vol nuwe ervarings, uitdagings en lesse. 

Toe ek aan die begin van die jaar by die skool se hekke ingestap het, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Ek is seker die meeste graad 8’s het baie geleer in die jaar wat verby is – en nie net in die wiskunde- of natuurwetenskapklas nie.

Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het, is hoe noodsaaklik dit is om jou met goeie vriende te omring. Daar is baie uitdagings in die hoërskool en dit help as jy die ondersteuning van ten minste een of twee vriende het waarop jy altyd kan staatmaak, maak nie saak wat nie.

Nog iets wat ek geleer het, is om nie in jou gemaksone te bly nie. Daar is vreeslik baie nuwe geleenthede in DF en jy moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie. Skryf in en neem deel aan die nuwe aktiwiteite en wie weet, dalk is daar iets wat jy eintlik baie geniet.

Ek moes ook gou leer dat dit baie belangrik is om verantwoordelikheid te neem. Daar is meer huiswerk, take en toetse, en jy moet leer om jou tyd goed te bestuur. Moenie altyd alles tot op die laaste minuut uitstel en hoop jy gaan steeds goed presteer nie. Probeer om vroeg genoeg te begin leer vir jou toetse of te begin werk aan jou take.

Nog iets wat ek besef het, is dat tyd baie vinnig verbygaan. Dit voel asof ons net nou die dag vir die eerste keer by die skool se hekke ingestap het en nou is ons graad 8-jaar al amper verby. Daar was soveel groot gebeurtenisse, maar ek het ook weer besef hoe kosbaar die klein oomblikke tussenin is.

Graad 8 het dus vir my reeds baie meer geleer as net skoolwerk. Baie herinneringe is al gemaak. Ek sien uit na wat nog ’n jaar van hoërskool my gaan leer en al die opwindende nuwe uitdagings wat vir my voorlê.

Daniella Smith

Daniella is ‘n graad 8-leerder wat baie daarvan hou om vir haar en haar gesin lekkernye te bak. Sy het ook ‘n groot passie vir dans.